Maria Magdalena (Deel 3)

MARIA MAGDALENA– DEEL 3

Skriftuur: Johannes 11:4

In ons vorige preek het ons Marai Magdalena by Jesus se voete gesien. Fariseërs het haar daarheen gesleep en wou hê dat sy gestenig moes word.

Jesus het haar beskuldigers op ‘n baie taktvolle manier bestraf. Hy het hulle sondes op die sand geskryf en toe hulle dit lees, het hulle een vir een gemaak dat hulle wegkom.

Jesus het Maria Magdalena vergewe, haar opgehef en haar aangespoor om nie weer te sondig nie.

‘n Mens wonder wat alles deur haar gedagtes gemaal het toe sy terugstap na Betanië toe.

Om te dink dat Jesus haar na soveel struikelinge weer ‘n keer ‘n kans gegee het. Dis ongelooflik. Sy het op haarself opgegee, maar Jesus hetnie.

VOLKOME OORWINNING

Wanneer ons die verhaal van Maria Magdalena bestudeer, maak ons ‘n baie interessante ontdekking. Dit was haar laaste val!

Die woorde van Jesus: “Gaan heen en sondig nie meer nie” het ‘n werklikheid in haar lewe geword.

In ‘n sekere sin was Maria altyd klaar met mans. Haar swakste karaktertrek het haar sterkste karaktertrek geword.

LASARUS SE SIEKTE

Marta en Lasarus kon die verskil in hulle suster se lewe afterkom. Sy het opgehou om die Grieks en Romeinse liefdesverhale by die biblioteek uit te neem. Sy het net uit die Bybel en die Koning van die Eeue gelees.

Die mans wat haar wou uitneem het later moed opgegee. Die woorde van Jesus het in Maria se kop bly maal:

“Gaan heen en sondig nie meer nie.”

ROEP DIE DOKTER

Een middag nadat Lasarus van die werk afgekom het, het Maria agtergekom dat daar groot fout met haar broer was.

“Marta, Marta. Lasarus is besig om ‘n vreeslike koors te ontwikkel. Roep dadelike die dokter.”

Dit het nie vir Marta baie lank geneem om ‘n dokter in die hande te kry.

Sy behandeling het nie gehelp nie en Marta en Maria het toe begin om al die ander boere rate te probeer wat hulle geken het. Dit het ook nie gehelp.

Johannes 11:1 ‘n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het.

LASARUS

Die Bybel sê nie vir ons of hy ‘n oujongkêrel, ‘n wewenaar of ‘n getroude man was nie. Dit maak ook eintlik nie saak nie. Wat wel saak maak is die feit dat hierdie man en Jesus bymekaar uitgekom het. Dis die heel belangrigste ontmoeting in hierdie lewe.

Die naam Lasarus beteken “Die een wat deur God gehelp is.”

In ‘n sekere sin is elkeen van ons ‘n Lasarus want ons word almal deur die Here gehelp.

Die grootste ramp wat die mens kan tref, is die ramp van die dood. Die grootste geskenk wat die Here ons kan gee, is om ons deur die opstanding uit die greep van hierdie wrede vyand te verlos.

In hierdie reeks gaan ons sien hoe Jesus sy vriend uit die greep van die dood verlos.

Die wonderbaarlike historiese opwekking van Lasarus uit die dood, gaan binnekort ook die ondervinding van al die ontslape Lasarusse wees wat met Jesus vriende was.

GASVRYHEID

Hierdie drie interessante, eienaardige mense het vir Jesus iets gebied wat Hy ontsettend nodig gehad het. Hulle het Hom gasvryheid gebied.

Die volgende grepie uit die boek, “Die Koning van die Eeue” bld. 470 stel dit so mooi:

In Lasarus se huis het Jesus dikwels rus gevind. Die Heiland het self geen tuiste gehad nie; Hy was afhanklik van die gasvryheid van Sy vriende en dissipels, en dikwels wanneer Hy moeg was en na vriendskap verlang het, het hy hom graag na hierdie vreedsame huisie onttrek, weg van die agterdog en jaloesie van die bose Fariseërs af.

Toe ek hierdie stukkie gelees het, het ek Jesus sommer nog ‘n bietjie meer lief gekry. Alhoewel Hy ten volle God was, was Hy ook tenvolle mens met ‘n behoefte aan ‘n bietjie bederf en ‘n bietjie begrip.

Jesus wou ook met kere net Homself wees. Miskien het Hy met kere sommer ‘n bietjie by Sy vriende kom sit en huil.

Die dissipels wat elke dag saam met Hom gewerk het, het Hom nie altyd so mooi verstaan en so opreg waardeer soos Hy verdien het nie.

Maar wanneer Hy by Marta, Maria en Lasarus kom kuier het, het Hy daardie warm opregte vriendskap geniet waarna Sy hart gesmag het.

Wanneer Hy vir die skares gepreek het, was daar gedurigdeur ‘n klomp Fariseërs wat vir Jesus in ‘n strik wou lei. Hy moes gedurig in Sy passoppens wees.

Dit het Hom geestelik uitgeput.

Maar by hierdie ou huisie in Betanië kon Hy ontspanne en ongehinderd oor die ewige dinge gesels. En Jesus het geweet Sy woorde sou begryp en waardeer word.

Dit was nie in hierdie huis vir Jesus nodig om die hemelse waarhede in gelykenisse te vertel nie. Hierdie mense het Sy woorde ingedrink en nie probeer om Hom in ‘n strik te lei nie.

Maar toe tref ‘n ramp hulle.

Johannes 11:2,3 Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.”

Daar is vier woorde in Grieks wat liefde beskryf. Die woord wat Johannes hier gebrui, fileou, dui op ‘n warm emosionele liefde.

Sekere mense kan jy net met jou rede liefhê. Jy moet konsentreer om hulle hoflik te behandel, al voel jy nie so nie.

Ander mense kan jy net nie help om lief te hê nie. Dit kom sommer spontaan. Jy het die persoon sommer van die begin af lief. Dis hoe Jesus teenoor hierdie drie mense gevoel het.

Nou het daar ‘n bekommerde hartseer by hulle harte en hulle huise in Betanië ingetrek.

Lasarus het net meer en meer agteruitgegaan. Hulle kon net nie sy koors afkry nie. Later wou hy nie eers eet nie.

“Maria,” sê Marta een oggend toe hulle broer baie sleg lyk, “kom ons stuur ‘n dringende boodskap na Jesus en vertel Hom van boetie Lasarus.”

Johannes 11:3 Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.”

Die boodskapper neem die pad na Jerigo, steek die Jordaanrivier oor en kom uiteindelik by Jesus aan.

“Rabbi. Ek het ‘n boodskap van Marta en Maria van Betanië. Hulle het laat weet dat U vriend Lasarus vir wie u baie lief is, U groot maat, is baie siek. Hulle weet nie of hy gaan leef nie.”

Sowel die boodskapper as die dissipels het gedink dat Jesus bekommerd moes lyk. Hulle het gedink dat Hy net daar en dan planne sou maak om by sy vriend Lasarus uit te kom.

Skynbaar gevoelloos het Jesus begin praat:

Johannes 11:4 Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

Is dit waar wat Jesus hier sê dat Lasarus se siekte nie op die dood sou uitloop nie?

Het Lasarus gesterf? Ja! Waarom het Jesus hierdie feit geignoreer?

Jesus laat nie die klem op die dood val nie, maar op die lewe.

LES

Is hier ‘n les wat ons kan leer? Waar val ons klem? Op die donker van siekte en dood of op die heerlikheid van die toekomstige opstanding?

My Pa en Ma het vir my baie kosbare lesse geleer toe hulle nog geleef het. Die woorde van een van hierdie lesse is nog steeds in my gedagtes.

“My kind. Hou jou probleem so klein as moontlik.”

Toe die boodskapper van Betanië by Jesus aankom en vertel dat Lasarus ernstig siek is, het Jesus vir hom gesê dis nie die einde van die wêreld nie.

Jesus neem die grootste ramp wat ‘n mens kan tref, nl. die dood en Hy sê dit gaan op die openbaring van die mag van God uitloop.

Luister hoe mooi stel Paulus dit:

2 Korintiërs 4:16,17 Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

Wat ‘n heerlike vertroosting. Die swaarkry gaan verby Maar dis nie al nie. Die swaarkry gaan eendag op ‘n heerlikheid uitloop wat vir ewig gaan bly.

In die volgende teks spoor Paulus ons aan om op die regte plek te konsentreer. Kom ons lees dit:

Vers 18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Kom ons neem ons oog weg van die depressiewe dinge van die lewe en kom ons kyk na die dinge wat ons fisiese oog nie kan sien nie.

Kom ons kyk met ons verbeeldingsoog verby melkweë. Kom ons kyk totdat ons die nuwe Jerusalem met Jesus daarin kan sien.

Kom ons onthou Jesus se woorde:

Johannes 11:4 “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word

Die Here wil elke ramp wat ons tref in iets moois verander.

Nehemia 13:2 sê dat Hy die vloek in ‘n seën kan verander.

Kom ons lees verder:

Johannes 11:5,6 Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar hy was.

PEREA

Die gebied waar Jesus destyds gewerk het, was Perea genoem. In vandag se taal praat ons van Jordanië. Dit was ook in hierdie omgewing dat Johannes die Doper gepreek het, en waar hy onthoof is.

Miskien het die dissipels ‘n bietjie oor Jesus se optrede gewonder. Hy het toegelaat dat Johannes onthoof word en nou lyk dit of Hy nie juis omgee dat Lasarus doodgaan nie.

Lyk dit vir jou met tye of Jesus nie omgee nie? Die bybelse verhaal van die opwekking van Lasarus sê vir ons dat Jesus wel omgee.

DIE BOODSKAPPER

‘n Teleurgestelde boodskapper stap die ongeveer 40 kilometers terug na Betanië. Hoe sal hy hierdie eienaardige boodskap van Jesus aan die twee bekommerde susters oordra.

Miskien is dit Marta wat eerste begin praat het toe die boodskapper daar aankom:

“Maar waar is Jesus? Hoekom het jy Hom nie saamgebring nie. Lasarus se koors het weer die hoogte ingeskiet!”

En toe vertel die boodskapper wat Jesus gesê het:

Johannes 11:4 Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die oppenbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.

“Ag dankie tog,” sê Maria. “Ek het gedink ons gaan boetie Lasarus verloor. Maar as Jesus sê dit gaan nie gebeur nie, dan glo ek Lasarus gaan gesond word.”

DIE SKOK

Miskien het hulle met die baie siek Lasarus gaan praat. “Jesus sê jy sal nie sterf nie. Hou moed boetie, more voel jy beter.”

Maar Lasarus het nie beter geword nie. Lasarus het gesterf.

Die susters was platgeslaan. Wat nou van die boodskap van Jesus dat hulle broer nie sou sterf nie?

Miskien het hulle die boodskapper geroep om weer presies vir hulle te vertel wat Jesus gesê het.

Miskien het die boodskapper hulle aan die laaste gedeelte van Jesus se boodskap herinner dat die siekte sou uitloop op:

Johannes 11:4 Die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.

DIE BEGRAFNIS

Dit moes ‘n taamlike groot begrafnis gewees het want Lasarus was ‘n baie gewilde man. Dis nie net mense van Betanië wat die laaste eer kom bewys het nie, daar was ook mense van Jerusalem.

Dit was ook die gebruik dat mense gehuur was om op begrafnisse te kom huil. Dit was iets vreesliks. Hoe meer hulle gehuil het, hoe meer het die familie en vriende gehuil.

OP PAD NA LASARUS

Johannes 11:6,7 Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”

Eers het die dissipels gewonder waarom Jesus nie dadelik Sy vriend Lasarus gaan help het nie, maar nou was hulle bang om na Judea toe te gaan.

Vers 8-10 Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?” Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in ‘n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.”

‘n Rukkie van te vore het Jesus vir die Jode in Jerusalem gesê dat Hy en die Vader een is. Hulle was so woedend oor hierdie waarheid dat hulle Hom wou stenig. Johannes 10:30.

Hierdie insident het die dissipels se senuwees klaargemaak. Hulle kon hulle ore nie glo toe Jesus sê Hy gaan weer terug nie.

Maar hulle Meester was nie ‘n lafaard nie. Geen probleem sou Hom van Sy taak weerhou nie.

Gelukkig was daar nog so ‘n bietjie daglig in Jesus se lewe oor. Hy wou Sy laaste bietjie lewenslig op Sy die gestorwe vriend Lasarus gaan laat skyn.

NIKS TE MOEILIK VIR JESUS NIE

Dit mag wees dat jou probleem vir jou onoplosbaar skyn te wees. Ek het goeie nuus vir jou. Die Jesus wat Marta en Maria se probleem opgelos het, is vanoggend hier om jou en my se probleem op te los.

Verse 3,4 Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.” Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

Kom ons bid die Here om ons help om verby die dood, na die opstanding te kyk. Om verby die rampe in ons lewens na die uiteindelike openbaring van God se heerlikheid te kyk.

Was this article helpful?

Related Articles