Maria Magdalena (Deel 4)

MARIA MAGDALENA DEEL 4

Skriftuur: Johannes 11:25

Jesus en Sy dissipels was in Perea, die huidige Jordanië, toe Hy van Lasarus se siekte gehoor het. Aan die een kant wou Sy dissipels hê dat Hy dadelik vir Lasarus moes gaan gesond maak.

Aan die ander kant was hulle baie bang dat die Jerusalem Jode hulle saam met Jesus sou doodmaak. Hulle Meester gee toe vir hulle die versekering dat die 12 ure van Sy werksdag nog nie verstryk is nie.

Hy verduidelik dat Hy gelukkig nog ‘n bietjie lewensdaglig oor het om die mensdom met die strale van Sy liefde en genesing te baai.

Johannes 11:9-11 Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in ‘n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.” Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

Baie keer sê die Here een ding en ons verstaan heeltemaal iets anders. Ons weet vandag wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat Lasarus slaap en dat Hy hom gaan wakker maak. Hy het na Sy vriend se dood verwys.

Maar die dissipels het dit nie so verstaan nie. Luister na hulle reaksie:

Verse 12,13 Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap.

Dis baie belangrik om te verstaan wat die Here bedoel wanneer Hy iets vir ons sê. Ons vertolk gewoonlik Sy woorde vanuit ons eie beperkte verwysingsraamwerk.

Dis nodig dat ons Jesus se woorde ook vanuit ‘n hemelse, ‘n goddelike perspektief moet probeer begryp.

Jesaja 55:8 “Want my gedagtes is nie julle gedagte nie, en julle weë is nie my weë nie.”

Ek is so dankbaar dat die Here anders dink as ek. My gedagtes kan deur selfsugtig besoedeld raak. Sy gedagtes is altyd rein en onselfsugtig.

Die gedagtes wat Hy teenoor jou en my koester, is gedagtes van geestelike voorspoed. Hy bedink uitsluitlik gedagtes wat net tot my beswil strek. Dis onstpannend om Hom met elke faset van ons lewe te vertrou.

Die “Lewende Woord” vertaal Jesaja 55:8,9 as volg:

8Want die Here sê: “Ek dink nie soos julle dink nie, en Ek doen dinge heeltemal anders as julle. 9Net soos die hemel oneindig hoog bokant die aarde is, is my gedagtes en my manier van dinge doen ook heeltemal anders as julle s’n.”

Het jy al vrede gemaak met die wyse waarop die Here met jou praat en met jou te werk gaan?

JESUS EN SY DISSIPELS

Jesus het so mooi taktvol met Sy dom dissipels gewerk. Stelselmatig het Hy hulle vir die grootste werk ooit voorberei. Wat was daardie werk? Om God se karakter deur spraak en gedrag aan die wêreld te openbaar.

Kom ons luister verder na Jesus se gesprek met die dissipels:

Johannes 11:12 Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” 13 Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. 14 Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, 15 en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”

Ons sal Jesus se boodskap aan ons duideliker verstaan namate ons langer en langer in Sy geselskap deurbring. Ons moenie vinnig bid nie. Ons moet lang gesprekke met die Here voer.

Praat met Hom oor die onregverdigheid van hierdie lewe. Vertel Hom presies wat jou ontstel. Vertel Hom hoe kwaad jy is.

Die Here laat ons toe om met Hom oor die dinge te praat wat ons wil bitter maak. Dis die beste manier om van ons wroeginge ontslae te raak. Wanneer ek so met die Here worstel, kom daar gewoonlik sober gedagtes by my op.
Soos byvoorbeeld:
“Wie dink jy is jy nou eintlik dat jy onregverdige behandeling wil vryspring.? Dink jy miskien die Here moet in jou geval ‘n uitsondering maak? Jy is verwaand.”

Wanneer ek in gebed met die Here worstel, raps Hy my omdat ek traag is om myself te verloën en my kruis op te neem.

Wanneer ek dink ek moet die wenner in sekere situasies wees, herinner Hy my aan ‘n baie moeilike iets. Hy sê vir my dat as ek my lewe wil behou, moet ek dit verloor.

En as ek my lewe wil wen, gaan ek dit verloor.

POGINGS OM JESUS TE STENIG

Kom ons keer terug na die dissipels wat met skok verneem dat Lasarus dood is. Hulle dink aan die aangename besoeke wat hulle saam met die Meester by hierdie gasvrye inwoner van Betanië afgelê het.

Hulle bespeur ‘n hartseer by Jesus. Hulle verstaan waarom Hy na Betanië wou gaan. Miskien wou Hy die susters gaan troos of miskien wou Hy gaan kyk waar Lasarus begrawe is.

Maar hulle dink dat Jesus ‘n bietjie onverantwoordelik optree. ‘n Klein rukkie vantevore wou die Jode van Jerusalem vir Jesus met klippe doodgooi.

Kom ons hoor wat gebeur het:

Johannes 10:29-31 Die wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig.

Tomas herroep daardie vreesaanjaende oomblik toe die verwoede Jode na klippe begin gryp. Dis die naaste wat hy nog aan die dood was.

Hy kan nie glo dat Jesus weer ‘n keer wil teruggaan, en weer ‘n keer in die kake van die dood wil instap nie.

Johannes 11:16 Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

“Kêrels” sê Tomas. “Wat Jesus nou wil doen, is moeilikheid soek. Dis nie te sê dat omdat Hy die vorige kere kon wegkom, Hy dit hierdie keer gaan regkry nie.”

Johannes 10:39,40 Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip. Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly.

Die dissipels herroep die gebeurtenis toe die verwoede klomp mense soos roofdiere op Jesus afstorm. Hy het dit net net gemaak om weg te kom.

Johannes 10:39 Hulle wou Hom toe weer gevange neem.

Wat impliseer die woordjie “Weer”? Dit sê vir ons dat die Jode voorheen ook probeer het om Jesus gevange te neem en Hom dood te maak.

VOORTDURENDE POGINGS OM JESUS OM DIE LEWE TE BRING

Kom ons lees daaroor:

Johannes 7:30 Hulle wou Hom toe gevange neem…

Johannes 7:32 Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem.

Johannes 7:44 Party van hulle wou Hom gevange neem…

Dieselfde gedagte kom ook in Johannes 8:20 voor.

Johannes 8:59 Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee te gooi…

Dis vreeslik! Arme Jesus. Die Jode wou Hom kort-kort met klippe doodgooi. Die dissipels se senuwees was gedaan. Jy kan hulle nie verkwalik as hulle elke keer net die ergste verwag het nie.

Teen hierdie klipgooi agtergrond kan ‘n mens Tomas se besorgdheid beter verstaan:

Johannes 11:16 Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom gaan sterwe.”

KLASSIEKE KONDISIONERING

Ons het hier ‘n tipiese geval van klassieke kondisionering. Elke keer wanneer die dissipels kwaaierige, foutfinderige Jode gesien het, het hulle ‘n klipgooiery verwag. Hulle was nou moeg vir hierdie storie.

Jesus roep dissipels om Hom selfs in doodsgevaar te volg. Dis nie maklik nie maar dis wat Hy van ons verwag.

JESUS SE OMGEE VIR MENSE

Wanneer ek Jesus se verhaal in die Nuwe Testament lees, besef ek hoe intens Hy vir mense omgee.

Klippe, beledigings, verwerping, doodsdreigemente en selfs die kruisdood kon hom nie verhoed om sondaars soos ek en jy te kom opsoek en red nie.

Hy waag Sy lewe om vir Maria Magdalena oor haar broer Lasarus se dood te gaan troos. En wie was Maria Magdalena tog nou eintlik? ‘n Sondares by uitstek.

VIER DAE NA LASARUS SE DOOD

Daar is tye wanneer ons baie haastig is dat die Here ons gebede moet beantwoord. Ons kan nie verstaan waarom Hy soms so lank vat om te doen wat ons Hom vra nie.

Die opwekking van Lasarus verduidelik waarom Jesus nie altyd oombliklik op ons noodkreet reageer nie.

Johannes 11:17-19 Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.

Dis so ‘n bietjie aan die laat kant om nou eers by Betanië aan te kom. As Jesus tydens Lasarus se siekte daar kon wees, sou Hy nog iets aan die saak kon doen, maar nie nou nie. So het die mense gedink.

Die rede waarom Jesus so lank gevat het om by Betanië uit te kom, was omdat Hy mense langs die pad genees en bemoedig het.

Jesus se bemoeienis met irriterende, lelike, stukkende mense het dikwels Sy pas bepaal. Hy verlang dat dieselfde mensgerigheid ook die pas van ons reis deur die lewe moet bepaal.

SIMPATISEERDERS

Die Bybel sê vir ons dat baie van die Jode na Marta en Maria gekom het om hulle te troos. Hulle het selfs na begrafnis nog aangebly.
Wat is die rede daarvoor? Was hulle regtig oor die bedroefde susters besorgd?

Die Joodse tradisie het geleer dat daar groot beloning is wanneer jy met iemand in rou simpatiseer.

En as jy baie krediet by die hemel wil opbou, moet jy baie simpatiseer.

Die Jode van Jerusalem en die omgewing het hierdie geleentheid aangegryp om hierdie ekstra hemelse krediet op te bou. Dit was ook nie te vêr van hulle af nie.

Die Joodse tradisie het ook geleer dat as jy nie met bedroefdes simpatiseer nie, rampe jou kon tref. En wie wil nou onnodige rampe op homself bring?

GEHUURDE ROUKLAERS

Behalwe vir die mense wat net vir teologiese redes kom simpatiseer het, was daar ook die betaalde rouklaers. Hulle was profesionele huilers wat vir geld gehuil het.

Ongelukkig het ons nie bandopnames van hierdie mense nie. Dit sou interessant wees het om na hulle te kon luister.

Kan jy jou voorstel hoe dit in Marta se huis geklink het.

DIE TONEEL

Dis wat Jesus en Sy dissipels sien toe hulle by hierdie klein dorpie aankom. Simpatiseerders, eg en oneg net waar jy kyk.

Ek meen. Wie wil nou nie hemel toe gaan as jy dit met ‘n paar kunsmatige trane en ‘n sedige gesig kan regkry nie.

Jesus het ‘n boodskapper na die twee susters gestuur om te laat weet dat Hy in Betanië aangekom het.

Hy fluister: “Ek wil net vir gou vir julle sê dat Jesus sopas in die dorp aangekom het. Hy wil julle graag persoonlik spreek.”

REAKSIE

Raai hoe die susters op Jesus se uitnodiging gereageer het? Wie was die dromer wat nie gehoor het nie, en wie was die praktiese een wat oombliklik gereageer het?

Trane wat soos branders aanhoudend op die strand van Maria se stukkende hart breek, verdring die klank van die woorde wat sê dat Jesus haar roep.

Dis die gevaar van kroniese hartseer.

Die harde desibelle van die aanhoudende, kroniese geklots van ons trane van pyn, verwyt en nyd maak die sagte uitnodiging om na Jesus die Trooster te kom onhoorbaar.

Vers 20 Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit.

Kan jy hierdie haastige Marta sien loop. Ek dink toe sy so ‘n endjie van die huis af weg was, het sy begin draf-stap.

Daar is net een ding wat in haar kop maal: “As Jesus vier dae gelede al hier was, sou Lasarus nie gesterf het nie.”

Langs die sterfbed, toe Lasarus sy laaste asem uitblaas, het hulle byna gelyktydig gesê: “As Jesus hier was sou Lasarus nie gesterf het nie.”

Het jy dit al gesê? As die Here naby was sou dit nie gebeur het nie.

Wat dink u was die eerste woorde wat Marta en Maria vir Jesus gesê het toe hulle by Hom uitkom?

Kom ons lees dit:

Johannes 11:21 Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

Later in die hoofstuk het Maria dit ook vir Jesus gesê.

DIE VERLIES VAN ‘N DIERBARE

Wanneer laas het jy by die sterfbed van ‘n dierbare gestaan? Daar is verskillende soorte pyn, maar die pyn van ‘n finale afskeid is ontsettend seer.

Jy besef dat jy daardie dierbare ou moedertjie van jou nooit weer sal sien nie.

Jou Pa wat jou so gereeld ondersteun en gebel het, is weg. Oupa of Ouma wat jou so bederf het, het nou gaan rus en jy sal hulle nooit weer sien nie.

Totius skryf ‘n gedig oor sy dogtertjie wat dood is en sê: “O die pyn gedagte my kind is dood. Dit brand soos ‘n pyl in my.”

JESUS WAS DAAR

Terwyl Marta en Maria tevergeefs alles gedoen het om hulle broer se lewe te red, was Jesus in daardie vertrek.

Hy kon sien hoe hulle ‘n stukkie nat watte teen sy gebardse lippe druk.

Toe hulle geliefde broer, hulle ou staatmaker die laaste asem uitblaas en die doodskleur oor hom kom, was Jesus langs die magtelose, verslae Marta en Maria.

Vir gebroke mense wat na God se leiding soek, word die oomblikke van donker depressie die oomblik wanneer goddelike hulp die naaste is. Eendag sal hulle met dankbaarheid na die donkerste deel van hulle lewenspad terugkyk.

Die verhaal van die dood en opwekking van Lasarus is spesiaal vir jou en vir my geskryf.

Dis ‘n verhaal wat vir ons die versekering gee dat daar ‘n opwekking op elke afsterwe volg. Wanneer jy jou hand na die Here uitstrek, kom Hy intiem naby jou om jou te troos.

Binnekort gaan die lig van Jesus se wederkoms die donker van verlies en dood verban. Ons gaan meer terugkry as wat ons verloor het

Gestorwe drome gaan herleef. Ideale wat ‘n vroeë of skielike dood gesterf het, gaan uit die graf van teleurstelling opstaan.

Trane van verlies wat ons in hierdie lewe gestort het, gaan trane van blydskap word omdat ons nuwe horisonne van geluk gaan ontdek.

Mag die Here gee dat ons ons bitter teleurstellings in die lig van Lasarus se opwekking vertolk. Die Jesus van Lasarus se dag is nog steeds dieselfde.

Was this article helpful?

Related Articles