Maria Magdalena (Deel 5)

MARIA MAGDALENA – DEEL 5

Skriftuur: Johannes 11:28,29

In die vorige preek het ons na Marta se vinnige optrede gelees. Toe ‘n boodskapper vir haar en Maria sê dat Jesus in Betanië aangekom het, het sy opgespring en so gou as moontlik by Jesus uitgekom.

Sy het nie tyd gehad om vir haar hartseer dromerige suster te wag nie.

Johannes 11:20 Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaaan; maar Maria het die huis bly sit.

Wat is die eerste iets wat jy vir Jesus sou sê as jy in Marta se plek was?

Ek sou vir Hom gesê dat as Hy vroeër aangekom het, my broer nie sou gesterf het nie.

Johannes 11:21 Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

Jare gelede het ek ‘n baie hartseer pa en ma besoek. Hulle jong seuntjie het homself doodgeskok. Hulle kon net nie oor die dood van hulle kind kom nie.

En dan die vraag: “Waar was die Here toe my kind aan die lewendig draad gevat het?”

Elke oomblik van die dag is daar mense rondom die wêreld wat dieselfde vraag vra:

“Waar was die Here toe dit gebeur het…”

In een van die kamers van my gedagtes, hang daar ‘n aantal skilderye van jongmense wat geknak het. As hulle maar net briefies agtergelaat het, sou dit vir hulle ouers makliker gewees het om dit te kon hanteer.

“Waar was die Here toe dit alles gebeur het?”

Die verhaal van die dood van Lasarus sê vir ons Jesus was by sy sterfbed. Toe hy sy laaste asem uitblaas en die susters se rou snikke in die huis gehoor is, was Jesus daar.

Die pynlike dolk van dood wat hulle harte deurboor het, het ook Sy hart deurboor.

GOLGOTA

Aan ouers wat ‘n kind aan die dood afgegee het, wil ek net een iets sê.

Aan kinders wat ‘n ouer aan die dood afgegee het, wil ek net een iets sê.

Aan stukkende harte wat ‘n verhouding aan die dood afgegee het, wil ek net een iets sê.

Toe God die Vader langs die kruis kom staan het, het Hy ook langs ons seerste trouma kom staan.

Toe Jesus se voosgeslaande kop op Sy bloeiende, stukkend gekatsde bors geval het, was die Vader nie net daar nie. Hy was ook by jou seerste afskeidspyn.

Pleks dat ons vir God die Vader vra waar Hy was toe die vreeslike ramp ons getref het, moet ons eerder sê:

“Dankie Here dat U daar was toe dit gebeur het.”

Die verhaal van Lasarus se siekte en dood en opwekking is vir ‘n baie spesiale doel in die Bybel geplaas.

Dit wat in Betanië gebeur het, gaan binnekort weer gebeur.

MARIA SE GELOOF

Johannes 11:21 Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het.

Maar terwyl Sy in Jesus se teenwoordigheid verkeer, dink sy aan hoe Jesus die dogtertjie van Jaïrus opgegewek het. (Markus 5:35-43).

Maar dis nie al nie. Sy dink ook hoe Hy die begrafnisstoet by Naïn gestop het. Voor hulle die jongman begrawe het, het Jesus hom lewendig gemaak.

Vers 22 “Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

Ek wens ek kon daar naby gestaan het en na Jesus se gesigsuitdrukking gekyk het.

Jesus kyk met Goddelike en menslike jammerte in Marta se hartseer en bekommerde oë. En toe praat Hy:

Verse 23 Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

Jesus se opmerking was nie bedoel om Marta met ‘n hoop op ‘n onmiddelike wonderwerk te besiel nie.

Hy het probeer om Marta se gedagtes verby Lasarus se onmiddelike opwekking na die opwekking van die laaste dag te neem.

Die opwekking van Lasarus wat daardie selfde dag nog plaasgevind het, moes van ‘n groter opwekking getuig.

Die opwekking van Lasarus moes vir Marta en haar vriende die versekering gee dat daar eendag ‘n weer ‘n opstanding sou plaasvind.

Almal wat in Jesus gesterf het, sal dan uit die graf opgewek word. Met dieselfde goddelike krag waarmee Jesus vir Lasarus daardie dag uit die graf geroep het, gaan aan die einde van tyd se kinders uit die dood opwek.

24 Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

Die gedagte aan die toekomstige opstanding het vir Marta groot troos gebring.

Wanneer mens die versekering het dat dit wat jou nou verloor jy eendag weer gaan terugkry, verlig dit jou pyn.

DIE OPWINDING VAN DIE GESPREK

Wanneer mens die gesprek tussen die hartseer Marta en die simpatieke Jesus lees, merk jy ‘n baie interessante spanning wat besig is om op te bou.

Jesus is besig om Marta op ‘n meesterlike wyse vir die grootste wonderwerk in die geskiedenis van die wêreld voor te berei.

Hy is besig om Marta se geloof in die regte rigting te stuur.

Vers 25 Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe.”

In Johannes kry ons baie van die “Ek is” stellings van Jesus.

Kom ons kyk na so ‘n paar van die ander “Ek isse”.
Johannes 6:35 Ek is die brood wat lewe gee.

As jy honger is, kom by Jesus uit.

Johannes 8:12 Ek is die lig vir die wêreld.

As die lewe vir jou donker word en jy kan nie meer ‘n pad sien nie, kom dan na Jesus. Hy verskaf lig.

Johannes 10:7 Ek is die ingang vir die skape.

As jy die deur na die hemelse kraal soek, kom dan by Jesus uit.

Johannes 10:11 Ek is die goeie herder.

As jy uit die doolhof van sinloosheid wil ontsnap, kom dan by Jesus uit.

Johannes 15:1 Ek is die ware wingerstok.

As jy ‘n lootjie is wat verwelk word dan op Jesus die wingerstok ingeênt. Daar sal nuwe krag vanaf Hom na jou toe vloei.

Die grootste en mooiste “Ek is” is seker die een wat aan Marta genoem is:

Vers 25. Ek is die opstanding en die lewe.

As iets moois in jou lewe doodgegaan het, wil Jesus in die plek daarvan Sy verskyning maak.

DIE GESPREK

Ek wens ek kon daar naby staan en na hierdie gesprek tussen ‘n stukkende mens en ‘n heelmakende Heiland luister.

Jesus maak ‘n geweldige stelling deur te sê dat Hy die opstanding en die lewe is.

In Jesus is lewe. Hy het nie lewe iewers buitekant Homself gaan leen of bekom nie. Die wonder van die misterie van lewe is in Jesus.

1 Johannes 5:12 Wie die Seun het, het die lewe.

Die godheid van Jesus, die verteenwoordiger van die mensdom, is die gelowige se waarborg van die ewige lewe.

DIE LEWE HET TUSSEN DIE DOOD KOM INTREK

Ek en jy leef in die land van die dood. Alles om ons en in ons is besig om te sterf.

Die mens is soos ‘n blaar wat sy verskyning in die lente maak. In die lente van jou lewe voel dit vir jou asof dit altyd so sal aanhou.

Maar soos wat die koeler herfs die groen van die blare kom steel, so kom die herfs van die dood en steel die groen van ons mooi verhoudings en ons jeugdigheid.

Soos herfsblare deur die koue winterwinde na die grond weggewaai word, so waai die koue wind van die dood ons tot in die graf.

Dis die slegte nuus. Die goeie nuus, is die nuus van Jesus.

As ek Jesus het, het ek lewe. Dinge om my kan sterf en verwelk. Maar wanneer ek Jesus het, het ek die geskenk
van lewe wat alle vorms van dood transendeer.

Kom ons luister na die pragtige trooswoorde wat Jesus tot Marta rig:

Vers 25,26 Wie in My glo, sal lewe al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

Wat ‘n heerlike troosvolle waarheid! Wanneer ek as sondaar my hopelose saak aan Jesus oorgee en glo dat Hy my red, sal ek by die wederkoms die geskenk van die ewige lewe ontvang.

Jesus is besig om Maria se aandag van die toekomstige opstanding weg te lei. Hy wil hê sy moet na die onmiddellike kyk.

Sy moet vandag seker maak dat haar hoop op verlossing en die ewige lewe uitsluitlik op Jesus se reddingsbekwameid gebou is.

Vers 26 Sal in ewigheid nooit sterwe nie.

Hierdie vyand wat ons die “dood” noem, sal binnekort vir ewig vernietig word. Wat ‘n lewende vooruitsig in ons sterwende toestand.

Kom ons hoor hoe Marta op Jesus se vraag gereageer het toe Hy by haar wou weet of sy glo wat Hy sê:

Joahnnes 11:27 “Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

Ek glo nie Marta het al die teologiese implikasies van haar eie woorde besef nie. Maar tenspyte van haar gebrekkige insig in die Jesus se Messiaskap, het sy nogtans haar geloof in hierdie God-mens bely.

Wil u nie opnuut vanoggend alles glo wat Jesus oor verlossing en die ewige lewe sê nie? Al verstaan jy nie alles nie.

Wil jy nie opnuut soos Marta glo dat Hy vir onwaardige sondaars soos jy, die ewige lewe wil gee nie?

Kom ons hoor wat Marta nou gaan doen nadat sy haar geloof in Jesus as Messias bely het.

Onthou sy is nie ‘n mens wat te lank kan stilsit nie. Sy sal liewer werk as om na ‘n preek te luister.

Vers 28 Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

Die ou vertaling sê Marta het vir Maria “stilletjies” gaan roep.

Die grondteks gebruik die woord “LATHRA” en dit beteken “om iets in die geheim te doen.”

Klassieke skrywers gebruik die woord wanneer hulle wil sê dat net een persoon in ‘n geselskap die boodskap stilletjies gekry het.

Marta kom so ongemerk as moontlik by die vertrek is. Sy hou die huilers en die Fariseërs dop. En toe op ‘n geleë oomblik fluister sy vinnig in haar suster se oor:

Vers 28 Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.

Dis vir my van die mooiste woorde in die hele Bybel. Terwyl Maria met haar seer worstel, kry sy die pragtigste boodskap:

“Jesus, die groot Leermeester, die Een wat jou uit die modderpoel van sonde gered het, is hier. Hy sê jy moet na Hom toe kom.”

Hoe dink jy. Wat se soort uitdrukking was daar skielik op Maria se gesig? Ek dink sy het haar laaste “tisuetjie” in die drommetjie gegooi en opgespring.

Kom ons lees daarvan:

Verse 29-31 Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. Jesus nog nie in die dorp aangekom nie maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil.

Daar trek die hele huilende prosessie agter Maria aan. Ek dink sy wou alleen by Jesus wees. Ongelukkig was die span huilers klaar betaal en hulle moes so veel as moontlik huil.

Maar dis net sowel dat hulle Maria gevolg het want hulle het die grootste wonderwerk van alle tye aanskou – die opwekking van Lasarus.

MASOGISME

In sielkunde is daar ‘n baie interessante woord – masogisme. Dit beskryf ‘n menslike gedrag waar iemand sy genot uit leed put. Jy moet pyn hê om te kan geniet. Sonde pyn is daar geen genieting nie.

Terwyl ek aan hierdie profesionele huilers gedink het, het ek ook aan hierdie moderne fenomeen gedink.

Put ek miskien genot daaruit om mense van my leed te vertel? Mag die Here verhoed dat ons ons geluk op so ‘n bizarre wyse soek.

Ek dink Maria het heel voor die klomp huilers geloop. Sy wou die eerste wees om haar Heiland te sien.

Johannes 11:32 Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.

Maria se plek was aan die voete van Jesus. Die eerste keer toe Jesus hulle huis besoek het, het sy aan Jesus se voete gesit.
Toe die Fariseërs haar voor Jesus gesleep het en gesë het dat sy gestenig moes word, was sy weer voor Jesus se voete.

En nou met haar grootste hartseer, was sy weer by Jesus se voete.

Die enigste plek vir gevalle sondaars met skuldgevoelens is aan die voete van Jesus. Dis waar skuld en vrede plekke omruil. Die troosvolste plek vir mense met groot seer, is ook aan die voete van Jesus. Dis waar pyn en troos met mekaar plekke omruil.

Volgende keer gaan ons na die grootste van alle wonderwerke kyk.

Volgende keer gaan ons na die magtigste openbaring van Jesus se godheid kyk.

Hy jy ‘n kosbare Lasarus wat in die graf lê? Het jy ‘n geliefde aan die dood afgegee?

Is daar ‘n Lasarus van mooi drome en verhoudings wat iewers in die grafkelder van jou herinneringe begrawe lê?

Die Jesus wat destyds die historiese Lasarus opgewek het, doen nog steeds opwekkings.

Maar daar is een verskil. Die Lasarus wat gesterf en begrawe is, was ‘n siek mens. Die Lasarus wat Jesus opgewek het, was ‘n sprink lewendige gesonde mens.

Wanneer Jesus die kosbare dinge uit die grafkelder van ons herinnering opwek, is hulle altyd gesonder en beter en mooier as toe hulle gesterf het.

Efesiërs 3:20 sê vir ons dat die Here vir ons baie meer kan doen as wat ons ooit kan bid of dink.

Was this article helpful?

Related Articles