Maria Magdalena (Deel 8)

MARIA MAGDALENE – DEEL 8

Skriftuur: Johannes 11:42-44

Met die opwekking van Lasarus, gee Johannes nie vir ons baie detail nie. Dis asof hy die grootste gebeurtenis van die hele Nuwe Testament vir ons verbeelding oorlaat.

Kom ons stap nader na die graf waar Jesus en die skare mense staan.

Die steen is weggerol. Die sterk manne vee die sweet van hulle voorkoppe af. Die mense naaste aan die opening van die graf, druk hulle neuse toe.

Jesus kyk op en Hy bid tot Sy Vader. Nadat Hy amen gesê het, maak Hy Sy oë oop en roep met ‘n groot stem:

“Lasarus, kom uit.”

Daar is ‘n doodse stilte. Niks gebeur nie.

Dit was my voorreg om ‘n paar keer die graf te kon besoek. Daar is taamlik baie trappies tot heel onder.

In my verbeelding sien ek hoe die semi-ontbinde Lasarus onder in die graf lê.

Hy hoor die stem van Jesus, Sy heel beste Vriend. Vir ‘n oomblik wonder hy waar hy is. Hy probeer beweeg, maar die grafdoeke hou hom vas.

Hy kan ook nie sien nie, want sy gesig was ook toegedraai.

En toe dring dit tot Lasarus deur. Hy was ernstig siek en moes gesterf het. Sy susters het hom toe in grafdoeke toegedraai en begrawe.

Hy voel nou perdfris en gesond. Met ‘n groot gesukkel klouter hy die trappies uit tot hy uiteindelik by die opening kom.

SKOUSPEL

Wat ‘n skouspel. Toe die mense voor die graf die wit gedaante sien, het hulle na hulle asems gesnak. Kan dit werklik Lasarus wees?
Johannes 11:44 Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ‘n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

Ek dink Lasarus het maar ‘n bietjie baie snaaks gelyk. Maar dit is so ‘n grootste wonderwerk dat mense skaars die grafdoeke raaksien.

Hulle kan nie glo wat hulle oë sien nie.

Terwyl Lasarus ongemaklik by die grafopening waggel en styer, gee Jesus weer ‘n opdrag:

“Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

Jesus kon nog ‘n wonderwerk verrig het en die grafdoeke binne ‘n sekond laat verdwyn het. Maar dis nie hoe Hy werk nie.

Hy nooi ons as mens om saam met Hom te werk. Die Godheid wil graag met die mensheid saam werk.

Wat ‘n gedagte. Die Here nooi ons uit om saam met Hom vir die opwekking en herstel van mense te werk.

Baie mense wat deur Jesus uit die dood van sonde opgewek is, het nog grafdoeke aan. Hulle kan nie mooi sien of loop nie.

Jesus vra vir jou en my om die hinderlike grafdoeke te verwyder sodat hierdie mense beter kan sien en beter kan beweeg.

Mag ek jou grafdoeke kom verwyder? En sal jy my grafdoeke kom verwyder?

Versigtig kom Marta en Maria nader. Dieselfde grafdoeke wat hulle vier dae gelede om hulle broer gedraai het, draai hulle nou weer af.

Uiteindelik is die werk klaar. En daar staan Lasarus. Nie die siek, sterwende Lasarus nie. Nie die wrak wat deur die geweldig hoë koors verwoes is nie.

Nee. Hy staan in die fleur van die lewe en sy hele liggaam tril met edele manlikheid.
Hy draai sy oë na Jesus toe. Met ‘n blik van intelligensie en liefde kyk hy in die oë van Sy beste Vriend. En dan val hy in eerbiedige aanbidding voor Jesus se voete neer.

Kan julle vir Lasarus sien?

Aanvanklik is die toeskouers heeltemaal oorbluf. En dan volg daar ‘n onbeskryflike toneel van vreugde en danksegging.

Maria was seker die eerste om haar boetie te omhels en te soen en te soen.

En dan kom Marta wat ‘n bietjie meer konserwatief was en sy gryp haar boet en druk en soen hom.

“Baie baie dankie Jesus dat U ons boetie vir ons uit die dood gaan haal het en hom vir ons teruggegee het.”

En dan kom die ander mense nader en vat aan Lasarus. Nou begin die mense te praat en die Here onophoudelik te loof vir die grootste wonderwerk van alle tye.

Die vreugde tydens Lasarus se opwekking, is ‘n voorsmaak van die vreugde wat ons tydens die wederkoms gaan ervaar wanneer ons geliefdes opgewek gaan word.

JESUS VERDWYN

Terwyl die vreugde vure hoog brand, het Jesus ongemerk vir Sy dissipels gewink om saam met met Hom die toneel te verlaat. Hy was nooit ‘n sensasiesoeker nie.

DIE GEVOLG VAN DIE WONDERWERK

Johannes 11:45 Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

Dwarsdeur die eeu was daar nog altyd mense wat besluit het om positief op waarheid te reageer en dit uit te leef.

Dis vir hierdie einste rede dat die duur verlossingsplan in werking gestel lis.

Dink net aan die vreugde wat hierdie mense se besluite vir Jesus en Sy disippels beteken het. Dink net wat dit vandag nog vir die Here beteken wanneer ek en jy ‘n besluit vir waarheid neem.

Ongelukkig was daar ook deur al die eeue mense wat hulle rug moedswillig op waarheid gedraai het.

Vers 46 Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het.

Deur al die eeue was daar die nuusdraers wat negatief van die waarheid gepraat het. Mense wat waarheid vir die guns van mense opgeôffer het.

Verse 47,48 Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaar geroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.”

Deur al die eeue was daar mense wat bang was dat hulle verlies sou ly indien hulle waarheid aanneem.

Die Joodse leiers was bang dat Jesus hulle gewildheid sou skaad. Daar is vandag nog mense wat nie bereid is om hulle gewildheid prys te gee nie. Nie eers vir Jesus nie.

Dis tog ironies. Dit wat die Sanhedrin gevrees, nl. dat die Romeine Jerusalem sou kom verwoes, het toe gebeur.

Indien hulle Jesus aangeneem het, sou dit nooit gebeur het nie. Inteendeel. Jerusalem sou dan die wêreldhoofstad geword het.

Wanneer ek Jesus en waarheid verwerp, verloor ek alles. Wanneer ek Hom aanneem, wen ek alles.

Verse 49,50 Een van hulle, ‘n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks, en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.

Hierdie briljante agent van die duiwel het die dilemma van die sanhedrin opgelos.

“Mense. Laat ons liewer toelaat dat een mens sterf as wat ons toelaat dat hele nasie tot niet gaan.”

Dis moontlik dat hy ‘n gedeelte uit die rabynse literatuur aangehaal het wat hierdie gedagte ondersteun het.

Die Midrash Rabbah, met verwysing na Genesis 43:8 (Soncino ed., p. 846), sê die volgende:

“Dis beter om die risiko te loop dat een mens sterf as wat ‘n mens toelaat dat baie ander sterf.”

Kom ek lees net vir u wat die teks sê sodat u kan sien hoe hy die waarheid verdraai het:

Genesis 43:8 Juda het vir sy pa Israel gesê: “Stuur tog maar die kind saam met my sodat ons dadelik kan vertrek. Dan kan ons aan die lewe bly. So nie sterf Pa saam met ons en ons kinders.”

Wat die geslepe Kajafas eintlik vir die Sanhedrin sê, is die volgende: “Al was Jesus onskuldig, sou dit tot voordeel van die hele Israel wees dat Hy doodgemaak word.”

Die gedagte van een mens wat vir baie sterf, was ook deur die heidene gehuldig. Daar is jaarliks mense aan die gode geoffer teneinde die res van die stad of volk te spaar.

En nou maak Johannes ‘n baie interessante opmerking oor wat Kajafas gesê het:

Vers 51 Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe.

Sonder dat Kajafas dit mooi besef het, het hy op ‘n verdraaide manier die evangelie verduidelik:

Een man sterf sodat die hele nasie nie verlore hoef te gaan nie. Wat ‘n heerlike gedagte. Daar is hoop vir die nasie van sondaars omdat Een, nl. Jesus vir ons gesterf het.

Johannes brei verder op die boodskap van Jesus se dood uit:

Vers 52 En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring.

Daar is ‘n skool wat leer dat verlossing net tot die Jode as uitverkore volk beperk is.

Johannes sê dat Jesus nie net vir die Jode gesterf het nie, maar ook vir die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is.

Die sogenaamde ramp van die kruisiging van Jesus het op die heerlikste verlossing uitgeloop. Daardie verlossing is soos ‘n vloed wat oor die hele wêreld spoel en elke dorstige sondaar bereik.

Verse 53 Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak.

Wat ‘n hartseer gebeurtenis! Omdat Jesus vir Lasarus opgewek het, het die Sanhedrin ‘n amptelike besluit geneem om Hom dood te maak.

Hierdie besluit was die toppunt van absolute verwaandheid.

Netige, sterflike, sondige skepsels besluit om die Skepper wat dooie mense lewendig maak, dood te maak.

Dis hoe laag die duiwel ons kan laat val wanneer ons nalaat dat die Heilige Gees ons van sonde oortuig.

Mag ons die Here in ‘n daaglikse bekering soek. Mag ons nooit toelaat dat die geringste sondetjie in ons lewe seëvier nie.

Wanneer ons ‘n bietjie bitterheid huisves kan dit ons na die plek toe lei waar ons selfs so ver sal gaan om God te wil vernietig.

En dis presies wat aan die einde van die duisend jaar gaan gebeur:

Openbaring 20:7-9 Wanneer die duisend jaar om is, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. Dan sy hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die God en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see. Hulle het oor die hele oppervlakte van die aarde aangekom en die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel. Toe het vuur van die hemel af gekom en hulle verteer.

Die mense binne die stad is mense wat Jesus en die beginsels van die hemel binne in hulle harte geakkommodeer het.

Die mense binne die stad het Jesus en Sy waarheid nie verwerp nie, maar aanvaar. Sy waarheid het hulle lewens mooi gemaak.

Kom ons hoor wat Jesus gedoen het toe Hy hoor dat die Sanherdrin ‘n amptelike besluit geneem het om hom om die lewe te bring:

Vers 54 Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na ‘n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels ‘n rukkie gebly.

Jesus was nie onwillig om te sterf nie, maar Hy het nog werk gehad om te doen. Hy wou nog een keer by die huisie in Betanië gaan besoek aflê.

Daar was ‘n vrou met die naam van Maria Magdalena wat diep in die sonde geval het, maar wat positief op Sy tere bearbeiding gereageer het.

Voor Sy kruisiging wou Hy die luuksheid van haar salwing van Sy kop en voete ervaar.

In Maria se liefdesdaad wou Jesus vir Sy disippels, vir jou en my en ook vir die hele wêreld wys hoe intens Hy dit waardeer wanneer die laagste sondaar op Sy liefde reageer.

EFRAIM

In die grootste vernedering en verwerping het Jesus en Sy disippels Betanië verlaat. Hulle is op pad na ‘n onbekende ou dorpie met die naam van Efraim.
Hy lê so ongeveer 7 kilometers noord-oos van Betel en hy grens aan die Judese woestyn.

Op pad daarheen stap hulle by Betel verby waar Jakob die droom van die leër gehad het. Die boonste punt het tot in die hemel gestrek en die voetstuk het op die aarde gestaan.

Miskien het Jesus so ‘n oomblikkie stilgestaan en vir die disippels vertel dat Hy daardie leër is wat die mensdom met die Godheid verbind.

Die God die Vader die Leër Jesus op aarde kom neersit het, het ons Hom vervolg en beledig. Hy word deur ‘n jaloerse koning Herodus uit Bethlehem verdryf. Die dorpmense van Nasaret waar Hy grootgeword het, het hom verwerp.

En wil die Sanhedrin Hom elimineer en Hy en Sy 12 disippels soek tydelike asiel in die vreemde dorpie van Efraim.

Hy wat deur menslike hartseer geraak is, wat siekes genees, blindes se oë geopen, dowes laat hoor en doofstommes laat praat het, wat honger mense gevoed en hartseer mense getroos het, is deur die mense verban wat Hy probeer red het.

Sal ons ooit besef wat Jesus deurgemaak het toe Hy aarde toe gekom het om ons te kom red?

Hy wat op stormagtige golwe geloop en hulle deur ‘n paar woorde tot bedaring gebring het; Hy wat duiwels uitgedryf en dooies opgewek het; Hy wat duisende met Sy woorde van wysheid bekoor het, was magteloos om harte te bereik wat deur vooroordeel en haat vervul was en wat hemelse lig harnekkig verwerp het.

Volgende keer gaan ons vir oulaas saam met Jesus by Betanië besoek aflê. Hy het vir oulaas vir Marta, Maria en die opgewekte Lasarus gaan besoek.

Mag dit wees dat die studie van Jesus en Sy omgang met gevalle sondaars ons met ‘n nuwe bewondering vir die Prins van hemel besiel.

En mag ons deur aanskoue daardie selfde mooi gesindheid en liefde vir sondaars ontwikkel wat nie noodwendig op ons bearbeiding gaan reageer nie.

Was this article helpful?

Related Articles