Maria Magdalene (Deel 1)

MARIA MAGDALENA – DEEL 1

Skriftuur: Lukas 10:38-42

Wanneer mens teen die styl opdraende vanaf Jerigo na Jerusalem reis, kom jy by ‘n plekkie met die naam van Betanië uit.

Dis hier waar Lasarus en sy twee susters Marta en Maria gewoon het. Kom ons lees meer aangaande hulle:

Lukas 10:38-40 Op hulle reis het Jesus in ‘n dorp gekom waar ‘n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. Sy het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: ”Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”

Jesus het skaars Sy voete in die huis gesit, of daar is ‘n geblakleiery.

Dis nie vreeslik moeilik om ‘n psigo-analise op Marta te doen nie. ‘n Netjiese skoon huis was vir haar baie belangrik. Sy kon glad nie luiheid vat nie.

Sy het skaars vir Jesus en Sy dissipels gegroet of sy was kombuis toe. Toe sy sien dat sy nie voor een uur haar kos op die tafel sou hê nie, het sy na Maria geroep om haar te kom help.

“Sus kom help my gou om die aartappels te skil terwyl ek vir ons wortels uit die tuin gaan trek.”

Maria maak of sy nie vir Marta hoor nie. Sy wil nie een woord mis wat oor Jesus se lippe kom nie. Ons sal later hoor waarom nie.

Marta raak vies. Sy praat nie nou meer van Sus nie. “Maria. Het jy gehoor ek roep jou?” Maria sit.

Marta kom staan in die sitkamer deur. Sy vee die sweet op haar voorkop met die onderpunt van haar voorskoot af.

“Meester,” begin sy verontwaardig. “Ek het my suster nou al hoeveel keer geroep om my met die kos te help maar sy hou haar doof. Sê asseblief vir daardie dromer van ‘n vroumens om my dadelik te kom help. Terwyl ek na ete die skottelgoed was, kan sy weer kom gesêls.”

Marta was ‘n doen mens en daar was nie tyd vir ‘n gedromery soos Maria nie.

Maria sou liewer op haar bed lê en uit die romanse van Hooglied lees as wat sy resepte by ander vrouens sou wou uitruil.

DIE BESTE DEEL

Hoe het Jesus Marta se geïriteerdheid en Maria se verleentheid gehanteer?

Verse 41,42 Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

Behalwe vir die baie huislike pligte waarmee Marta haar besig gehou het was sy heel moontlik ook nog die voorsitster van Jerusalem Vroue Landbou-Unie.

Wat sake nog verder vererger het, was die feit dat haar man die huis asg. van melaatsheid moes verlaat. Haar gedagtes was so vol werk en so vol bekommernis dat Jesus se besoek vir haar ‘n bietjie ongeleë was.

Dis moontlik dat ek en jy op hierdie oomblik so behep en so besig is met belangrike planne en bekommernisse dat ‘n besoek van Jesus vir ons ‘n bietjie ongeleë kan wees.

AAN JESUS SE VOETE SIT

Wat presies moet ons van die uitdrukking verstaan wat praat van “aan die voete van iemand sit?” Jesus beveel dit baie sterk aan. Kom ons lees ‘n paar tekse:

Handelinge 22:3 Ek is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilicië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamaliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is.

Om aan die voete van iemand te sit, is om deur daardie persoon opgevoed te word. Paulus het by die grootste leermeester van die dag, Gamaliël sy doktorsgraad in Hebreeuse teologie ontvang. Kom ons lees nog ‘n teks:

Lukas 8:35 Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die duiwels uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, en hulle het bang geword.
Wanneer ek aandie voete vanJesus sit, beteken dit dat Hy die duiwels uit my lewe gedryf het.

Ek is absoluut gefasineerd wanneer ek na die groot spektrum granduandi kyk wat aan die voete van Jesus afstudeer het.

Dis nie net respektabele mense wat by Sy universiteit van genade ingeskryf het nie. Die hoere en die malles het ook toelating gekry.

Die toelatingsvereistes vir ‘n graad kursus in Jesus se Universiteit, is slegs ‘n ontsettende behoefte aan Sy vergewende optel liefde.

Groot veranderinge tree by die studente in wanneer hulle met Jesus se kurikulum begin.

Die besetene van Gadara het sy ou verslete kleurbaadjie van mislukkings vir Jesus se kleurbaadjie van geregtigheid verruil.

Op die Universiteitswapen wat Jesus se Gadara student gedra het, het die volgende woorde gestaan: Universiteit van Genade. Die embleem was ‘n sondaar wat aan die voete van Jesus kniel. Aan die onderkant van die wapen was die Latynse woorde Sola Gratia in goud borduur.

Terloops. Al Jesus se leerlinge wat in nederigheid aan Sy voete afstudeer het, het met onderskeidings geslaag. Super Cum Laudae.

FLITSE VAN MARIA

Wanneer mens deur die Bybel lees, kry jy interessante flitse van ons hoof vroulike karakter in hierdie verhaal, Maria Magdalena.

In hierdie een flits sien ons haar aan die voete van Jesus terwyl sy elke woord indrink wat hy sê.

Ons sien haar ook in die konteks van ‘n suster wat ‘n bietjie katterig is. Waarom?

Ons gaan later na ‘n interessante moontlikheid kyk. Net soos enige ander huishouding, het hierdie een ook sy spanning gehad.

Hierdie spesifieke insident het aan die einde van die jaar 30 nC plaasgevind. Dit was in die winter. Jesus is ongeveer vier maande later gekruisig.
DUIWEL BESETE

‘n Vorige flits van Maria is geografiese ver weg van Betanië. Kom ons lees dit:

Lukas 8:1 In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig.

Hierdie teks verwys na Jesus se tweede Galilese toer wat in die herfs van die jaar 29 nC plaasgevind het. So ongeveer ‘n jaar en vyf maande voor Jesus se besoek aan Betanië waarna ons sopas gekyk het.

Vers 2 Die twaalf was saam met Hom en daarby ‘n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe duiwels uitgegaan het.

Waarom word die woord Magdalena aan Maria se naam gekoppel? Sy moes o.a. van die ander Marias in die Bybel onderskei word.

So ongeveer vyf kilometers noord-wes van Tiberias, was daar ‘n dorpie met die naam van Magdala of Magadan. Tans word die plek Mejdel genoem.

Kom ons lees van Magadan of Magdala soos die ou vertaling hom noem:

Matteus 15:39 Daarna het Hy die mense huis toe gestuur, in die skuit geklim en na die gebied van Magadan vertrek.

Wat het Jesus daar gaan maak? Hy het Maria van Betanië gaan opsoek. Hoekom soek Hy mense op? Omdat ons almal in sonde geval.

Ek is so dankbaar dat Jesus mense wat in sonde geval het, gaan opsoek en hulle red.

MARIA SE EERSTE VAL

Die Bybel sê nie vir ons presies hoe Maria die eerste keer in sonde geval het nie. Wat ons wel weet is dat sy met Simon die Fariseër deurmekaar geraak het.

Miskien het sy hom gevra om haar met haar wiskunde na skool te help.

Miskien het hy haar met die kameel by die skool gaan haal wanneer dit gereent het. Ons weet nie.

Die twee het die verhouding baie stil probeer hou en gehoop dat niemand daarvan sou uitvind nie.

Baie mense voor hulle het probeer en baie mense na hulle het probeer, maar sonder sukses.

Lukas 8:17 Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.

Op ‘n dag het die mense van Betanië begin praat. Voor Maria haar matriek eksamens kon skryf, het die skoolhoof haar ge-ekspel.

As haar suster Marta met Simon getroud was, soos sommige kommentaters vermoed, dan was dit ‘n baie baie tragiese familie drama.

Maria is met haar bagasie na die kameelterminus in Jerusalem geneem. Vroeg die oggend het sy met die “City to City” karavaan na die noorde toe vertrek. Hierdie gevaarlike meisie moes ver weg gestuur word.

VAL VERDER IN SONDE

Terwyl sy en die ander passasiers deur die pragtige landskap gereis het, het sy baie tyd gehad om oor haar val te dink.

‘n Mens so gehoop het dat sy ‘n besluit sou geneem het om ‘n ander blaadjie om te slaan en ‘n beter lewe te leef. Ongelukkig het dit nie gebeur nie.

Maria Magdalena het nie haar les in Betanië geleer nie en sy het weer in ontug beland. Dit mag wees dat sy nimfomanies was.

Ek staan verstom wanneer ek aan Jesus se liefdevolle bemoeienis met sondaars dink. Geen mens was vir Hom te sleg om gered te word nie. Jesus het veral in die redding van in die randfigure van die samelewing gespesialiseer.

Jesus soek hierdie slet van ‘n vrou op, vergewe haar en genees haar van haar kwaal.

Dit moes seker ‘n baie groot oomblik vir Maria gewees het toe sy vir die eerste keer met Jesus se reddende genade kontak gemaak het.
Sy het die ou gelos met wie sy saamgebly het en vir haar ‘n ander blyplek gaan soek.

Maar weet u wat? Sy val weer terug. En weet u wat? Jesus vergeet van haar en los haar heeltemaal uit. Nee. Die Bybel sê het het haar weer ‘n keer gaan opsoek, weer ‘n keer vergewe en weer ‘n keer genees.

Sy trek by die tweede ou uit en gaan soek vir haar ‘n ander blyplek. Ag, maar dit was ook nie lank daarna nie, of sy raak weer met ‘n ander man deurmekaar.

Weer luister sy na ‘n preek van Jesus by Kapernaum, en weet ‘n keer praat die Heilige Gees met haar en weer ‘n keer vra sy vir Jesus om haar te help.

En weet u wat? Hy help haar nog ‘n keer.

Sy los die ou met wie sy deurmekaar was, en trek by ander mense in.

Raai wat? Dit was nie lank daarna nie of sy raak weer met ‘n man deurmekaar.

As sy ‘n goeie mediese fonds gehad het, sou ek en jy haar na Denmar of Vista of enige ander inrigting vir hierdie afwyking gestuur het.

En as sy uitgekom het en weer dieselfde nimfomaniese gedrag getoon het, sou ons haar miskien permanent in Weskoppies laat opneem het.

Wanneer ek Jesus se bemoeienis met die tollenaars en die hoere van die Nuwe Testmanet bestudeer, staan ek verstom.

Jesus se optrede teenoor sondaars noop my om met ander oë na my eie gevallenheid en die gevallenheid van mense om my te kyk.

Wil u raai hoeveel keer Jesus vir hierdie swak, slegte Maria gaan optel het?

Jesus het die slegste vrou in die Nuwe Testament sewe keer gaan opsoek, sewe keer vergewe en sewe keer genees.

Luister na hierdie pragtige setaat uit die Koning van die Eeue, bl. 568. Dis in die konteks van die keer toe Sy Jesus se voete in die huis van Simon met haar trane gewas het.

Ons gaan op ‘n later stadium na hierdie insident kyk.
“Maria is as groot sondares beskou, maar Christus was bewus van die omstandighede wat haar lewe gevorm het. Hy kon elke vonkie hoop in haar siel uitgeblus het, maar Hy het nie. Dit was Hy wat haar uit haar wanhoop en ondergang opgehef het. Sewe maal het sy gehoor hoe Hy die duiwels bestraf wat haar hart en gees beheers het. Sy het Jesus se geroep tot die Vader om haar ontwil gehoor. Sy besef hoe afstootlik die sonde vir Sy vlekkelose reinheid is, en in Sy krag het sy oorwin.”

Wanneer ek langs die see van Galilea ry, dink ek elke keer aan die slegte Maria Magdalena en aan die goeie Jesus.

Sy liefde het nie vir een oombik opgehou pleit wanneer sondaars nie dadelik op Sy liefde gereageer het nie. Sy onverklaarbare liefde vir gevalle, hopelose sondaars het net aangehou pleit en pleit en pleit en pleit en pleit.

Ek wonder uit watter gate Hy vir arme Maria oral gaan haal het. Hoe het Jesus haar skuldige uitdrukking hanteer wanneer Hy haar opgespoor het.

Ek is so dankbaar vir hierdie onbegryplike liefde wat die Vader deur Jesus aan ons kom betoon het.

MOENIE MOEDELOOS WORD NIE

Het jy al moedeloos met iemand gemaak -jou man of vrou? Jy sukkel met jou maat se swakhede. Jy praat daaroor, jy huil daaroor en jy baklei daaroor.

Miskien is jy moedeloos met ‘n kind wat hardkoppig is. ‘n Kind wat weet wat reg is maar nie doen wat reg is nie.

En wat van jouself?

Is jy moedeloos oor ons jou onvermoë om sekere oorwinnings oor swakhede in jou lewe te behaal? Miskien het dit iets met jou geaardheid, jou temperament te doen.

Mag ek ‘n beroep op jou doen? Moenie moed met jouself verloor nie. Die manier waarop Jesus onvermoeid met sondaars gewerk het, spoor ‘n mens aan om nie nie handdoek in te gooi nie.

En al het ek en jy al moed met onsself verloor, Jesus het nog nie. Hy gaan nie opgee nie.

INDIENSNEMING

Wanneer jy vandag aansoek vir werk doen, moet jy ‘n CV indien. Op hierdie dokument staan al jou prestasies en jou werkservaring.

Hoe het Maria se CV gelyk? Sou jy haar in diens geneem het? Het u geweet dat Jesus so ‘n gewaagde iets gedoen het? Kom ons lees dit:

Lukas 8:1,2 In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig. Die twaalf was saam met Hom en daarby ‘n aantal vroue wat van bose beeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe duiwels uitgegaan het.

Sal ek en jy so ‘n slet op ons evangeliespan laat werk het? Die Here opereer so ‘n bietjie anders as ons. So dikwels wonder ons of ons waardig is om vir die Here te werk.

Die verhaal van Maria sê dat elke mense wat graag vir Jesus wil werk, afgesien van haar of sy se verlede, is meer as welkom om dit te doen.

In ons volgende preek oor Maria gaan ons meer verstommende dimensies van Jesus se liefde vir sondaar ontdek.

Ongelukkig het arme Maria het weer geval. Die Fariseërs het haar na Jesus gesleep om haar te stenig. Ons gaan later in groter diepte daaroor gesels.

Jesus het haar vir die agste keer weer opgetel en vergewe. Hy het verby Sy volmaakte sewe keer gegaan om haar te red.

Ek en jy is vallende. Jesus se liefde optellende.

Gelukkig word my ewige lotsbestemming nie deur die aantal valle bepaal nie, maar deur die aantal kere wat Jesus my kom optel het.

Was this article helpful?

Related Articles