Maria Magdalene (Deel 7)

MARIA MAGDALENE – DEEL 7

Skriftuur: Johannes 11:38-44

Een van die Romeinse filosowe het gesê: “Homo via tor”. Die mens is op pad. Die diereryk is deur hulle eie DNA ingehok, maar nie die mens nie.

Die verhale van Jesus sê vir ons dat Hy altyd na een of ander bestemming op pad was. Homo via tor.

En wanneer mens die fynskrif lees, ontdek jy dat Hy altyd op pad was om een of ander mens wat in die een of ander soort ellende was, gaan help het.

‘n Man in Gadara is met die duiwel besete. Jesus is op pad om Hom te gaan genees.

In die heidense gebied van Tirus is daar ‘n Griekse vrou wat raadop is met haar duiwelbete kind.

Volgens die Joodse teologie van die dag was die dogtertjie buite die bereik van die wonderwerkende genade van God.

Is daar mense wat dink jy is buite die bereik van die genade van God? Het jy met tye ook so gedink? Die Bybel leer vir ons dat Jesus op pad is na die randfigure wat deur die samelewing afgeskryf is.

Jesus steek die grense van die sogenaamde heilige land oor. Hy stap die land van vervloeking binne. Dis hier waar die bose Isebel met haar demoniese Baalgodsdiens gewoon het.

Hy stap die heidense land binne waar mense God se genade verwerp. Hy besoek hulle omdat Hy hulle nog nie verwerp het nie.

Markus 7:26-28 Hierdie vrou was ‘n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die duiwel uit haar dogter uit te drywe. Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”

Die Jode het hierdie vrou as ‘n hond beskou. Maar tydens Jesus se aardse bediening was hy self op pad na die honde van die samelewing. Hy was gedurigdeur op pad om die uitvaagsels en die flentersmens te gaan op soek.

Markus 7:29,30 Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die duiwel het al klaar uit jog dogter uitgegaan. Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die duiwel was al klaar uit haar uit.

Die Nuwe Testament sê vir ons dat Jesus op pad is – op pad na jou en my wat verloor het. Op pad na die raadop mens.

As jy vanoggend by die plek gekom het waar jy voel jy kan jouself nou nie meer help nie, dan het ek goeie nuus vir jou. Wag net so ‘n bietjie. Jesus is op pad nou jou.

Romeine 1:16 Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.

OP PAD NA LASARUS SE GRAF

Vanoggend kyk ons na Jesus wat op pad is na Lasarus se graf. Die susters huil, die opregte vriende huil, Jesus huil en die mense wat gehuur is om te huil, huil ook.

Uiteindelik kom die hele prosessie by die graf uit. Kom ons hoor wat op die daardie oomblik gebeur het:

Johannes 11:38,39 Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ‘n rotsgraf, en daar was ‘n klip voor die ingang gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

Ons is nou by die grootste van al Jesus se wonderwerke. Kom ons ondersoek elkeen van hierdie gebeure baie versigtig.

Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom.

Ons kry hier ‘n herhaling van Jesus se vorige emosies.

“Embrimomenos”. Hy is so ontsteld, dat Hy kreun. Dit is so erg dat Hy fisiese aksies manifesteer teneinde Sy emosies onder bedwang te hou.

Dis die enigste plek waar Jesus voor ‘n graf staan waar ‘n baie intieme vriend van Hom begrawe lê.

Sy gedagtes flits terug na die paradys. Hy staan langs die gebroke Adam en Eva waar hulle oor die dood van Abel huil.

Jesus is verskriklik aangedaan oor die vreeslikste ramp wat die mensdom nog ooit getref het, nl. die dood.

As die dood van ‘n geliefde so ‘n troumatiese effek op jou en my het, hoe dink u moes dit die rein, sensitiewe hart van Jesus gekneus het.

Die trane wat Jesus wat by Lasarus se graf gestort het, stort Hy nog steeds wanneer ons ‘n dierbare ter ruste lê.

Die Bybel vertel ons dat die graf uit rots gekap was. Die ondernemers het ‘n groot klip voor die opening gerol.

Vers 39 Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”

Dis vir my elke keer ‘n belewenis om Betanië te kan besoek. Wanneer ek voor Lasarus se graf staan, gaan my gedagtes uit na wat 2000 jaar gelede daar afgespeel het.

Tussen die bedroefdes voor die graf en die oorledene binne in die graf, is daar ‘n versperring van ‘n ronde klip.

Herodus die Grote het spesiale grafkelders vir sy familie laat bou en ‘n mens kan die plek in Jerusalem besoek en na die klip kyk wat voor die opening gerol is.

VERWYDER DIE HINDERNIS

Voordat Jesus ‘n baie groot wonderwerk doen, vra Hy eers die mense om dit wat in die pad van die wonderwerk staan, te verwyder.

Jesus wil vandag nog wonderwerke in ons lewens doen. Maar so dikwels is daar iets wat Hom verhoed om dit te doen. Hy wil hê ek en jy moet self daardie hindernis verwyder.

Kan jy vanoggend aan iets in jou lewe dink wat verhoed dat Jesus ‘n wonderwerk in jou lewe verrig? Daar is sekere dinge wat ek en jy eers moet regmaak, voordat die Here kragdadelik in ons lewens gaan ingryp.

Kom ons hoor wat Marta se probleem was:

Johannes 11:39 Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

Dis moontlik dat ‘n sekere Joodse tradisie van die derde eeu n.C. ‘n invloed op Marta se denke en reaksie gehad het.

Die siel het glo vir drie dae agtermekaar na die gestorwe liggaam teruggekeer met die hoop om dit weer binne te gaan.

Wanneer hierdie sogenaamde siel dan aan die einde van die drie dae tydperk opmerk dat die gesig begin ontbind, het die siel vertrek en nooit weer teruggekom nie.

Bedroefdes het gevolglik die graf vir drie dae besoek, hopende dat die persoon net in ‘n koma was en nie werklik dood was nie.

Wanneer die vierde dag aangebreek het en die persoon geen tekens van lewe gewys het nie, was daar algemeen aanvaar dat die dood finaal ingetree het.

Marta en die ander mense by die graf kon soos volg geredeneer het:

Jaïrus se dogtertjie kon nog in ‘n koma gewees het toe Jesus haar opgewek het.

Dis moontlik dat die seun van die weduwee van Naïn ook nog nie heeltemaal dood was toe Jesus hom opgewek het.

Hulle het aanvaar dat Jesus in sekere omstandighede sukses gehad het, maar hulle het nie geglo dat Hy in hierdie geval suksesvol kon wees nie.

Dink jy miskien jou geval is anders en hopeloos? As jy jou omstandighede met die van ander vergelyk, lyk dit erger?

Daar was miskien ‘n tyd toe jy gedink het jou Lasarus, jou gestorwe droom kan oorleef.

Maar dit waarvoor jy gehoop het, is nou al vier dae in die graf – dit het reeds ontbind en stink al. Die hoop op ‘n opstanding is vir ewig verby.

Ek is so dankbaar vir die geduldige wyse waarop Jesus met die ongelowiges in Betanië gewerk het.

Ek is so dankbaar dat Hy van my ongeloof weet. Hy weet dat ek my hoop om sekere oorwinnings te behaal in die graf van my eie onmoontlikheid begrawe het.

Hy weet van my desperaatheid. Hy weet ek bid vir ‘n dierbare wat geestelik dood is. Hy weet dat ek nie meer glo dat my kinders, my ouers, my vriende uit die graf van onverskilligheid opgewek kan word nie.

Hy weet ek glo dat dit wat eers vir my lekker geruik het, nou nie meer so ruik nie. Hy weet ek glo dat dit nooit weer kan verander nie.

Ek onthou hierdie een vrou. Sy het vir my gesê dat haar man buite bereik was. Nadat sy 27 jaar vir hom gebid het, het daar nog niks gebeur nie. Ek het die oom op Kroonstad gedoop en die tannie kon nie ophou om van blydskap te huil nie.

Kom ons hoor wat Jesus vir Marta gesê het want Hy wil dieselfde bemoedigende woorde vir ons ook sê:

Johannes 11:40 Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die mag van God sien nie?”

Dis nie vir my nodig om oor die mag van die Here te spekuleer nie. Dis nie my afdeling nie.

Al wat Hy van my verwag is om die klip van beswaar en ongeloof weg te rol sodat Hy met Sy werk van opwekking en vernuwing kan begin.

Daar was net een iets wat Jesus gevra het: “Rol weg die steen.”

So dikwels plaas ons ‘n steen van onmoontlikheid voor die mooi dinge wat ons begrawe het.

Ons aanvaar so maklik dat dit wat verkeerd geloop het, vir ewig gesterf het. En dan plaas ons ‘n steen van finaliteit daarvoor.

AUGUST EN CAROL

Terwyl ek in Parys gewoon het, het ek gereeld ‘n oproep van hierdie Suid-Afrikaanse dame van Vanderbijlpark gekry wat met ‘n Duitser getroud was. Sy het gebel wanneer hy haar geslaan het.

Sy het dan ‘n klip voor die gestorwe verhouding gerol en gesê dis verby.

Wanneer ek hulle besoek het, het hy my vertel hoe sy vrou hom getart het. Dis dan wanneer hy sy humeur verloor het en haar getik het.

Hy het ‘n steen van “dis-onmoontlik-vir-die-huwelik-om-opgewek-te-word” voor die graf van die huwelikslyk geplaas.

Ek onthou nog die laaste keer toe ek daar besoek het. Hulle het saam met my uitgestap. Sy het aan die een kant van die lang hek gestaan, en hy aan die anderkant.

Ek sê toe vir hulle dat ek nie met hierdie treurige prentjie na Parys kan terugry nie. Hulle moet vir my net ‘n klein bietjie nader aan mekaar staan.

Die twee mense het huiwerig nader beweeg maar nog nie genoeg na my sin nie.

Ek het hulle verder aangepor tot hulle teen mekaar was. En toe vra ek hulle om mekaar vas te hou.

En dis met daardie prentjie wat ek die donker nag na Parys aangedurf het.

Hulle het die steen van ongeloof voor ‘n gestorwe verhouding weggerol deur nader aan mekaar te beweeg. En toe het die Here die wonderwerk gedoen.

Die Lasarus van hulle huweliksgeluk het weer opgestaan.

Die Here vra ons om net so ‘n ietsie te doen. Net die klip weg te rol. Versperrings te verwyder. Hy sal vir ons die res doen.
JOHNIE EN LESLIE IVES

Nadat ek die paartjie getrou het, het daar baie probleme ontwikkel. Alles asgevolg van haar obsessie met die lees van liefdesverhale en ander boeke. Ek het met haar oor haar verslaafdheid gepraat maar dit het niks gehelp nie.

Uiteindelik het haar man uitgetrek en toe met ‘n egskeidingsaak begin. Sy was platgeslaan, verwoes.

‘n Paar dae voor die skeisaak sou voorkom, het sy my laat roep. Toe ek by die woonstel aankom het sy my beloof dat sy nooit weer liefdesverhale en ander romanse sal lees nie.

Die probleem is dat die fantastiese ou in die boek altyd die vaal ou mannetjie met wie jy getroud, oortref.

Sy het met my gepleit dat ek haar man moet terugbring. Ek het hom toe gebel maar hy wou niks weet nie.

Ek sê toe vir haar dis nou te laat. Sy pleit by my om tog net weer ‘n keer te probeer.

Ek bel toe weer en vra hom om asb. tog net een keer weer oor te kom om oor haar nuwe voorneme te gesels. En toe vra ek hom nog ‘n ander groot guns.

“Bring asb. tog jou pijamus saam.” Kom rol die klip weg.

Ek sal nooit vergeet toe hy later die aand met sy pijamus daar aangekom het nie.

Daardie selfde aand het die Here die klip voor ‘n stink, dooie huwelik weggerol en dit nuut opgewek.

Rol die klip weg.

Doen net die stukkie meganika waartoe jy in staat is en kyk dan wat die Here vir jou kan doen. Bring jou pijamus saam.

DIE AKSIE

Marta vra ‘n paar van die sterk mans om haar met die wegrol van die klip te help. ‘n Walm styg in die neusgate van die roubeklaers op. Daar mag ‘n oomblik van onaangenaamheid wees wanneer ons die klip van beswaar voor ‘n gestorwe verhouding of droom wegrol. Gelukkig is dit net tydelik.
Johannes 11:41,42 Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

As ek daar was sou ek nie my oë toegemaak het nie. Ek sou gekyk het hoe Jesus met Sy Vader in gebed verkeer het. Daar is nie ‘n eentonige herhaling van woorde of ‘n emosionele geskreeu nie.

Hy wou hê dat die wonderwerk moes geskied sodat die mense sou glo dat God die Vader Sy Seun uit liefde gestuur het om hulle te kom red.

Verse 43,44 Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ‘n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ‘n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

As Jesus nie die naam van Lasarus genoem het nie, sou al die verlosdes wat in die grafte was, opgestaan het.

Wat ‘n skouspel! Johannes vertel ons nie van die verbasing van die skare mense nie. Hy vertel nie vir ons hoe die susters hulle broer uit die dode verwelkom het nie.

Johannes vertel vir ons dat die Woord van God mense uit die dood kan opwek. Nie net uit die fisiese dood nie, maar ook uit die geestelike dood.

Indien jy of een van jou dierbares geestelike gesterf het, het ek goeie nuus. Dieselfde Jesus wat Lasarus uit die dood opgewek het, wek nog steeds mense uit die dood uit op.

Neem Sy Woord en lees dit. Daar is opstandingskrag in heilige Skrif.

Dieselfde stem wat 2000 jaar gelede met ‘n groot stem geroep het: “Lasarus, kom uit!” roep vanoggend weer: “Kom uit jou graf van ongeloof, van geestelike onverskiligheid, van mislukkings. Staan op. Daar is ‘n groot werk vir jou om te doen.”

Ek wil vanoggend na Jesus se opwekkingstem luister en opstaan. Wat van jou?

Was this article helpful?

Related Articles