Openbaring Deel 12 – Die Sewe Basuine (Deel 4)

DIE SEWE BASUINE – VYFDE EN SESDE

Toe my pa nog geleef het en ek ‘n klein seuntjie was, het hy ‘n gesegde gehad. “Jou boekie is amper vol.” Weet jy wat hy daarmee bedoel het? My pak slae was naby. My stoutigeid het sy geduld uitgeput.

Sê my, as my pa net gewaarsku het en nooit pak gegee het nie, wat se soort pa sou hy gewees het? ‘n Pa wat nie eintlik vir sy kind omgegee het nie. Die slae wat ek by hom gekry het, het my die wêreld se goed gedoen. Dit het my groot lesse geleer wat my gehelp het om geestelik te groei.

En dit is ook die boodskap van die sewe basuine. Die Here sê vir Sy belydende kinders: “Julle boekie is amper vol.” En dan op ‘n dag wanneer daardie boekie heeltemaal vol is, word die regverdige slae uitgedeel.

Wie is uiteindelik vir die straf van volkere en indiwidue verantwoordelik? Die Here of die oortreders? Die Bybel se geskiedenis leer ons dat in die meeste gevalle, die mens self vir sy straf verantwoordelik is.

Iemand in Israel het hierdie wingerd naby Hebron geplant. Wat hierdie man gesaai het, sal hy ook maai. En net so werk dit ook in ons daagliks lewe. Ons maai wat ons gesaai het. Mag die Here ons help om baie versigtig te wees wat ons sê of wat ons doen. Iewers vorentoe moet elkeen van ons by ons eie banket van konsekwensies gaan aansit.

DIE EERSTE BASUIN – DIE JOODSE NASIE

In ons vorige lesing het ons ‘n studie van die eerste basuin en die Joodse nasie gemaak. Vir eeue het die Here met Sy volk gepleit kom hulle te bekeer. Die geskiedenis gee vir ons die tragiese verslag dat hulle vir eeue aanmekaar Sy liefde verwerp het.

En toe op ‘n dag was hulle boekie vol en hulle het die pak slae gekry waarvoor hulle gesoek het. Die “hael en vuur, gemeng met bloed”, waarvan Openbaring 8:7 praat, is die verwoesting wat Jerusalem en die Joodse nasie in 70 n.C. getref het.

‘n Mens sien hierdie hartseer ramp so duidelik wanneer jy die Yad Vashem museum in Jerusalem besoek. Die bome en die groen gras wat onder hierdie straf gely het, stel die belydende kinders van die Here voor. Dit was met groot hartseer dat ‘n God van liefde hierdie ramp toegelaat het. Maar Hy het geen ander keuse gehad nie. Die Joodse nasie het die Een wat hulle beskerm het verwerp en die gevolge daarvan ervaar.

Baie Jode en heidene wat van die verskriklike oordeel oor Jerusalem en die Joodse volk verneem het, het tot bekering gekom. Hulle het besef dat ongehoorsaamheid aan God se gebooie net tot rampspoed kan lei.

Die blaas van die eerste basuin het talle mense tot bekering geroep.

11. Die klaagmuur in Jerusalem is al wat oorgebly het na die verwoesting wat Generaal Titus in 70 n.C. aangerig het. ons kyk na die argeologiese bewys van die tragiese gevolge van die eerste basuin. Dit wat ons sien roep ons tot ernstige besinning.

DIE TWEEDE BASUIN – DIE WES-ROMEINSE RYK

Die Romeinse ryk was verantwoordelik vir die straf van die Joodse nasie. Uiteindelik het heidense en geestelike Rome een geword. Ongelukkig het die kerk baie van sy suiwer beginsels ingeboet en ‘n gedaante van godsdiens aangeneem.

Die geskiedenis leer vir ons dat die kerk onverdraagsaam teenoor mense geword het wat op leerstellige gebied met hom verskil het. Verskriklike vervolging het teenoor miljoene mense losgebars. Stadig maar seker het die boekie van die Wes-Romeinse Christelike kerk vol geraak.

Openbaring 8:8,9 “En die tweede engel het geblaas, en iets soos ‘n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En ‘n derde van die see het bloed geword, en ‘n derde van die skepe het vergaan.”

DIE DERDE EN VIERDE BASUINE

In 476 n.C. het die Barbare die Westelike Romeinse ryk binnegeval en verower. God het hartseer toegekyk want Hy kon hulle nie verdedig nie. Hulle het Hom hulle skild deur hulle eie ongehoorsaamheid verlaat en nou was hulle weerloos.

Die veroweraars het mettertyd deel van die westelike Romeinse kerk geword. Hulle was egter meer heidens as Christelik.

Die argeologie van St. Clemens in Rome sê vir ons dat hierdie addisionele heidense komponent ook in die Christelike kerk geabsorbeer is.

Dit was ook in hierdie tyd dat Sondagviering deur wetgewing op die mensdom afgedwing is. Christene wat volgehou het om die Bybelse sabbat te vier, is vervolg.

In ons vorige lesing het ons gesien dat die ster van die derde basuin wat Alsem genoem word, die duiwel is. Hy het die geestelikes as agente gebruik om die suiwer water van die evangelie met die valse leerstellings van die heidendom bitter te maak.

Die vierde basuin het geblaas en die son het ‘n derde van sy glans verloor. Kan u onthou wie die son voorstel? Jesus.

Hierdie nuwe kerk het beelde aanbid. Hulle het ‘n nuwe priesterorde ingestel. Mense kon by die priester gaan sonde- lydenis doen. ‘n Substituut priesterorde is ingestel. Al hierdie valse leerstellings het die pragtige lig van Jesus se Hoëpriesterlike werk, die Tamid, verdof.

Die Here het dit alles toegelaat want Hy respekteer die mens se vrye keuse. Ongelukkig moet ons die gevolge van elke verkeerde besluit een of ander tyd in die gesig staar. 2 Thessalonicense 2:10 praat van mense wat “verlore gaan omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.”

Luister hoe ernstig stel Prediker 11:9 dit:

Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring.”

Iewers vorentoe, soos ek vroeër gesê het, sal elkeen van ons by die banket van eie konsekwensies, moet aansit. Mag die Here gee dat die items wat op ons spyskaart is, nie bitter sal wees nie, maar stroop soet.

DIE VYFDE BASUIN

Die sewe basuine het betrekking op die drie groot godsdienste van die wêreld. Judaisme, die Christelike godsdiens en Mohammedanisme. Al drie hierdie godsdienste bely die Skepper God.

Tydens die bespreking van die volgende twee basuine, gaan ons meer aangaande die opkoms en werk van Mohammedanisme hoor. Maar kom ons luister eers na ‘n aankondiging wat in Openbaring 8:13 gemaak word.

“En ek het gesien en gehoor ‘n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met ‘n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas.”

Die eerste vier was erg genoeg, en Johannes moes gewonder het wat alles tydens die volgende drie basuine sou gebeur.

VYFDE BASUIN

Openbaring 9:1 “En toe die vyfde engel blaas, sien ek ‘n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.”

Verse 2,3 “En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van ‘n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister. En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het.
Verse 4-6 En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie. En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van ‘n skeprioen wanneer hy ‘n mens steek. En in die dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.

verse 7 “En die voorkoms van die sprinkane was soos die van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.

Verse 8-12 “En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos die van leeus. En hulle het borsharnasse gehad soos yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie stydwaens met perde wat opruk na die oorlog. En hulle het sterte gehad soos die van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen.

Verse 11,12 En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks het hy die naam van Apollion. Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë.”

Wat ‘n ingewikkelde beskrywing om die opkoms en ontwikkeling van Islam te beskryf. Maar ek wil net vir u sê dat Johannes nie een woord te veel gebruik het nie. Dis ‘n baie raak beskrywing van een van die grootste godsdienste in die wêreld.

Een van die eerste Bybelkenners wat die opkoms van Islam in die vyfde basuin gesien het, was die groot hervormer, Martin Luther. Ander bekende denkers soos Sir Isaac Newton was van dieselfde mening as Luther.

Waarom is dit so belangrik om te hoor wat die Bybel alles oor Islam sê? Omdat hulle vir 1300 jaar ‘n geweldige impak op die Christen-nasies gehad het. En hier dink ek byvoorbeeld aan invloede soos die ekonomie, kultuur, militêr en godsdiens.

BETEKENIS VAN “DERDE”

Terwyl ek na die verligte Damaskuspoort in Jerusalem kyk, herinner ek myself net daaraan dat in die studie van basuine ‘n “derde” van iets, vir ‘n spesifieke godsdienstige entiteit staan.

Die “derde” van die eerste basuin het na die Joodse nasie en hulle hoofstad, Jerusalem verwys. Ons kan ook praat van Judaïsme en sy Jerusalem tempel.

Die “derde” van die tweede basuin het na die Westelike Romeinse ryk en sy hoofstad Rome verwys. Tydens die derde basuin het “derde” na die Westelike Christendom onder leiding van die Roomse Katolieke Kerk verwys.

Die term “derde” in die vierde basuin verwys na die Koninkryk van God wat in die hemelse heiligdom is. Wat sou die term “‘n derde van die mense” tydens die vyfde en sesde basuine beteken?

Dit verwys na die Griekse Ortodokse Oostelike Romeinse Ryk en sy godsdienstige en politieke hoofstad, Konstantinopel. Die oostelike Romeinse Ryk staan ook as die Bisantynse Ryk bekend. Die naam is afkomstig van ‘n dorpie, Bisantium, wat in 330 n.C. Konstantinopel geword het. Vandag praat ons van Istanbul. Dis die stad met talle skatte van Kalifs en Keisers.

Dis ‘n belewenis om na al die skatte te kyk wat in die Dolmabachi en Topkapi museums uitgestel word. Die erfenis van talle van Mohamed se besittings word hier uitgestal.

Die Bisantynse Ryk het amper ‘n 1000 jaar langer as die Westelike Romeinse Ryk bestaan. Een van die redes hiervoor was die feit dat hulle nie so wreed en onverdraagsaam soos hulle Roomse bure was nie.

Maar die oordele sou ook op hulle val. In die jaar 1453 kom die Bisantynse Ryk tot sy einde. Die magtige Mohammed II, wat ook die Veroweraar genoem word, beleër en verower Konstantinopel.

Terloops, die huidige muur wat die ou stad van Jerusalem omring, is deur Mohammed II se seun opgerig. Sy naam was Suleiman die Luisterryke. Hierdie bouwerk is in 1542 n.C. gedoen.

Aangesien Openbaring 9:3 Islam met sprinkane vergelyk, sal dit goed wees om net vlugtig na die gewoontes van die woestynsprinkaan te kyk. Byvoorbeeld, wanneer dit ‘n droë jaar is, broei net ‘n paar van hulle uit. Hulle is gewoonlik groen en spring net in hulle eie omgewing rond.

Maar tydens goeie jare broei hulle in hulle miljoene uit en vlieg in swerms. Hulle lyk nie groen soos die sprinkane van die droogte nie. Hulle het swart en helder geel strepe asook kolle.

Dis interessant om daarop te let dat die swerms na ongeveer 60 lande toe vlieg. Onder andere Noord-Afrika, Spanje en Turkye. Hulle vlieg ook tot in Iran, Pakistan en Indië.

Wat baie interessant is, is die feit dat dit ook meestal die lande is waarheen Islam versprei het.

DIE GELOOF VAN ISLAM

Terwyl ek die Topkapi museum in Istanbul besoek het, het ek aan die geskiedenis van Islam gedink. Dit wat hierdie mense glo het grootliks hulle optrede in die verlede bepaal. En vir hierdie rede is dit baie belangrik om te weet wat hulle Koran leer.

Die geestelike vader van die Moslems word Mohammed genoem. Daar word beweer dat hy in 612 n.C. sekere gesigte, visioene gehad het. ‘n Skildery in die Topkapi museum sê dat hy sy heel eerste visioen op die berg Hira, naby Mekka ontvang het.

Sy visioene is almal in ‘n boek opgeskryf wat die Koran genoem word. Hy glo daar is net een God en Hy noem Hom in Arabies Alla. Mohammed identifiseer Alla as dieselfde God wat deur Abraham, die Jode en Jesus aanbid word. Die Christelike glo natuurlik dat God ‘n Seun gehad het wat vir ons sondes kom sterf het.

Nog ‘n voorstelling van Mohammed in die Topkapi museum. Hy doen ‘n beroep op sy volgelinge om poloteïsme, die aanbidding van baie afgode op te gee. Hy vra hulle om voortaan net vir Alla alleen te aanbid. Ons noem dit monoteïsme.

Mohammed leer sy volgelinge dat Alla baie aprofete gehad het. Onder andere Jesus. Maar hy Mohammed, beskou homself as die laaste en die belangrikste van alle profete.

Vyf keer per dag, vanaf die minaret langs die moskee, hoor mens die oproep tot gebed wat deur die profeet voorgeskryf is.

“Daar is geen God behalwe Alla nie, en Mohammed is Sy profeet.”

Wanneer mens die Koran lees, kom jy op ‘n paar skokkende uitsprake af. Onder andere word volgelinge van Mohammed aangemoedig om aa die sogenaamde heilige oorloë deel te neem. (Asof ‘n oorlog heilig kan wees) En mense wat dan in hierdie heilige oorloë sterf, die Jihad, sal baie ryklik deur Alla in die paradys beloon word.

“He will admit them to the paradise he has made known to them.”

Verder sê die Koran dat as ‘n Moslem sy geloof versaak en ‘n Christen word, hy of sy doodgemaak moet word. Dit klink vir my so ‘n bietjie onverdraagsaam.

ISLAMITIESE UITBREIDING

Islam is ‘n sending-godsdiens. Na Mohammed se dood het sy opvolger, Abu Bakr die Arabiese leërs verenig en met militêre verowering begin. Die verowerdes word byna gedwing om die Moslemgeloof te aanvaar.

In 711 n.C. verower die Moslems die suide van Spanje. Frankryk sou die volgende land wees wat hulle sou verower. Maar in 732 by Tours word die Moslem gety deur Charles Martell gekeer.

As hierdie Christelike generaal nie die militêre Moslem gety gestuit het nie, kon Europa dalk vandag oorheersend Moslem gewees het. Ek glo die Here was self by hierdie slag betrokke om die Christelike geloof ‘n kans op oorlewing te gegee het.

DIE MOSLEMS SE AANVAL OP OOS-EUROPA

Tussen 674 en 677 n.C. het Islam massiewe land en see aanvalle op die hoofstad van die Bisantynse Ryk gemaak. Kanstantinopel het baie swaar gekry.

In 717 en 718 het die Moslems weer ‘n land en see aanval op Konstantinopel geloods. Hierdie keer het hulle 1800 skepe gebruik. Maar die Christene het die aanval suksesvol afgeweer. Dit is met ‘n skrikwekkende geheime wapen gedoen wat die Griekse vuur genoem is. Die formule is tot vandag toe nog ‘n geheim. Maar hierdie vuur kon ook op water dryf en het verskriklike verwoesting onder die Moslem skepe aangerig.

ISLAM EN DIE VYFDE BASUIN

Die sprinkane van die vyfde basuin het uit die donker “rook” van die “put” uitgekom. Hierdie duisternis, net soos tydens die vierde basuin, stel valse leerstellings voor wat die waarheid aangaande God die Vader en Jesus ontken. En dis presies wat ons in die Koran vind.

Die “put” of “skag” kom van die Griekse woord “Abussos” wat onmeetlik beteken. Dit stel die uitgestrekte woestyne van Arabië voor. Baie gedeeltess is vandag nog steeds onbewoonbaar. Dis vanaf hierdie gedeelte dat Mohammed gekom het.

Die “ster” wat vroeër uit die hemel “geval” het – die “koning” wat “Abaddon” “Apollion” genoem word – is Satan wat deur Islamitiese leermeesters en Kalaiefs werk.

Dis baie interessant om die Islamitiese museum in Istanbul te besoek. Die “krone” wat Johannes op die sprinkane sien, is die tulbande wat hierdie mense destyds gedra het. En die “vrouehare” is die lang hare wat die Arabiere ook destyds gedra het.

Die “vlerke” van die sprinkane, net soos die vlerke van die luiperd in Daniël 7, stel die spoed voor waarmee die vroeë Arabiere die wêreld verower het.

Die simboliese sprinkane, die Mohammedane, was verbied om “enige groenigheid” of mense wat die “seël van God” het, te beskadig. Ons het in die vorige lesing gesien dat “groen” dui op die kinders van die Here.

Dis baie interessant om daarop te let dat Christene in Armenië en Etiopië wat die Sabbat gehou het, is nie deur die Moslems gemolesteer nie.

VYF MAANDE

Die sprinkane is toegelaat om vir “vyf maande lank mense skade aan te doen” En soos ons vroeër gesien het, ‘n “derde van die mense” dui op die Bisantynse Ryk en sy godsdiens, en Konstantinopel, die oostelike hoofstad van die Christendom.

Vyf profetiese maande van 30 dae elk, verteenwoordig 150 jaar. Is dit hoe lank Konstantinopel onder die aanvalle van Islam gely het? Ja.

Geskiedenis vertel vir ons dat die eerste geweldige, maar vrugtelose aanval op Konstantinopel in 674 plaasgevind het. In 823 n.C., ‘n 150 jaar later, is die laaste Moslem aanval op die stad gemaak. (Volgens die Bybel se voorbeeld van inklusiewe berekening is dit ‘n fantastiese akkurate vervulling van profesie.)

Die Bybel is darem ‘n baie akkurate voorspeller. Vir 150 jaar is die hoofstad van die Oos-Romeinse Ryk, die Bisantynse Ryk aangeval – gepynig soos die profesie sê. Tenspyte van die militêre aanvalle het hy staande gebly.

Maar ongelukkig het hierdie Christene nie aangehou lewe soos hulle moes geleef het nie en die rampe het hulle oorval. Hoedanig leef ek en jy? Groei ons of gaan ons agteruit.

DIE SESDE BASUIN

Openbaring 9:12-14 “Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë. En die sesde engel het geblaas, en ek het ‘n stem gehoor uit die vier horings van die altaar wat voor God is, en die het aan die sesde engele met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.

Verse 15-17 Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En so het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan.

Verse 18,19 Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het; want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan.

Verse 20,21 “En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde e hul towery en hul hoerery en hul diefstal nie.”

Vir hoe lank sal Islam probeer om Konstantinopel te verower? Kan u nog onthou? Openbaring 9:5 sê vir vyf maande. Hulle sou pyniging toedien maar hulle sou nie dood maak nie. Kom ons lees dit:

“En dit is aan hulle gegee om nie dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word…” Hoe lank is vyf maande? 150 dae.En hoe lank is ‘n dag in ‘n profetiese konteks? Een jaar. Soos ons reeds gesien het, bevestig die geskiedenis die vervulling van hierdie merkwaardige voorspelling.

Kom ons hoor wat na hierdie mislukte pogings gebeur het. Rondom die jaar 1000 maak die Seljuk Turke hulle verskyning. Hulle val Iran binne en neem toe sommer ook die Moslemgeloof aan. Hulle was uit die staanspoor meer dinamies, energiek en agressief as al die ander Islamitiese volke.

Hulle verdeel in faksies en skaar hulle by gewilde leiers. Vers 14 praat van hulle as “die vier engele” naby die boloop van die “groot rivier, die Eufraat.”

Hulle militêre doelwit was die verowering van Klein Asië maar hulle was “gebind” by die “groot rivier, die Eufraat” deur die Bisantynse wagte wat by die Pontik- en Taurusberge gestasineer was.

Op hierdie kritieke tydstip sterf die Bisantynse keiser. Sy weduwee trou met ‘n generaal met die naam van Romanus. Hy ruk teen die Seljuk Turke op, maar verloor die geskiedkundige slag van Manzikert naby die boloop van die Eufraat.

Hierdie oorwinning het nou die Seljuk Turke in staat gestel om deur die onbewaakte Taurusberge te breek en klein Asië te verower.

Terwyl die Seljuk Turke te perd deur die bergpasse gekrioel het, en die wêreld geplunder het, het hulle soos “twee maal tienduisend maal tienduisend” vir Johannes gelyk.

DIE TURKE MAAK DIE BISANTYNSE RYK “DOOD”

Openbaring 9:15 voorspel dat die leërs van perderuiters, die Turke, “‘n derde van die mense (sou) dood…maak.” Soos ons vroeër gesien het, is dit ‘n entiteit nl. die Bisantynse Ryk en sy hoofstad Konstantinopel.

Ons wil weet of die Bybel presies voorspel het hoe die Moslems Konstantinopel sou verower. Ja. En dis baie dramaties.
Openbaring 9:17 “En in hierdie gesig het die perde en hulle ruiters so gelyk: hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se kopppe was soos die koppe van leeus, en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael uitgekom.”

Die astronomiese getalle, die vuur, die rook, die swawel is natuurlik beeldspraak. Maar daar is ‘n baie sterk verband tussen die beeldspraak en die werklikheid. Weet u waarom? Dit was in hierdie tyd dat die Turke buskruit uitgevind het.

Een van die hoofbestandele van buskruit is “swawel.” Wanneer dit ontplof is daar groot hoeveelhede “rook.” Buskruit word gebruik om projektiele uit lang buise te skiet. En Johannes beskryf dit asvolg: “…Want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan.” Vers 19.

Met hierdie nuwe militêre wapentuig slaag die Ottomaanse Turke daarin om Konstantinopel op 29 Mei 1453 te verower. Hierdie verowering bring ‘n einde aan die Bisantynse Ryk wat vir baie eeu bestaan het.

Soos die boek Openbaring dit stel: Hulle het hom “doodgemaak.” Die sesde basuin het geblaas, en die Oos-Romeinse Ryk het saam met die Grieks Ortodokse kerk hulle oordeel ontvang.

DIE OTTOMAANSE RYK ONDERSTEUN DIE HERVORMING

Dis baie interessant om daarop te let dat die nuwe Ottomanse Ryk tot ‘n groot mate die groot hervorming van die vyftien honderds moontlik gemaak het.

Karel V wou Luther en Protestantisme uitroei maar die Ottomaanse Turk, Suleiman die Luisterryke, het hom dit nie toegelaat nie.

Een geleerde, Kenneth Oster, sê op bladsy 72 van sy boek “Islam Reconsidered”: “Daar sou glad nie Protestantisme gewees het as daar nie ‘n Turk was nie.”

Vers 15 sê vir ons hoe lank die Ottomaanse Ryk ‘n impak op die wêreld sal hê. ‘n Dag, ‘n mand en ‘n jaar. Wanneer mens dit optel, kry jy 391 dae. In ‘n profetiese konteks staan een dag vir een jaar.

By watter jaartal kom mens uit wanneer jy 391 by 1453 tel? 1844. Is dit nie fasinerend interessant nie! Die Here wil hê ek en jy moet weet in watter ernstige tye ons leef.

DIE LESSE WAT DIE BASUINE LEER

Die geskiedenis van die godsdienste van die wêreld is ‘n baie hartseer een. Judaïsme het mense vervolg en mishandel; die Christelike kerk doen dieselfde. Islam kom en hy openbaar dieselfde gesindheid van onverdraagsaamheid. Wat van jou en my?
Openbaring 9:20 sê dat Islam homself nie bekeer het nie. Hulle is gevolglik net soos die Jode en Christene voor hulle gestraf. En nou moet ek in my eie lewe inkyk. As godsdiens my nie help om ‘n meer verdraagsame buurman, lewensmaat, ‘n meer verdraagsame ouer of kind te wees nie, dan het die godsdiens wat ek beoefen my ook gefaal.

Sal ons wêreld beter word? Sal die Joodse godsiens, die Christengodsdiens of die Moslemgodsdiens eendag meer verdraagsaam teenoor mense word? Nee.

Dit gaan vererger en op die grootste vervolging ooi uitloop. Die sand van tyd het byna uitgeloop. Die einde is hier. Luister net wat tydens die sewende basuin gebeur?

Openbaring 11:18 “En die nasies was vertoorn, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat U Naam vrees, klein in groot, en om die verderwers van die aarde te verderf.”

In hierdie lesing het ons gesien hoe Jesus vir Johannes die gordyn op die toekoms oopgetrek het. Ons het gesien hoe die Here individuele nasies in die verlede huiwerig gestraf het deur hulle te laat maai wat hulle gesaai het.

Binnekort gaan Jesus die menslike ras in totaliteit straf. Gelukkig is daar nog tyd om tot inkeer te kom. Daar is nog tyd om vir Jesus te vra om vir ons harte vol verdraagsaamheid te gee.

Die sewende basuin het nog nie geblaas nie. Laat ons baie vinnig die groot lesse van die basuine ter harte neem en gereed maak vir die koms van Jesus ons Verlosser op die wolke van die hemel.

Was this article helpful?

Related Articles