Openbaring Deel 39 – Gog En Magog, Wie Is Hulle?

GOG EN MAGOG – WIE IS HULLE?
Terwyl die profeet Esegiël in Babilon was, het hy aangrypende visioene gehad. Nie net oor Juda nie maar ook oor sy bure.
Hy het byvoorbeeld voorspel dat Tirus sou verdwyn. Die jaar toe hy die voorspelling gemaak het, 586 vC. het saam met die vernietiging van Jerusalem geval. Die vervulde profesieë van Esegiël oor Tirus maak van hom ‘n betroubare profeet.
Kom ons lees aangaande ‘n ander baie interessante profesie van hierdie besondere profeet:
Esegiël 38:1,2 VERDER het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, rig jou aangesig teen Gog, in die land Magog, die vors van Ros, Meseg en Tubal, en profeteer teen hom.

Wie is hierdie Gog? Wat gaan hy alles doen?

Dis ‘n naam wat Esegiël gekies het vir die leier van ‘n heidense menigte. Hulle sou die herstelde Joodse staat aanval. Wanneer? Nadat die ballinge vanaf Babilon teruggekeer het.

Vers 14 Daarom, profeteer, o mensekind, en sê aan Gog: So spreek die Here HERE: Sal jy dit nie opmerk in dié dag as my volk Israel veilig woon nie?15 Dan sal jy kom uit jou woonplek, uit die agterhoeke van die Noorde, jy en baie volke saam met jou wat almal op perde ry, ’n groot menigte en ’n magtige leër;
Vers 16 en jy sal optrek teen my volk Israel soos ’n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees – dan sal Ek jou teen my land laat aankom, sodat die nasies My kan ken as Ek My in jou, o Gog, voor hulle oë as die Heilige laat ken.

Aan wie rig die profeet hierdie profesie? In die historiese konteks aan Juda. Is hierdie profesie ooit vervul? Nee. Waarom nie?

Was die profesieë aangaande Israel en Jerusalem se toekomstige roem en glorie voorwaardelik of onvoorwaardelik? Wat sê die Bybel?

Jeremia 18:7,8 In een oomblik sal Ek spreek oor ’n nasie en oor ’n koninkryk om dit uit te ruk en om te gooi en te vernietig;8 maar as dié nasie waaroor Ek gespreek het, hulle bekeer van hul boosheid, sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan was om hulle aan te doen.
Verse 9,10 En in ’n ander oomblik sal Ek spreek oor ’n nasie en oor ’n koninkryk om dit te bou en te plant;10 maar as hulle doen wat verkeerd is in my oë deur na my stem nie te luister nie, dan sal Ek berou hê oor die goeie waarmee Ek gesê het dat Ek aan hulle goed sal doen.
Waarom is Nineve in Jona se dag nie vernietig nie?
Die Assiriërs het hulle self van hulle verkeerde weë bekeer.

Hoedanig was Israel se gedrag na die ballingskap? Van sleg na slegter. Hoe is hulle profete behandel? Wat het hulle met die Messias gemaak toe Hy gekom het?

Het hierdie profesie ooit in vervulling gegaan? Nee. Hoekom nie? Israel het sy rug op God gedraai. Wie het die plek van letterlike Israel ingeneem? Almal wat verlossing deur Jesus aangeneem het.

Kan ons verwag dat die seëninge wat aan letterlike Israel beloof is, op geestelike Israel kan oorgaan? In die fynste, letterlike detaile of soos die nuwe Testament dit verduidelik? Het die Here al teen hierdie sogenaamde Gog geprofeteer?

Esegiël 38:17 So sê die Here HERE: Is jy dit van wie Ek in die voortyd gespreek het deur my knegte, die profete van Israel, wat in dié dae geprofeteer het, jare lank, dat Ek jou teen hulle sal laat aankom?

Sal ons hierdie profesieë ook iewers in die Bybel raakloop?

Waar lees ons vir die eerste keer van ‘n vyandskap tussen Christus en Satan? Dit kom van die tuin van Eden.

Genesis 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

In die poorte van die tuin vertel Jesus vir twee verloorders van goeie nuus. Uiteindelik gaan die slang, die duiwel se kop vermorsel word.

Ongelukkig sal Jesus die bytwonde van die slang deur die ewigheid saam met dra. Ons sal voortdurend herinner word aan die prys wat vir ons verlossing betaal is.

Verwys die profeet Esegiël ook na die konflik tussen Christus en die Satan?

By antieke Tirus het die wrede vors van Tirus gewoon. Die profeet Esegiël gebruik hom as ‘n tipe van die Koning van Tirus die Satan.

Esegiël 28:11,12 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:12 Mensekind, hef ’n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid.
Vers 15 Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.
Waartoe het hierdie ongeregtigheid die duiwel gelei? Hy het met ‘n oorlog teen God begin.

Vers 17 Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.

Vers 18,19 Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek ’n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het.19 Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het ’n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.

Gog gaan sy laaste oorlog teen die kinders van Here verloor. Hoe sou die Here optree?

Vers 19 sê daar sal ‘n groot aardbewing wees. Dit is wat in letterlike Israel sou gebeur? Het dit gebeur? Nee.

Gaan hierdie oorlog uiteindelike teen geestelike Israel gevoer word? Gaan daar ‘n aardbewing wees?

Openbaring 16:17,18 En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ’n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ’n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ’n geweldige groot aardbewing.
Soos wat God destyds teen Gog en sy hordes sou optree, so gaan Hy binnekort teen…? Die aarde gaan deur God se mag geskud word soos die mense brein dit nie kan indink nie.
Maar daar is nog iets wat die Here gaan gebruik om die vyand te verslaan. Wat dink jy kan dit wees?
Vers 21 Die swaard van die een sal teen die ander wees.
Het God hierdie metode in die verlede gebruik?
Rigters 7:22 En toe die driehonderd op die ramshorings blaas, het die HERE die swaard van die een teen die ander gerig, ja, in die hele laer.

Al die oorloë waar die Here vir Sy volk geveg het, is tipies van die eindtyd oorlog waar die Here vir die laaste keer vir Sy volk gaan veg. Hier in die omgewing van Tekoa het ‘n soortgelyke oorlog plaasgevind.
2 Kronieke 20:20 Daarop maak hulle die môre vroeg klaar en trek na die woestyn van Tekóa uit; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.
Vers 21 En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die HERE sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die; gewapendes moes sê: Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
Gaan daar by die laaste oorlog teen Gog gesing word?
Net voor die slag van Armagedon plaasvind, sing die nuwe Israel ‘n lied:
Openbaring 15:3,4 En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!

Ek wil eendag in hierdie koor sing. Wat van jou?

Kom ons keer terug na die Tekoa-omgewing:

Vers 4 Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het.

Vers 5 En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die HERE ’n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is.

Vers 23 Die kinders van Ammon en; Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp.24 En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, le hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie.

Die verhale van die Ou Testament, help ons om die inhoud van die boek Openbaring beter te verstaan. As die vyand van Israel in die Ou Testament hulle self vernietig het, sal dit in die eindtyd ook gebeur?

Openbaring 17:16 En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.
Daar is ‘n ongelooflike harmonie tussen die Ou Testament en die boek Openbaring.
Baie oorloë het in die Vlakte van Megido plaasgevind. Miskien is dit hier waar Gog vir Israel wou kom verslaan het.
Behalwe die swaard, die een teen die ander en die aardbewing, wat nog gaan die Here teen Gog gebruik?

Esegiël 38:22 En Ek sal met hom in die gereg gaan deur pes en deur bloed; en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs en op baie volke wat saam met hom is.
Kan jy jou indink watter ontsettende neerlaag Gog sou ly? Praat Openbaring van haelstene tydens Armaggedon?
Openbaring 16:18 En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ’n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ’n geweldige groot aardbewing.
Wat is die werk van die aasvoël?
Esegiël 39:17 En jy, mensekind, so spreek die Here HERE: Se vir die voëls van allerhande vere en vir al die wilde diere van die veld: Kom bymekaar en kom aan, versamel julle van alle kante by my slagoffer wat Ek vir julle slag, ’n groot slagoffer op die berge van Israel; en eet vlees en drink bloed!
By die vlakte van Megiddo dink ek: As die letterlike slag van Gog teen Israel hier plaasgevind het, sou letterlike aasvoëls hier gewemel het. Wat sê die boek Openbaring van die laaste groot oorlog?
Openbaring 19:17,18 Toe het ek ’n engel by die son sien staan. Hy het met ’n harde stem uitgeroep en vir al die roofvoëls, wat hoog in die lug vlieg, gesê: “Kom, kom bymekaar vir die groot feesmaal wat God gereed maak! 18 Kom eet die vleis van die konings, die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot.
Gog wat teen Israel sou kom veg, het ses bondgenote gehad om hom te help. ‘n Totaal van sewe. Waarop dui dit? Volmaaktheid. Al die magte sou teen letterlike Israel optrek.

Wat sê dit van die antitiepe. Al die bose magte sal in die eindtyd teen die volk van die Here optrek.

JESUS – DIE WARE ISRAEL

Wie is die ware Israel?

Hosea 11:1 TOE Israel ’n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.

Wie is die Israel wat uit Egipte geroep is?

Matteus 2:15 En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun Jesus) geroep.

Waar letterlike Israel en geestelike Israel gefaal het, daar het Jesus, die ware Israel oorwin.

Sou daar in die Nuwe Testament ‘n groot bose mag porbeer om Jesus dood te maak?

Handelinge 4:26,27 Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde.27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het,
Sal daar ‘n finale aanslag van die vyand Gog teen God en Sy kinders wees?

Openbaring 20:7,8 EN wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word;8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.

Wat gaan gebeur? Wat sou in Esegiël 38 en 39 gebeur het?

Vers 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.

Die oorlog wat teen letterlike Israel sou plaasvind, gaan uiteindelik teen geestelike Israel geveg word. Die vyand gaan verloor en God gaan wen.

En wie se kant is jy? Wie beheer jou lewe? Jou selfsugtige natuur wat deur Gog, die duiwel aangehits word of Jesus?

Leef jy die onselfsugtige lewe wat Jesus deur jou wil leef? Verloën jy jouself daagliks? Sterf jy daagliks vir jou gevalle natuur?
Mag ek en jy binnekort saam met Koning Jesus oor die bose magte van God en Magog triomfeer.

Was this article helpful?

Related Articles