1. Home
  2. Boeke Van Die Bybel
  3. Die Boek Openbaring
  4. Openbaring Hoofstuk 1 tot 22
  5. Openbaring Deel 20 – Hoofstuk 12, Die Vrou In Wit (Deel 2)

Openbaring Deel 20 – Hoofstuk 12, Die Vrou In Wit (Deel 2)

DIE VROU IN WIT – OPENBARING 12 – DEEL 2

Openbaring 12:6 En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ’n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend – tweehonderd – en – sestig dae lank

Baie welkom by die volgende twee gedeeltes van die hoofstuk 12 van Openbaring

Ons doen net so ‘n kort herhaling van die struktuur van die hoofstuk

Deel 1 van die drie dele van hoofstuk 12 verwys na die leiers in die stryd tussen goed en kwaad (1-6)Plek? Die hemel. Hoofkarakters? Glansende vrou. Draak. Die vrou se Kind Aksie? Die draak maak gereed om die kind te verslind. Resultaat? Die Kind word hemeltoe geneem en die vrou vlug die woestyn binne.

Deel 2. Oorlog in die hemel – verse 7-12

Plek? Hemel Hoofkarakters? Migael en Sy engele. Die duiwel en sy engele Aksie? Kosmiese oorlog Resultaat? Satan en sy engele word verslaan en uit die hemel gewerp

Deel 3. Die draak vervolg die vrou – verse 13-17

Plek? Die aarde Hoofkarakters? Die vrou, die draak, die vrou se nakomelinge Aksie? Vervolging deur die draak duur voort Reslutaat? Die vrou word onderhou. Die draak val haar nakomelinge aan.

DIE OORLOG TUSSEN DIE DRAAK EN MIGAEL

In deel twee verplaas Johannes ons aandag van die oorlog op aarde na die oorlog wat in die hemel plaasgevind het

Openbaring 12:7 En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;

Verse 8,9 En hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vind nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.

Wie dink jy is die Migael teen wie die duiwel in die hemel oorlog gevoer het?

Dink jy daar is ‘n verband tussen die Manlike kind wat die duiwel op aarde wou doodmaak en Migael teen wie hy in die hemel oorlog gemaak het?

Judas 9 praat van Migael as die aartsengel.

1 Thessalonicense 4:16 sê die volgende van die aartsengel: Die Here self sal van die hemel neerdaal met die stem van ‘n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

En dan sê Johannes 5:28 dat daar ‘n uur kom wanneer almal wat in die graf is Jesus se stem sal hoor. Die Migael teen wie die duiwel in die hemel geveg het, is niemand anders as Jesus nie. Sê my. Wie is die engel met die geopende boek van Openbaring 10?

Soos ons in ‘n vorige lesing gesien het, is die Migael van Daniël 12 en die engel van Openbaring 10 een en dieselfde Wese, nl. Jesus Christus, die Seun van God.

Die oorlog tussen Jesus en die duiwel het nog nie geëindig nie.
Hulle ontmoet daagliks op die slagveld van ons gemoed. En weet jy wat? Ons kan besluit wie die wenner gaan wees. As ek aan Jesus gehoorsaam is, wen Hy. As ek aan Hom ongehoorsaam is, wen die duiwel en verloor Jesus.

Luister hoe beskryf Esegiël die val van Lucifer:

Esegiël 28:12 “Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here Here: Jy was ‘n seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid.”

Wat het verkeerd geloop? Die Bybel sê vir ons hy het hoogmoedig geword. Hy het God se mag begeer, pleks van Sy karakter.

Die profeet Esegiël kondig sy tragiese einde in verse 19 aan.

“Al jou bekendes onder die volke is verbaas oor jou; jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.”

Waarmee word die duiwel uitgewis? Met vuur. Maar dis nie net die draak wat van die toneel verwyder gaan word nie. Almal wat sy beginsels van selfsug gevolg het, gaan ook vernietig word.

Openbaring 20:14,15 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

Ek en jy moet baie seker maak dat ons name in die boek van die lewe opgeskrywe staan. Hoe maak ‘n mens seker? Jy bely jou sondes en vra die Here om jou naam in Sy boek te skryf.

 

Genesis 3:15 “En ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”

In Genesis 3:15 voorspel die Here dat die slang, die duiwel, die vrou se Saad, dit is Jesus, eendag in die hakskeen gaan byt.

Waarna is dit ‘n verwysing? Maar die profesie het ook voorspel dat die slang se kop uiteindelik vermorsel gaan word. Ek het goeie nuus. Die duiwel is reeds ‘n verslane vyand.

Aan die kruis van Golgota het Jesus die duiwel se doodsvonnis kom teken. En binnekort gaan daardie vonnis voltrek word. Na afloop van Jesus se kruisdood, roep Johannes die volgende triomfantelike woorde uit.

Openbaring 12:10 “Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”

Hierdie teks het my diep laat dink. Hoe dikwels kla ons ook ons broeders aan? Hoe dikwels vind ek fout net soos die duiwel.

Kom ons vra die Here baie ernstig om die mag van die duiwel in ons lewens te breek en ons te help om op te hou om mense afbrekend te kritiseer. Hoe oorwin mens die duiwel se subtiele versoekings?

Openbaring 12:11 “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.”

Wanneer die sondaar in belydenis aan die voet van die kruis neerval, sidder die duiwel. Die oorwinning lê net in dit wat Jesus vir ons op Golgota gedoen het. Kom ons kyk lank na daardie gebeurtenis sodat ons oorwinnende Christene kan word.

Die duiwel het die oorlog teen Jesus in die hemel verloor. Hy het die oorlog teen Jesus op die aarde verloor. Maar hy is ‘n verbete vyand. Hy het nog nie opgehou oorlog voer nie.

Raai teen wie voer hy nou oorlog? Teen almal wat Jesus in opregte gehoorsaamheid wil volg. Kom ons lees wat vers 12 en 13 vir ons sê.

“Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.” Die enigste beskerming teen hierdie verwoede vyand lê in ‘n daaglikse waaragtige bekering en deeglike biddende Bybelstudie.
Vers 13 “En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het.”

VERVOLGING IN DIE EERSTE DRIE EEUE

Wanneer ‘n mens die geskiedenis van die eerste drie eeue studeer, ontdek jy watter soort mense vervolg is. Dit was diegene wat hulle geloof in Jesus bely het en wat aan Sy gebooie gehoorsaam was. Die twee word nooit geskei nie. Johannes 14:15.

Toe vervolging nie daarin kon slaag om die vroeë kerk te vernietig nie, het die draak sy taktiek verander en ‘n kompromie tussen die heidendom en die Christelike kerk bewerkstellig.

Die werktuig wat die duiwel gebruik het, was Keiser Konstantyn.

En die rein kerk, verander in die besoedelde kerk. Sou die Here weer vir Hom ‘n suiwer kerk stig? Ja.”Die kerk in die woestyn” het nou sy verskyning gemaak. Kom ons lees daarvan.

DIE KERK IN DIE WOESTYN

Vers 14 “Maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee , sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd.” “Tyd, tye en ‘n halwe tyd” kom natuurlik ook in Daniël 7:25 voor.

Waar lees ons van vlerke en ‘n woestyn?

Ons het uitgewerk dat tyd 360 dae voorstel, tye 720 en ‘n halwe tyd, 180. Saam gee dit vir ons ‘n totaal van 1260 dae. In ‘n profetiese konteks staan een dag vir een jaar. Met ander woorde, die kleinhorinkie mag het vir 1260 jaar vanaf 538 tot 1798 vervolg.

Numeri 14:34 en Esegiël 4:6 gee vir ons die sleutels om die dag jaar beginsel oop te sluit.

Dis baie belangrik om die Bybel toe te laat om homself te verklaar. Openbaring 12:14 verwys na die kerk, die vrou wat vir hierdie tydperk deur die draak vervolg gaan word. Kom ons vra vir vers 6 om vir ons te sê presies hoe lank ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd is.

Die antwoord is 1260 profetiese dae of letterlike jare. Die Bybel is waaragtig die Woord van God. Vers 6.

Beide Daniël en Johannes praat van hierdie vreeslike lang tydperk van pouslike oorheersing en vervolging. Sewe keer word daar na hierdie tyd verwys en elke keer dui dit op Rome. Kom ons lees wat vers 15 vir ons sê met betrekking tot die kerk en die draak.

“En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier.”
Wat is die betekenis van hierdie water?

Openbaring 17:15 sê vir ons “Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale.” Baie nasies het deelgeneem aan die vervolging van die vrou, die rein kerk.

Sal die vrou gedurende die 1260 jaar van vervolging oorleef? Watter voorsiening het die Here in die verlede vir Sy vervolgde kinders gemaak? Wat se voorsiening maak Hy vandag? Waar in die Ou Testmanent lees ons van arendsvlerke, van ‘n vyand en van ‘n woestyn?

Eksodus 19:4 Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het.

Openbaring 12:16 En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het.” Wie is die aarde waarvan hier gepraat word?

Openbaring 13:11. Dis die plek vanwaar die tweede dier van Openbaring 13 sy verskyning maak. Ons gaan hierdie vraag in die studie oor Openbaring 13 beantwoord.

Dis eintlik ‘n hartseer profesie. Eers het die aarde die vrou gehelp, maar soos ons in ons volgende lesing gaan sien, sal dieselfde aarde wat die vrou, die kerk gehelp het, uiteindelike teen haar draai.

VERVOLGING GEDURENDE DIE 1260 JAAR

Dit was my voorreg om op die spoor van die Katolieke vervolging te loop. Toe die kerk val en ‘n kompromie met die heidendom aangaan, het die opregte kinders van die Here na die onherbergsame dele van die Alpe in Noord Italië gevlug.

Die geskiedskrywer Wylie vertel vir ons dat die riviertjies in die Waldensiese valleie met kere rooi was. Weet u hoekom? Die kerk van Rome het hierdie mense langs die water geslag.

Die Waldensiese gesinne is na hierdie hoë bergpieke geneem en dan een vir een afgestamp. Die kerk van Rome het probeer om hulle geloof in die Bybel te ondermyn.

In die grot, Chisa de la Tana het 200 Waldensiërs op ‘n keer in die geheim kom kerk hou. Die vervolgers, werktuie van die draak het op hulle afgekom en al 200 met brandende fakkels versmoor.

Weet u wat was een van die sg. sondes wat hierdie mense gepleeg het? Hulle het die Sabbat van die Bybel gehou pleks van die Sondag wat die kerk ingestel het. Omdat die Sabbat die pragtige verlossing in Jesus simboliseer, haat die duiwel hierdie heilige instelling.

Jesus het ook na hierdie verskriklike vervolging in Matteus 24 verwys. In die museum by Torre Police sien mens hierdie skets waar die kerk van Rome Waldensiërs verbrand. Die kerk in die woestyn is swaar vervolg.

Maar hulle het ook ander metodes van verbranding beoefen. Ek het hierdie moderne Waldensiese meisie gevra om voor ‘n antieke bakoond te poseer.

Dis hoe dit binne lyk. Waldensiërs wat nie aan Rome gehoorsaam wou wees nie, is hierin geplaas. Die vuur is aangesteek. Hulle kon uitkom mits hulle Rome se oppergesag sou erken. Hulle het wel later uitgekom, maar nie lewendig nie. Net ‘n klompie as. Terwyl ek hier staan en peins, bid ek. “Here, hou my ook so getrou tot die dood toe.”

Die beeldhouer wat die vrou by Franschoek gemaak het, het die boodskap van Openbaring 12 verstaan. Die verhaal van die vervolging van die Hugenote, die Waldensiërs, die Albigensiërs word ‘n baie hartseer verhaal.

Ongelukkig het hierdie vrou wat vir soveel eeue die invloed van Rome suksesvol weerstaan het, gekapituleer en sommige van Rome se leerstellings aanvaar.

Sal die Here weer ‘n suiwer kerk aan die einde van tyd hê? ‘n Kerk wat nie deur Roomse leerstellings besoedeld sal wees nie? Die antwoord is ja. En weet u wat? Dis Sy grootste begeerte dat ek en jy deel van hierdie wêreldwye oorblyfsel kerk moet wees. Kom ons lees aangaande die eienskappe van hierdie kerk.

Openbaring 12:17 “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”

Hier kry ons ‘n beskrywing van hoe die laaste kerk op aarde gaan wees. As jy jou met hierdie kenmerke kan vereenselwig, is jy ‘n lid van hierdie kerk.

Openbaring 12:17 “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge

 

Hoe ernstig en intens is hierdie laaste oorlog teen God se kinders? Het jy die Here so lief dat jy gewillig is om vervolg te word?

“The last great conflict between truth and error is but the final struggle of the long-standing controversy concerning the law of God. Upon this battle we are now entering – a battle between the laws of men and the precepts of Jehovah, between the religon of the Bible and the religion of fable and tradition.” GC 582

Watter houvas het menslike godsdienstige tradisies op ons?

Openbaring 12:17 “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge

Hoe verstaan jy die woorde: “Hy het weggegaan om oorlog te voer?” Hy mag homself vir ‘n rukkie onttrek en homself vir die laaste groot oorlog voorberei.

Omdat hy van sy mislukkings bewus is, het hy besluit om die twee magtigste bondgenote op aarde te kry om hom te help. Wie is hulle? Die dier uit die see en die dier uit die aarde.

Tydens die laaste verbete verwoede oorlog teen die kinders van God gaan Satan al sy mag en alle bose aardse magte mobiliseer.

Ons stuur op ‘n krisis af wat te omvangryk is om te begryp. Is ons gereed vir die velste, wreedste aanslag van alle tye? Die volgende hoofstuk gee vir ons die grusame detail van die oorlog.

“The revelator, looking down the ages to the close of time, has declared,”The dragon was wroth…” The same spirit that in ages past led men to persecute the true church, will in the future lead to the pursuance of a similar course toward whose who maintain their loyalty to God. Even now preparations are being made for this last great conflict.” PK 605

Wat is die wapens wat ons in die laaste groot stryd sal moet gebruik om staande te kan bly?

Opnbaring 12:11 En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.

Dit sal goed wees as ons net vlugtig kyk na die oorlog tussen die kerk van God vanaf Jesus se geboorte tot by die wederkoms.

(1) Eers het die duiwel vir Jesus deur heidense Rome vervolg. (2) Daarna het hy sy vervolging teen die Christene voortgesit. Heidense Rome was weereens die werktuig. (3) Toe vervolg hy die kerk vir 1260 jaar deur pouslike Rome.

(4) Uiteindelik gaan hy “om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge. (5) Die kerk van die nakomelinge is die laaste kerk, die kerk van ons dag. Die Grieks praat van “haar nasate wat oorbly.” (6) God se oorblyfselkerk kan aan drie kenmerke geëin word.

Openbaring 14:12 “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”

Is ons lydsaam, geduldig? Is ons gehoorsaam? Het ons geloof in Jesus? Vertrou ons Hom volkome?

Kom ons lees Openbaring 12:17 weer ‘n keer “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” Weet u van so ‘n kerk?

Openbaring 12:18 “Die draak het toe op die seestrand gaan staan.” Johannes gee nou vir ons ‘n skokkende verduideliking van hoe die draak sy mag aan pouslike Rome gaan oorhandig.

Terwyl die beeld van die draak voor die oë van die profeet vervaag, verrys daar ‘n ander dier.

Openbaring 13:1,2 “En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos die van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag.”

Verse 3,4 “Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop.

Die mense het die draak aanbid omdat dit hy is wat die gesag aan die dier gegee het. Hulle het ook die dier aanbid en gesê: ‘Wie kan met die dier vergelyk word? En wie kan teen hom oorlog voer?’

Verse 5-7 “Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen.

Hy het teen God begin laster, hy het God se Naam en sy woonplek en die wat in die hemel bly, belaster. Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.”

Die laaste groot oorlog tussen Christus en die Satan gaan binnekort op die spits gedryf word. Die duiwel gaan mense deur wetgewing dwing om hom te gehoorsaam.
Terwyl byna die hele wêreld deur die duiwel mislei word, gaan daar ‘n klas mens wees wat ten volle aan Jesus se kant gaan staan. Net soos wat Daniël dit gedoen het.

Openbaring 14:12 “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; Hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”

Die lidmate van die eindtyd kerk gaan hulle nie deur die Satan en sy agente laat intimideer nie. Hulle sal liewer sterf as om ongehoorsaam aan God se gebooie te wees.

Die boek Openbaring sê die rein vrou, die kerk van die Here gaan binnekort triomfeer. Gaan jy saam met haar triomfeer? Dis middernag wanneer God Sy volk kom verlos. Maar dink net aan hulle onbeskryflike vreugde wanneer die lig van Jesus se wederkoms die aarde gaan verlig.

En sê nou net ek en jy is deel van die gereddes? Vir ewig verlos, vir ewig veilig. Mag voorbereiding vir Jesus se wederkoms die grootste prioriteit van ons hele lewe wees.

Was this article helpful?

Related Articles