Openbaring Deel 21 – Die Landdier (Deel 1)

DIE LANDDIER–DEEL 1

Wie is die dier wat uit die see verskyn? Watter ooreenkomste is daar tussen hom en die klein horinkie van Daniël 7? Sal hy die vervolging maai wat hy gesaai het?

Openbaring 13:10 As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word…

Terwyl die eerste dier rondom 1798 tydelik in Johannes se visioen vervaag, sien hy hoe ‘n baie interessante landdier verskyn.

Vers 11 En uit die AARDE het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak.”

Watter nasie het amptelike sy verskyning rondom 1798 gemaak? Volgens die profesie gaan hy ‘n supermoontheid wees.

Verse 12,13 En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense.

Vers 14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.

Daar is net een land wat aan al die kenmerke van hierdie supermoontheid voldoen, en dis die magtige Amerika. Toe die akkurate profetiese horlosie slaan, het hierdie reus verskyn.

Op 4 Julie 1776 word ‘n baie belangrike dokument onderteken. Amerika ontvang sy onafhanklikheid. Elf jaar later, in 1787 word die Amerikaanse grondwet finaal bekragtig.

Die dier uit die aarde word sterker en sterker. Terwyl ek die Statue of Liberty in New York besoek het, het ek aan die akkuraatheid van Bybelprofesie gedink.

Kan jy nog onthou watter jaar die pousdom sy dodelike wond ontvang het?

In daardie selfde jaar word Frankryk die laaste Europese moontheid wat die Amerikaanse onafhanklikheid erken en hulle skenk die Statue of Liberty om hierdie gebeurtenis te herdenk.

KOM UIT DIE AARDE

Openbaring 13:11 En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak.

Waaruit maak die eerste dier sy verskyning? Katolosisme maak sy verskyning uit die Europese see van mense, Amerika uit die ylbewoonde vasteland van Noord Amerika.

In Openbaring 12:16 lees ons die volgende aangaande die vrou, die kerk wat deur die draak vervolg is:

En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het.

Wat was die groot motivering dat Protestante na Amerika gevlug het? Katolieke vervolging het Protestante na Amerika laat vlug.

Johannes voorspel egter dat Amerika, uiteindelik soos ‘n draak gaan praat. Wanneer mens hierdie magtige land met sy Vryheid van spraak besoek, wonder jy of die profesie oor die draakagtigheid van Amerika ooit vervul gaan word. Hoe klink die draak se stem?

Openbaring 12:17 En die draak was vertoorn op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.

Die draak het ‘n vervolgende stem. Is dit hoe Amerika praat gaan? Hier het ons die verhaal van die eeue. Aanvanklik sien Johannes Amerika as ‘n kampvergter vir godsdiensvryheid.

‘n Land wat swaar onder Roomse verdrukking gely het, doen alles in sy mag om die gewete van die individu te beskerm. Maar wat gebeur? Net voor Jesus kom, gaan die magtige Amerika ook ‘n vervolgende mag word.

EINDTYD EIENSKAPPE VAN DIE LAND DIER

Toe die groot profetiese horlosie slaan, maak hierdie reus sy verskyning.
Wat verhouding gaan tussen die eerste dier en die tweede dier bestaan? Sal die land wat onder die vervolging van die Rome gely het ooit weer met so ‘n onverdraagsame stelsel wil hande vat? Die profesie ja. Maar dis nie al nie.

Die Bybel sê hy gaan ‘n beeld vir die eerste dier oprig. Kom ons lees dit versigtig:

Openbaring 13:12 En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is.

Wanneer gaan hy optree? Na die genesing van die dodelike wond. 1798. Aan wie gaan hy voorskyf? Die hele aarde. Wat beteken dit? Amerika sal aan die einde van tyd die enigste supermoontheid wees. Het hierdie profesie al in vervulling gegaan of nie?

Met verwysing na Amerika as die wêreld se enigste supermoontheid het “Time” magazine onlangs die volgende woorde op sy voorblad gedruk: Globo Cop. Die nuwe wêreld poliesman.

En dan die vraag. “Coming soon to your country?” Die profesie sê dat na Amerika se lamfase gaan hy ‘n draakfase openbaar. Daarna gaan hy valse vuur uit die hemel laat neerdaal om die mensdom te verlei:

Openbaring 13:14,15 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.

Wat dink jy is ‘n beeld van die dier? ‘n Beeld van die dier, moet iets soortsgelyks aan die dier wees. Hy moet die selfde beginsels as die dier handhaaf, en hy moet ook dieselfde doelstellings van die dier nastreef.

Hoe het die pousdom in die middeleeue opgetree. Kom ons maak baie seker want sy beeld gaan binnekort net so optree.

Daniël 7:25 En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel, en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oogegee word gedurende ‘n tyd tye en die helfte van ‘n tyd.

Hy peuter met die tien gebooie, en vervolg mense wat met hom oor hierdie saak verskil. Kom ons raadpleeg die bronne.
DIE KLEIN HORINKIE EN DIE WET VAN GOD

Vraag. Het u enige ander manier om te bewys dat die Kerk mag het om voorgeskrewe feesdae in te stel?

“Antwoord. As hy nie sulke mag gehad het nie, sou hy nie dit kon gedoen het waarin alle hededaagse godsdienstiges met hom saamstem nie hy sou nie die onderhouding van Sondag, die eerste dag van die week, kon ingestel het in die plek van die onderhouding van Saterdag, die sewendedag dag van die week nie ‘n verandering waarvoor daar geen skriftuurlike gesag is nie.” Stephen Keenan, A Doctrinal Catechism.

Het die antichris mense gedurende die 1260 jaar vervolg wat nie sy mensgemaakte Sondag wou eerbieding nie? Ja. Die eerste Sondagwetgewing tydens die Konsilie van Laodicea het slegs met ekskomunikasie gepaard gegaan.

Maar in die jaar 538 n.C. op die Konsilie van Orleans in Frankryk is mense ten strengste verbied om op Sondag enige werk te verrig. Oortreders sou deur die biskop vervolg word.

Ongeveer 600 nC. het die kerk ‘n valse dokument laat sirkuleer, genaamd “Die Brief van God”. Die volgende dreigemente word in hierdie document gemaak:

“Ek die Here vervloek Sondagontheiligers…As ‘n vrou op ‘n Sondag groente uit haar tuin haal, sal Ek gevleuelde slange stuur om haar borste stukkend te slaan.”

In die jaar 1054 nC. openbaar die Katolieke kerk sy grootste haat vir sabbat. Op Saterdagoggend, 16 Julie, terwyl daar voorbereidings vir die nagmaal gemaak word, stap ‘n pouslike afvaardiging by die kerk, Hagia Sofia in.

‘n Dokument word op die hoë altaar geplaas en miljoene Christene van die Grieks Ortodokse kerk word ge-ekskommunikeer omdat hulle die sabbat eerbieding. Wat beteken dit? Hulle is vir ewig hel toe gestuur.

Kan u al begin agterkom wat die “beeld van die dier” is wat Amerika wil oprig? Onthou dit moet soos middeleeuse Katolisme lyk.

Dit moet mense vervolg wat leerstellig met Rome verskil.

Luister na die volgende aanhaling uit die boek: Sunday’s Coming, bl. 91. Dis ‘n verwysing na ‘n sekere gedeelte uit die 1994 Catechism of the Catholic Church

“In respecting religious liberty and the common good of all, Christians should seek recognition of Sundays and the church’s holy days as legal holidays.”

Openbaring 13:14,15 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.

Vers 16 En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word.

Voor 11 September 2001 het ek vanaf die dak van die World Trade Centre in New York na die rykdom en mag van die grooste finansiële en militêre reus ter wêreld gekyk. Voor my sien ek ‘n vervulling van Johannes se visioen op die eiland van Patmos.

Hy sien hoe die tweede dier, Amerika, die eerste dier, die pousdom gaan ondersteun en die politieke en godsdienstige tonele oorheers. Wat sê Thomas P. Melady hiervan? Hy was vanaf 1989 tot 1993 die VSA se ambassadeur by die Vatikan:

“I believe that the U.S., as the world’s only superpower, and the Holy See, as the only world-wide moral-political sovereignty, have significant roles to play in the future. Their actions will impact the lives of people in all parts of the globe.” Sunday’s Coming, bl. 31.

‘n Beeld vir die pousdom sal dus ‘n ander godsdienstige mag wees wat volgens dieselfde patroon (modus operandi) optree godsdienstige gesagvoerders wat bevele aan die staat uitreik ‘n vereniging van kerk en staat.

Die vervolging van ketters deur die pousdom in die middeleeue, word ‘n voorbeeld, ‘n tipe van die eindtyd vervolging. Dit sal weer oor die kwessie van gehoorsaamheid gaan: of aan die gebooie van God of die van die anticrhis.

Wat het in Daniël 3 gebeur? Die koning van Babilon het ‘n groot beeld opgerig en ‘n universele godsdienstige dekreet uitgevaardig dat almal voor die beeld moes neerbuig.

Omdat gehoorsaamheid aan hierdie dekreed met die wet van God gebots het, het drie jongmanne geweier om voor die beeld te buig toe die musiek gespeel het. Dit wat op die dal van Dura gebeur het, is ‘n tipe, ‘n voorbeeld van wat binnekort gaan gebeur.

Omdat hulle ongehoorsaam was aan die gebod van die koning wat met die gebod van die Here gebots het, het hulle die doodstraf gekry. Wat leer die tipologie? Gaan daar weer ‘n doodstraf uitgevaardig word teenoor mense wat weier om ‘n menslike gebod te gehoorsaam? Baie beslis.

Openbaring 13:15 En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.

Gaan hierdie vonnis uiteindelik voltrek word? Wat sê die verhaal van Daniël 3? Inderdaad!

Nie een van die gehoorsame jongmanne het gesterf nie.Jesus self het by hulle in daardie vlamme kom staan en hulle beskerm. Die boek Openbaring sê vir ons die Here sal dit weer doen.

In ons volgende lesing gaan ons na vreeslikste eindtydgebeurtenis kyk. Ons gaan ontdek wat die merkteken van die dier is en waarna die getal 666 verwys.

Ons daar ooit ‘n tyd was waarin ons die Here met ons hele hart moet soek, dan is dit nou. As daar moedswillige sonde in jou lewe is, bely dit en laat staan dit.

Vra die Here om vir jou die volkome oorwinning daaroor te gee.

Was this article helpful?

Related Articles