1. Home
  2. Boeke Van Die Bybel
  3. Die Boek Openbaring
  4. Openbaring Hoofstuk 1 tot 22
  5. Openbaring Deel 5 – Briewe Aan Die 7 Gemeentes (Deel 3)

Openbaring Deel 5 – Briewe Aan Die 7 Gemeentes (Deel 3)

DIE SEWE GEMEENTES DEEL III

DIE BRIEF AAN DIE GEMEENTE VAN PERGAMUM EN TIATIRE

Ons verlaat die moderne stad van Izmir, Bybelse Smirna en ons reis verder noord na Pergamus of Pergamum soos die nuwe vertaling dit noem. Al sewe gemeentes het op die antieke Romeinse posroete gelê en was so tussen 50 en 70 kilometers uitmekaar.

Die moderne Turkse naam vir Pergamus is Bergama. Dis voorwaar ‘n stad met ryke geskiedenis. Wanneer mens na die profetiese tydsgleuf van hierdie gemeente kyk, vind jy dit strek vanaf 313 tot 538 n.C. Kan jy nog onthou wat die profeet Daniël aangaande hierdie lg. datum gesê het?

Dit was die begin van die 1260 jaar profesie wat van pouslike oorheersing en vervolging praat.

In 538 n.C. het Justinianus die klein horinkie, die pous van Rome, amptelik as die hoof van die Middeleeuse Kerk aangestel.

Terwyl ek die Rooi basilika by Pergamum besoek het, het ek aan die regverdigheid van die Here gedink. Alhoewel dit die tydperk van groot afval en vervolging was, het die Here nie net bestraf nie, maar ook die goeie kenmerke van die afvallige kerk genoem.

Kom ons leer hierdie groot les. As ons kritiek uitspreek, moet ons ook net die een of ander goeie hoedanigheid noem. Want onthou. Selfs die slegste mens het iets goeds in hom of haar.

Op ‘n dag het hier ‘n boodskapper met ‘n brief van Johannes by die gemeente van Pergamum aangekom. Die leraar van die gemeente het dit die volgende Sabbat aan die lidmate voorgelees.

Openbaring 2:12 16 “En skryf aan die engel van die gemeente in Pergamus: Dit sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het: Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon.

Die mense in die gemeente luister aandagtig. Om te dink die Here gee soveel vir hulle om dat Hy selfs ‘n boodskap van vermaning stuur. Ek glo daar was trane van berou in sommige oë.
Elkeen van die boodskappe aan die sewe gemeentes praat van pragtige beloftes vir oorwinnaars. Kom ons lees waarmee hierdie mense van Pergamum beloon sou word.

Vers 17 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op die steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.”

Ek het behoefte aan die hemelse manna. Wat van jou? Ek sal ook graag ‘n nuwe hemelse naam wil kry want my huidige naam het ‘n sondige konnotasie.

‘Daar is ‘n akropolis wat net buite die moderne stad van Bergama geleë is. Wanneer jy die geskiedenis van die stad lees, besef jy waarom Jesus dit die plek noem waar Satan woon. Bo op die berg was baie afgodstempels opgerig.

Net so indrukwekkend soos die amfiteater, net so indrukwekkend was hulle biblioteek. Op een stadium was daar 200,000 perkamentrolle op hulle rakke. Terloops die naam perkament is van die woord Pergamum afgelei want dis hier waar dit vir die eerste keer vervaardig is.

Terwyl ek tussen die ruïnes van die Asklepiostempel naby die antieke biblioteek stap, dink ek aan ‘n baie interessante publikasie.

Dit meld hoedat die korrupte Babiloniese priesters hulle sataniese godsdiens na Pergamum gebring het. Dit het gebeur nadat Babilon verwoes is. G’n wonder dat een historikus Pergamum die hoofkwartier van sataniese godsdiens noem nie.

Die Babiloniese hoëpriester wat sy godsdiens hier bedryf het, het homself Pontifex Maximus genoem. Weet u wat die term beteken? “Die grootste brugbouer.” ‘n titel wat eintlik net aan Jesus behoort.

Toe koning Attalus III van Pergamum in 133 vC sterf, het sy testament gelui dat sy koninkryk aan Rome bemaak moet word. Deel van die erfporsie het Babiloniese priesterlike kleredrag en die titel, Pontifax Maximus ingesluit.

Ek het in Rome na hierdie titel gaan soek en ‘n baie interessante ontdekking gemaak. Hier in die Panteon waar die heidense hoëpriester gewerk het, het hy die titel Pontifex Maximus aangeneem. “Die Groot Brugbouer.”

En nou wil ons weet. Wat het van die titel geword toe die heidendom deur die bemidelling van keiser Konstantyn met die Christendom verenig het? Het dit verdwyn? Nee.

Kom ons stap na die mooiste, die gewildste kerk ter wêreld – St. Peters. Dis hier waar ek die heidense titel raakgeloop het.

In die voorportaal pronk die titel: Pontifex Maximus wat van Pergamum afkom. Jy moet onthou dat die brief aan hierdie gemeente die tydperk tussen 313 en 538 n.C. dek. Dit was in hierdie tyd dat die middeleeuse kerk sy mag begin kry het.

Terwyl ons hier rondstap ontdek ons dat baie van hierdie beelde vroeër aan een of ander Romeinse god gewy is. Met die groot kompromie in die tyd van Konstantein het hierdie heidense afgodsbeelde nuwe Christen name gekry. Later is dit aan verskillende pouse gewy.

Die sogenaamde standbeeld van Petrus is maar een voorbeeld. Vroeër was dit ‘n Jupiterbeeld. Met die kompromie tussen die heidendom en die kerk, is sy naam toe na Petrus verander.

Al die name van die gode het verander, behalwe vir die heidense titel, Pontifex Maximus. Dit het behoue gebly. Waarom? Sodat ons sterk bewyse kan hê dat die Pergamum periode die Middeleeuse kerk voorstel.

Hoe moet ons teenoor die meer as 1000 miljoen misleide Katolieke in die wêreld optree? Is hulle almal verlore? Nee. Is daar eerlikes in hierdie groot Babiloniese verwarring? Ja. Die Here roep hulle om uit hierdie afvallige godsdiens te kom.

Openbaring 18:4 “En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

Net soos die Here Sy kinders destyds voor die val van antieke Babilon geroep het om uit te kom, net so roep Hy tans Sy eerlike, oningeligte kinders om uit afvallige Babilon uit te kom.

Ek en jy moet hulle van Jesus se onverdiende genade gaan vertel. Hulle moet hoor dat Jesus die enigste middellaar tussen God en die sondaar is. Ons het nie die pous, Maria of heiliges nodig om by die Vader uit te kom nie. Jesus is ons enigst Middelaar.

ZEUS TEMPEL

Dis ‘n groot voorreg om hier op die akropolis van Pergamum te staan en na die oorblyfsels van ‘n eens magtige stad te kyk. Eeue gelede het Christene hier gebly. Sommige sal eendag gered wees, ander sal vir ewig verlore wees. Wat maak die verskil?

Ons kyk hier na die fondasies waar die Zeustempel gestaan het. Wat het van hom geword? Die Duitsers het hom hier kom haal en na Berlyn vervoer. Dit wil gedoen word. Kom ek gaan wys vir u wat ek in die Pergamonmuseum gesien het.

Ons kyk hier na die einste tempel waarna Christene so baie eeue gelede by Pergamum gekyk het. Ongelukkig het sommige nie alleen na hierdie pragtig tempel kom kyk nie, hulle het ook deur verleiding hier kom aanbid.

Terwyl ek hier by Zeustempel staan, dink ek aan Openbaring 2:14. Dit sê dat sommige Christene die afgodsoffers van die tempel geëet het. Maar dis nie al nie. Hulle het ongelukkig ook met die tempelprostitute verkeer.

Nou wil ons weet. Het die kerk van Rome ook geestelike prostitusie bedryf? Met ander woorde. Het hulle met die heidendom omgegaan en sommige van hulle praktyke nagevolg? Ja.

Die gemeente van Efese word gekomplimenteer omdat hulle die werke van die Nikolaïete haat. Maar wat vind ons in die gemeente van Pergamum? Hulle het die leer aangehang. Kan jy nog onthou wat die Nikolaïete geleer het?

Geloof in Jesus maak jou vry van die onderhouding van die wet in die algemeen, maar veral ten opsigte van die sewende gebod wat sê jy mag nie egbreuk pleeg nie.

Wat ‘n hartseer storie. Vroeër het die kerk van Pergamum hierdie leerstelling gehaat, maar nou begin aanhang. Dit is die historiese feite.

Maar in ‘n profetiese sin het die kerk van Rome net so ‘n groot sonde gepleeg toe hulle die dag waarop die heidene die son aanbid het met die Sabbat van die Here vervang het. Die Bybel noem dit geestelike owerspel.

The Convert’s Cathechims of Catholic Doctrine: Vraag. Watter dag is die Sabbatdag? Antwoord. Saterdag is die Sabbatdag. Vraag. Waarom hou ons Sondag in plaas van Saterdag? Antwoord. Ons hou Sondag in plaas van Saterdag omdat die Katolieke kerk die plegtigheid van Saterdag na Sondag oorgeplaas het.” Peter Geierman.

Wat ‘n tragiese gebeurtenis. Die Sabbat, simbool van God se skeppings- en herskeppingskrag, moes plek maak vir ‘n menslike instelling wat sy oorsprong uit die heidendom het. Dis erg Nikolaïties.

Kom ons gaan terug na die altaar van Zeus in die Pergamon museum in Berlyn. Waarom noem die Bybel hierdie heidense tempels die troon van satan? Mens sien op die reliëf hoe die gode en die demone in stryd verkeer. Dit was ‘n duiwelse godsdiens. Die Bybel het Pergamum raak beskryf.

In die studie van die derde seël sien jy dat die ruiter op ‘n swart perd ry. En wanneer mens die geskiedenis van hierdie tydperk van die kerk bestudeer, ontdek jy dat dit waarlik ‘n tyd van geestelike donkerte was.

Terwyl ek deur die ruïnes van die Asklepiostempel gestap het, het ek op ‘n baie interessante iets afgekom. Dit het my aan die lis van die Satan laat dink.

Dis ‘n slang in die tempel van Asklepios. Wanneer ons ‘n kompromie met die wêreld aangaan, seil die duiwel in ons lewens in. Dit was na 313 dat die kerk ‘n kompromie met die heidendom aangegaan het, en toe vinnig haar geestelikheid verloor het.

AANBEVELINGS

Terwyl ek na ‘n paar toeriste by Pergamum kyk, dink ek aan die regverdigheid van die Here. Wanneer dit nodig is om te bestraf, sal Hy dit doen. En wanneer ons iets prysenswaardig doen, sal Hy dit ook noem. In vers 13 lees ons:

“…Jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie.”

Kom ek noem vir jou ‘n paar Bybelse leerstellings wat uit hierdie kerk na ons gekom het. En in hierdie opsig het hulle nie die geloof in die Here se Naam verloën soos die teks sê nie. Bv. Tydens die Raad van Nicea in 325 n.C. is daar finaal besluit, na baie besprekings, dat Jesus waaragtig God is.

Vroeër was die Hagia Sofiamuseum ‘n Christelike kerk en die stad was Konstantinopel genoem. Dit was tydens die groot Raad van Konstantinopel in 381 n.C. dat die kerk tot die oortuiging gekom het dat Jesus ook waarlik mens was.

Dit was ‘n geweldige teologiese deurbraak en die boek Openbaring erken dit.

In Efese, in 431 n.C. is daar ooreengekom dat Jesus se Godheid en mensheid in ‘n enkele persoon gekombineerd is. Hierdie groot waarhede word vandag deur miljoene Katolieke en Protestante aangehang en waardeer.

OPROEP

Die boom wat uit die fondasies van die Zeustempel groei, het my aandag getrek. So ook het die boodskap van Patmos byna 2000 jaar gelede die aandag van die Pergamum gemeente getrek.

Die brief vanaf Johannes het hulle goeie hoedanighede aangeprys. Maar die brief het ook hulle sondes aangespreek.

Mense wat eeue gelede hier gewoon het, lees die woorde: “Bekeer jou, bekeer jou.” “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê.”

Tussen 313 en 538 n.C. het dieselfde stem met die middel eeuse kerk gepleit. “Bekeer jou, bekeer jou.” Die Here maak hierdie oproep omdat Hy baie vir sondaars omgee.

Dieselfde boodskap kom vandag nog na Turke in Bergama, die Bybelse Pergamum, en na jou en my: “Bekeer jou, bekeer jou.” “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Kom ons lees weer aangaande die beloning wat op bekering volg.

DIE BELONING

Vers 17 “Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê: Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom ‘n spierwit klippie gee met ‘n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry.”

Baie eeue gelede toe Israel in die oggend wakker geword het, was die woestyn in ‘n feesmaal van manna omskep. Hulle het dan uitgegaan en hulle aan hierdie hemelse voedsel verlusting. Die manna het natuurlik Jesus, die hemelse Brood voorgestel.

Die grootste fees ooit, die Jesus fees, gaan binnekort aanbreek. Dis nie die moeite werd om sonde vir ‘n oomblik te geniet en dan ‘n ewigheidsfees mis te loop nie. Mag die Here jou en my help om die boodskap van bekering aan die Pergamum gemeente heelhartig aan te neem.

TIATIRE

Dis ‘n baie groot voorreg om hierdie historiese plekke te besoek en dan te peins oor wat die Bybel aangaande hulle geskryf het.
Hy is die vierde geografiese gemeente op die antieke posroete.

Terwyl ek na hierdie antieke Griekse inskripsie by Tiatire kyk, herinner ek myself net weer n keer aan ‘n belangrike feit. Die brief wat hierdie gemeente ontvang het, het ‘n plaaslike toepassing gehad. Maar daar was ook ‘n profetiese boodskap. En wat van nog groter belang is, is die feit dat dit ‘n boodskap vir jou en my het. Kom ons lees dit bidden:

Openbaring 2:18 23 “En skryf aan die engel van die gemeente in Thiatire: Dit sê die Seun van God wat oë het soos ‘n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper: Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste.

Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.”

Terloops, dit is die enigste plek in die hele boek van Openbaring waar die titel “Seun van God” genoem word. Daar is natuurlik baie goeie redes daarvoor. Want,

Gedurende die middel eeue is die Seun van God deur Rome met die “Seun van die Verderf” vervang. Wanneer die vleis bederf is, bly daar net ‘n kaal been oor soos wat u hier sien. En dis omtrent al wat van die kerk in hierdie tydperk oorgebly het.

Verse 24 29 “En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatire is, almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. En Ek sal hom die morester gee. Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
Wanneer ‘n mens na die profetiese tydperk van die gemeente van Thiatire kyk, dan merk jy dit strek van 538 tot 1563 n.C. Wat sê dit vir ons?In 538 ontvang die Katolieke kerk amptelike erkenning en dan gebeur iets skokkends in 1563 n.C.

Op ‘n keer het ek tot bo in die koepel van St. Peters geklim en afgekyk ondertoe. Terwyl ek na die grootsheid van hierdie argitektoniese wonder gekyk het, het ek aan die groot liefde van die Here vir hierdie kerk gedink. Die brief aan Thiatire, is ook ‘n brief aan die Roomse Katolieke kerk van die Middel-Eeue.

Die Here stuur die pragtige hervormingsboodskap van Sola Gratia na Rome om hom te bekeer. En wat gebeur? Geskiedenis bring die tragiese verslag dat die kerk tydens die Raad van Trent in 1563, die hervormingsboodskap amptelik verwerp het.

Vers 21 sê: “Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie,”

Wat bedoel die vers met onsedelikheid of hoerery soos die ou vertaling dit stel?

‘n Kerk pleeg geestelike owerspel wanneer sy die gebooie van Jesus haar Bruidegom verkrag. Wanneer mens die Ou Testament lees, merk jy dat God elke keer Sy volk van hierdie sonde beskuldig wanneer hulle afgode aanbid het.

Die Roomse Katolieke Kerk het homself aan hierdie sondes skuldig gemaak. Dit is skokkend om van die growwe afvalligheid van die middel eeue te lees. En nou moet ek nie te kras op Rome wees nie. Mag die Here ons help om streng volgens Sy voorskrifte te leef.

ISEBEL

Kom saam met my na ‘n plek in Libanon met die naam van Baalbek. U sien jy een van die hoekstene van die magtige heidense tempels. Die geleerdes sê vir ons dit is hier waar Baälsaanbidding sy oorsprong het. Die heidense godsdiens het altyd met groot uiterlike prag en praal gepaard gegaan.

‘n Mens lees van Baäl in die Bybel en mens sien hom by Baälbek. Die bose Isebel van Tirus was ‘n Baälsaanbidder. Luister na hierdie boodskap aan Tiatire:
Vers 20 “Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet.”

In antieke Tiatire was dinge nie reg nie. Die gemeente het toegelaat dat ‘n vrou met swak morele beginsels haar ding hier gedoen het.

Om mooi te begryp wat Openbaring vir ons aangaande mistieke Isebel wil sê, moet ons meer aangaande die historiese Isebel uitvind wat van Fenicië afkomstig was.

Toe ek hier by die ruïnes van antieke Tirus staan, het ek gewonder hoe die bose Isebel vir Agab in haar mag gekry het. Jy kan in 1 Konings 16 van die geestelike ramp lees wat hierdie onheilige verbintenis op Israel gehad het.

In Samaria het sy haar man Agab verlei om agter ander gode aan te loop. Sy het selfs die profete van die Here wat nie die Baäls wou aanbid nie, vervolg. Profete van die Here wat met hulle op godsdienstige gebied verskil het, het hulle laat vermoor.

2En dis die beskuldiging wat die Here teen hierdie gemeente van Tiatire inbring. Hulle leer valse leerstellings en vervolg mense wat nie daarmee saamstem nie. Het Rome dieselfde gedoen? Baie beslis. Die geskiedenis leer dit. Maar ‘n genadige God het nie sommer Sy ongehoorsame kinders op gegee wat hier gewoon het nie. En Hy het ook nie sommer die goddelose middeleeuse kerk opgegee nie.

Die moresterre van die hervorming is na hierdie afvallige kerk gestuur. Luister hoe stel vers 28 dit: “En Ek sal hom die morester gee.”

Een hervormer na die ander klop aan die deur van die Katolieke kerk en pleit vir hervorming. Hulle roep die Roomse kerk om terug te keer na die suiwer woord van God. Nuwe slagspreuke word gehoor: “Sola Scriptura”, die Bybel en die Bybel alleen; “Sola Gratia” gered deur genade alleen. Wat was Rome se antwoord?
Terwyl ek die hervormingsmuur in Geneve besoek het, het ek aan die tragiese antwoord gedink. Die hervormingsboodskap is verwerp en meer dwaalleer is aanvaar.

Dit was in hierdie tyd dat die Katolieke kontra-reformasie gebore is. Leerstellings oor wie die antichris is, is in hierdie tyd ontwikkel. Preterisme en Futurisme.

Briljante Jesuiete breinspoel die hele wêreld deur te leer dat die antichris reeds in die persoon van Antiochus Epifanus gekom het. Dis nie meer die Katolieke kerk nie.

Of as jy nie daarvan hou nie, leer die kerk, kan jy glo dat die antichris nog gaan kom. Futurisme. Glo enigiets, maar moet net nie glo dat die Katolieke kerk die antichris is nie. En dis wat die meeste kerke vandag glo.

Na baie jare se besprekings deur Katolieke teoloë is die Raad van Trent belê. In 1562 het die Raad die hervormingsboodskap amtelik verwerp. Maar meer nog. Hulle het verklaar dat hulle oorlewering bokant die Bybel stel.

Joseph Faai di Bruno, skryf in CATHOLIC BELIEF: ASoos twee heilige riviere wat van die Paradys vloei, bevat die Bybel en die goddelike oorlewering die Woord van God, die kosbare skatte van geopenbaarde waarhede. Alhoewel hierdie twee strome opsigself, omdat hulle van goddelike oorsprong is, van gelyke heiligheid, en albei vol geopenbaarde waarhede is, is van die twee nogtans die Oorlewering vir ons duideliker en veiliger.”

Is dit nie godslasterlik nie! Watter plek speel tradisie in jou en my lewe?

Argeoloë het ‘n inskripsie by Tiatire ontdek wat uit die tydperk van die skrywe van die brief aan hulle dateer. Dit haal vers 29 aan: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Hoe het Rome op die pleitstem van die Heilige Gees gereageer?
Die geskiedenis leer ons dat Rome net nog verder in die duisternis van dwaalleer in beweeg het.

Vers 21: “Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie.”

“Ek haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie.” Ou vertaling.

Mag die Here verhoed dat daar ooit van ons gesê word dat ons die geleentheid gehad het om ons te bekeer, maar dat ons dit nooit gedoen het nie. As daar iets in ons lewe is wat nie reg is nie, kom ons maak dit dadelik reg.

Was this article helpful?

Related Articles