1. Home
  2. Boeke Van Die Bybel
  3. Die Boek Openbaring
  4. Openbaring Hoofstuk 1 tot 22
  5. Openbaring Deel 6 – Briewe Aan Die 7 Gemeentes (Deel 4)

Openbaring Deel 6 – Briewe Aan Die 7 Gemeentes (Deel 4)

DIE SEWE GEMEENTES DEEL III – DIE BRIEF AAN DIE GEMEENTE VAN SARDIS, FILADELFIA EN LAODISEA

Ons het sopas by die vyfde gemeente aangekom, die gemeente van Sardis. Op ‘n dag het ‘n boodskapper vanaf die eiland Patmos hier aangekom.

Die leraar van die gemeente het ‘n brief in ontvangs geneem. Dit het van Johannes gekom. Die brief was geïnspireerd en is op die Sabbat aan die gemeente voorgelees. Openbaring 3:1

“En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dit sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood.”

Dis ‘n verskriklike skokkende boodskap. Wat het destyds by antieke Sardis gebeur dat die Here vir hulle moes sê dat hulle ‘n naam het dat hulle lewe maar dat hulle inderdaad geestelik morsdood was? En wat presies het tydens hierdie profetiese tydperk met die kerk gebeur? En laastens. Kan dit wees dat dit lyk of ek geestelik leef maar dat ek inderwaarheid dood is?

Ons reis vanaf Tiatire na Sardis, die vyfde gemeente en dan kyk ons wat die geskiedenis alles vir ons omtrent hierdie gemeente sê.

Profetiese Sardis dek die jare tussen 1563 en 1734 n.C. Kan u onthou wat in 1563 gebeur het? Op die Raad van Trent het die Katolieke Kerk die hervormingsboodskap van “Sola Scriptura” verwerp en kerklike tradisie bo die gesag van die Bybel geplaas.

In die volgende paar minute kyk ons histories na die tragiese agteruitgang van Protestantisme vanaf 1563 tot 1734. Aan die einde van hierdie tydperk het daar gelukkig weer ‘n lig opgegaan soos ons sal sien. Kom ons luister na die boodskap aan hierdie gemeente.

Verse 2 6 “Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie. Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is. Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele. Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
Dis baie interessant om die ruïnes van hierdie antieke stad te besoek en te peins oor alles wat hier plaasgevind het.

En moet nooit vergeet dat die boodskap nie net vir ‘n historiese gemeente was nie. Dit spreek ook die kerk in ‘n gegewe tydsgleuf aan. Maar heel belangrikste, die boodskap praat met jou en my.

In die tyd van koning Croesus het die inwoners van Sardis gedink hulle vesting bo op die berg, was oninneembaar. Maar terwyl hulle een nag onbesorgd geslaap het, het die vyand teen die steilte uitgeklim, die stad binnegeval en hulle beroof.

En dit is ook die boodskap aan die kerke van die reformasie. “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood.” Ongelukkig het die kerke na die dood van hulle stigters ‘n geestelike dood begin sterf.

Wat in antieke Sardis gebeur het, het ongelukkig ook in die Reformatoriese tradisie gebeur. Net soos koning Croesus het die hervormers aanvanklik al die skatte van die evangelie gehad.

Dit was terwyl Croesus onbesorgd gelê en slaap het, dat die vyand hom oorrompel het en al sy rykdom gebuit het. Dit was toe Protestantisme tevrede aan die slaap geraak het, dat die vyand hulle geestelike skatte kom beroof het.

Die geskiedenis leer vir ons dat hulle in hierdie periode net so onverdraagsaam soos die Katolieke teenoor mense geword wat met hulle verskil het. Dit was in hierdie selfde tydperk dat ‘n derde godsdienstige mag sy verskyning gemaak het.

Dit het as die Radikale Reformasie bekend gestaan. Hulle maak ‘n beroep op die Protestantse kerke om terug te keer na nog meer van die Bybelse leerstellings van die vroeë apostels.

Omdat hierdie mense kinderdoop as onskriftuurlik beskou het en hulle laat groot doop het, word hulle die Anabaptiste genoem. Die term beteken wederdopers. Die gevestigde Protestante kerke verklaar hierdie metode van doop ‘n kettery en begin om hierdie mense verskriklik wreed te vervolg.

In 1611 stig die Anabaptiste hulle eerste kerk in Engeland. Maar wat gebeur? U kyk hier na ‘n skets van die verbranding van Anne Askew en andere. Wat was hulle oortreding? Hulle het geglo dat hulle volgens die Bybel groot gedoop moet word. Deur wie word hulle verbrand? Deur die Protestante die Sardis gemeente.

Kom saam met my na die Bunhill Fields begrafplaas in London waar ek die graf van John Bunyan gaan opsoek het. Het u al van hom gehoor?

In 1660 word hy in die Bedforttronk gegooi omdat hy ‘n godsdienstige vergadering gehou het sonder dat hy die toestemming van die staatskerk gehad het.
Hy skryf toe die boek “Pelgrimsreis na die Ewigheid” wat in meer as honderd tale vertaal is. Hier sien mens hoe John Bunyan ‘n swaar vrag sondeskuld dra. Dit was vroeër sy ondervinding.

Aan die anderkant van die grafsteen wys dit hoe hy sy vrag sonde aan die voet van die kruis neergesit het. Die uiteindelike verhaal van die hervorming is hartverskeurend tragies. Hulle openbaar dieselfde gesindheid van onverdraagsaamheid as die van Rome en vervolg Christene wat met hulle verskil.

Wanneer ons die sesde seël gaan behandel, sal ons meer aan-gaande hierdie tydperk van vervolging hoor. Ons lees in Openbaring 6:10 hierdie woorde: “En hulle (dit is die martelare) het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?”

Terwyl ek hier tussen die opgrawings van antieke Sardis rondtap, het ek met die Here oor my eie gesindheid gepraat. Ek is so geneigd om onverdraagsaam met mense te wees wat nie godsdienstig met my saamstem nie. En dis verkeerd.

Die opgrawing by Sardis sê vir my dit maak nie saak hoe reg en hoe verkeerd iemand anders is nie. As ek die gees van onverdraagsaamheid teenoor hulle openbaar, is ek net so geestelik dood soos die gemeente van Sardis en die Reformatoriese kerke waarvan hierdie profesie praat.

Openbaring 3:6: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.” Mag die Here ons geestelike ore oopmaak sodat ons kan hoor wat Hy vir ons wil sê.

DIE BRIEF AAN DIE GEMEENTE VAN FILADELFIA

Sardis was die vyfde gemeente en nou besoek ons die sesde, Fildelfia. En soos die naam vir ons aandui, “broederliefde”, kan ons na iets moois uitsien.

Terwyl ek na die massiewe muur kyk, het ek gewonder watter soort sleutels hulle gebruik het om hier toe te sluit. Kom ons lees die boodskap wat van Patmos hier aangekom het:

Openbaring 3:7 “En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfia: Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie.”

Net soos wat ons vandag sleutels gebruik om deure mee toe te sluit, net so het die mense van daardie antieke tye ook sleutels gehad waarmee hulle hulle geboue kon toesluit. Ek is so dankbaar dat Jesus die sleutel van die ewige lewe besit. Dis net by Hom, by niemand anders nie.
Weet jy wat vir my baie treffend van die boodskap aan hierdie gemeente is? Daar word geen fout met hulle gevind nie. En terwyl ek so na hierdie liefdevolle groep mense kyk, het ek besef dat wanneer ons mekaar lief het, daar nie met ons foutgevind sal word nie. Liefde bedek alle foute.

Verse 8-12 “Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie. Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg – Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het. Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie. Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.”

Die rede waarom die pilare by Filadelfia so massief groot is, was asgevolg van die aardbewings wat die stad geteister het. Hulle moes kon staande bly terwyl die aarde gebewe het.

Terwyl ek na hierdie ou reus gekyk het, het ek aan die belofte van vers 12 gedink. Diegene wat oorwin, sal eendag ‘n pilaar in die tempel van die Here wees. ‘n Pilaar wat vir ewig sal bestaan.

Die profetiese tydperk van die Filadelfia gemeente strek vanaf 1734 tot 1844. Dit was ‘n tydperk van groot godsdienstige herlewing en sendinguitreiking. Die Sardis tydperk van geestelike doodsheid het plek gemaak vir die grootste geestelike herlewing in die geskiedenis van die kerk.

Die herlewing begin in 1734 in Northampton, Massachusettes. Jonathan Edwards preek ‘n reeks preke oor geregtigheid deur die geloof. Die boodskappe gryp die harte van mense so geweldig aan dat die herlewing soos veldbrande versprei.

By Oxford Universiteit in Engeland het dieselfde ding gebeur. In 1729 het John en Charles Wesley saam met ‘n paar ander studente byeengekom en ‘n “Heilige Klub” gestig.

In een van die kamers het die groepie opregtes ontmoet. Hulle het saam die Bybel gelees, saam gebid en mekaar bemoedig. ‘n Vonk van die Heilige Gees het hulle lewens aangeraak en die herlewing in Engeland het begin.

Op 14 Mei 1738 het iets met John Wesley tydens ‘n diens by Aldersgatestraat in London gebeur. Daardie ondervinding het hom in staat gestel om vir die res van sy lewe onverpoosd vir die redding van siele te werk.

Terwyl hy na Luther se kommentaar oor die boek Romeine geluister het, het die boodskap van geregtigheid deur die geloof hom geweldig aangegryp. Hy het gevoel hoedat sy hart eienaardig verwarm het. “Strangly warmed”, soos hy in Engels verduidelik.

Met hierdie brandende boodskap van Jesus se geregtigheid in sy binneste, spring hy op sy perd en gallop deur Engeland. Hy reis ‘n totaal van 250,000 myl en preek 42,000 preke.

Terwyl ek die Wesley museum besoek het, het ek aan die woorde gedink wat vir die kerk van Filadelfia geskryf is: “…Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie…” 3:8.

Al het die populêre Anglikaanse kerk hoe hard probeer om die deur van hierdie herlewing toe te maak, het die Here dit nie toegelaat nie.

In 1792 vertrek William Carey na Indië. Hy staan later as die “Vader van moderne sending bekend. Hy vertaal die Bybel in 42 tale en dialekte.

Die Filadelfiërs was mense wat hulle met die redding van siele besig gehou het. Dit het hulle gehelp om oorwinnende, liefdevolle Christene te wees. Mag dit ook ons ondervinding wees.

Openbaring 2:13 “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.” Mag die Here ons hierdie soort oor gee sodat ons kan luister en lewe.

DIE BRIEF AAN DIE GEMEENTE VAN LAODICEA

Gebruik jou verbeelding terwyl ons Laodicea besoek. Die reeks berge is die grootste gedeelte van die jaar onder ‘n sneeulaag bedek. In die winter is dit yskoud in hierdie omgewing.

Warmwater wat uit die grond borrel en met hierdie voor na die in teenstelling met die koue sneeu, kry jou ook warmwaterbronne wat na onder vloei. Het u al die woorde gehoor: “Ag was jy tog maar warm” of “Ag was jy tog maar koud.”

Ek het my kind van hierdie water laat drink, maar sy was nie baie opgewonde oor die water nie. Hoekom nie? Omdat die afstand van die bron dit lou gemaak het. ‘n Mens wil louwater uitspoeg omdat dit sleg is.

Daar is baie argeologiese en natuurwonders wat ‘n mens by Laodecea kan besigtig. Groot historiese en Bybelse gebeure het hier afgespeel. Hier dink mens diep en lank.

Terwyl ek na Laodicea gereis het, het ek aan die betekenis van die naam van die stad gedink: “Die oordeel van die mense.” Kan jy nog onthou wanneer die ondersoekende oordeel begin het?

Soos ons in ‘n vorige lesing oor Daniël 8 gesien het, het die ondersoekende oordeel in 1844 in die hemel begin. God die Vader ons Regter het van toe af uitspraak ten gunste van die belydende sondaars begin gegee.

In hierdie hemelse hofsitting tree Jesus ons Advokaat ten behoewe van berouvolle sondaars op. Terloops. Al lyk jou saak hoe hopeloos, gee dit vir Hom. Hy verloor nooit ‘n saak nie. Wanneer hierdie ondersoekende oordeel afgehandel is, sal Jesus op die wolke van die hemel verskyn om ons huistoe te neem. Die boodskap aan Laodicea is ‘n boodskap vir jou en my wat in hierdie tyd leef.
Geskiedenis het vir ons gesê hoe die vorige ses gemeentes op die boodskappe van die briewe gereageer het. Ek en jy leef tussen 1844 en die einde. Hoe gaan ons op hierdie laaste ernstige boodskap reageer? Wat gaan die geskiedenis eendag van ons vertel?

Terwyl ek hier tussen die ruïnes rondstap, het ek aan die erns van die finale waarskuwingsboodskap gedink wat hierdie mense ontvang het. Mag die Here jou en my help terwyl ons nou na die selfde boodskap gaan luister wat ook ons geestelike toestand kan openbaar.

Openbaring 3:14 18 “En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dit sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.”

Die geskiedenis sê vir ons die inwoners van Laodisea was skatryk. Die mense het geen materiële behoeftes gehad nie. Die wêreld spoel gewoonlik oor in die kerk. Gevolglik het die rykerige Christene wat hier gewoon het ook begin voel dat hulle nie juis geestelike behoeftes gehad het nie. Hulle het hullself ook as geestelik ryk beskou.

Die boodskap aan die Laodiseërs bevat ook hoopvolle nuus. Jy is nie buite die bereik van die Here se reddende genade nie. Kom ons lees dit:

Verse 19 22 “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
18. Water is oor ‘n afstand van tien kilometers vanaf die warmwater bronne by Hierapolis na Laodisea met hierdie akwaduk vervoer. Kom ons gaan kyk gou hoe dit daar lyk.

Volgens die opgrawings wat hier gedoen is, het hulle vasgestel dat Laodicea die rykste van die sewe gemeentes was.

Die bouers die pype geïnsoleer het sodat die water warm kon bly.

Die sytakke van die Lycusrivier het hierdie pragtige minerale neerslag gevorm. Dit lyk amper soos ‘n reuse troukoek.

Die medisinale waarde van die Laodisea warmwater-bronne, het tot die oprigting van hulle wêreldberoemde mediese skool gelei. Hierdie mense het met ‘n fantastiese gesondheidsboodskap gespog.

‘n Tempel is langs die mediese skool gebou en die Griekse god van medisyne is “Die Groot Geneesheer” genoem. Die mediese skool het die droë modder van die warmwater bronne geneem en dit met minerale olies en gemikalië gemeng. Wanneer hierdie emulsie droog geword het, het dit in ‘n fyn poeier verander. Wanneer dit agterna met water gemeng is, het dit ‘n genesende pap gevorm.

Hoe tragies. Openbaring 3:18 sê dat die kerk wat oogsalf voorsien het, geestelik blind was en self oogsalf dringend nodig gehad het.

Op ‘n dag het ‘n boodskapper uit die verte hier aangekom. Hy het ‘n boodskap van die profeet Johannes van Patmos gebring. Die leraar het die boodskap een Sabbat aan die gemeente gelees.

Terwyl hulle na vers 15 luister wat oor koud en warm praat, sien hulle yskoue sneeu in die agtergrond op die bergieke en warm water wat met ‘n voortjie na die huise daaronder vloei:

“Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm.”
Wanneer mens baie koud kry, het jy ‘n behoefte aan warm klere. En wanneer mens baie warm kry, wil jy koeler klere aantrek.
Maar as jy lou is, het jy geen behoefte aan warm of koud nie.

En Jesus pleit met die mense wat destyds hier gewoon het. Hy probeer vir hulle sê dat hulle groot geestelike behoeftes het maar omdat hulle lou is, is hulle nie daarvan bewus is nie.

Elkeen van moderne Turke by Laodisea bevind hulleself in een of ander geestelike toestand. So ook ek en jy. Maar as ons in ‘n lou tevrede toestand is, kan die Here absoluut niks vir ons doen nie. Dis die gevaarlikste van alle geestelike toestande.

In een van Sy gelykenisse vertel Jesus van die eie-geregtige Fariseër en die boetvaardige tollenaar. In hierdie gelykenis het Hy daarop gewys dat die mees ongeneeslike sonde, die sonde van eie geregtigheid is. Daar was hoop vir die tollenaar wat sy behoefte aan die Here besef het. Maar Jesus kon niks vir die lou warm self tevrede Fariseër doen nie.

Ek stap hier deur die verlate ruïnes van een van die rykste stede van die antieke wêreld, en ek praat met die Here. Is antieke Loadicea se sonde nie ook miskien my sonde nie. Dink ek miskien dat ek die kleed van Jesus se geregtigheid aan het terwyl ek in werklikheid geestelik naak rondloop?

Toe ‘n aardbewing destyds die stad en die omgewing in puin gelê het, wou hierdie inwoners geen hulp van buite aanvaar nie. Hulle het self, stad herbou en baie trots daaroor gevoel.

Probeer ek en jy nie ook maar partykeer om ons eie sondepuin te herstel nie? Probeer ons nie ook maar partymaal om met eie pogings die ruïnes van die verlede te herstel nie?

Langs een van die watervore het ek gaan buk en van die minerale water geproe. Dit was lou en dit was baie sleg. Dit het my naar gemaak. Kan jy my raad gee? Moet ek die water insluk of uitspoeg?

Ek aan die teks in vers 16: “Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.”

Ek stap hier deur die koring wat tussen die ruïnes van Laodicea geplant is. En ek vra vir die Here ‘n vraag. “Hoe proe ek in U mond? Gee ek miskien ‘n bitter smaak in U mond af omdat onvergewensgesindheid my geestelike lou gemaak het?”

My geestelike toestand smaak net lekker in Jesus se mond nie. Die slegste van alle smake vir Hom is die louwarm smaak van geestelike self-tevredenheid.

Hoe nader die water aan die bron is, hoe warmder is dit. En dit is wat ons as lou Christene moet doen. Ons moet so naby as moontlik aan Jesus die Bron van geestelike warmte kom.

Want hoe nader aan Hom, hoe geestelik warmder sal ons word.

Ek het ons Muslim Turkse gids gevra om vir die onthalwe van hierdie lesing saam met ons by een van die huise in Laodicea te gaan aanklop.

Ek het aan haar verduidelik hoe Jesus by die hart van elke sondaar klop en toestemming vra om binne te kom en die sondige hart te verander. Melek het Jesus se klop aan haar hartsdeur gehoor en vir Hom oopgemaak.

Dit was ons voorreg om haar na Suid Afrika uit te vlieg en haar in die Kaap te kon doop.

Openbaring 3:20 “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”

Daar is net een oplossing vir ons louheidsprobleem en dit is Jesus se warm verlossingsliefde. Wanneer Hy in my lewe is, vervang Hy my kilheid teenoor mense met hemelse hartlikheid teenoor sondaars.

Hy vervang my swart vodde van sonde met die wit kleed van Sy volmaakte geregtigheid. Wanneer Hy my lewe binnekom, genees Hy my blindheid. Dan sien ek die mooi in ander raak.

Dan sien ek ook my ontsettende gevallenheid. Maar ek sien ook die Here se onbegryplike reddende genade raak.

Kom ons maak op hierdie oomblik weer ons harte vir Hom wyd oop.

Was this article helpful?

Related Articles