Openbaring Deel 7 – Die 7 Seëls Van Openbaring

DIE SEWE SEELS VAN OPENBARING

Terwyl ek by Cape Kennedy na ‘n reuse vuurpyl kyk, het ek aan Daniël 2:4 gedink. Dit sê daar dat aan die einde van tyd kennis sal aangaande die boek Daniël en op ander gebiede sal vermeerder.

In hierdie lesing oor die sewe seëls gaan ons nuwe kennis ontdek. Ons gaan hoor wat alles nog moet gebeur voordat Jesus ons binnekort tydens die sewende seël gaan kom haal. Openbaring 1:3:

“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.”

In die boodskappe aan die sewe gemeentes vind ons Jesus tussen Sy kinders. Hy sorg vir hulle en hou hulle in Sy hand. Gaan ons Jesus in die sewe seëls ontdek? Luister na die inleiding:

Openbaring 4:1 7 “Na hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat na hierdie dinge moet gebeur. En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardis;en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad. En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand; en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter. En die eerste lewende wese was soos ‘n leeu, en die tweede lewende wese was soos ‘n kalf, en die derde lewende wese het ‘n gesig gehad soos ‘n mens, en die vierde lewende wese was soos ‘n arend wat vlieg.

Vers 8: En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom.”

Vers 11 “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”
DIE VERSEELDE BOEKROL

Hoofstuk vyf vertel hoe die boekrol met sewe seëls verseël is. Die inhoud van die boek is ‘n geheim, maar ons gaan baie interessante gebeure waarneem wanneer die seëls gebreek word.
Openbaring 5:1 3 “En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. En ek het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie.”

Hoe dink jy, het Johannes, die siener van Patmos hierop gereageer? Hoe reageer ek en jy op die waaroms wat in ons lewensboek opgeskrywe staan? Ons huil. Ek is so bly dat Iemand ‘n einde aan Johannes se trane gemaak het, en ek is so dankbaar dat Hy ook eendag ‘n einde aan ons trane gaan maak?

Verse 4 9 “En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. En ek het gesien, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.

Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie.”

Pragtige beeldspraak wat Jesus, die Lam van God beskryf. Wanneer ‘n mens na die betekenis van die verskillende benamings vir Jesus in die Bybel kyk, word jou bewondering vir Sy reddende liefde en Sy karakter net groter en heerliker.

DIE OOPMAAK VAN DIE EERSTE SEEL

Kom ons lees wat Openbaring 6:1,2 vir ons aangaande die oopmaak van die eerste seël vertel:
“En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van ‘n donderslag: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.”

“Wit” in die boek Openbaring word altyd met Jesus of iets wat verwant is aan Jesus geassosieer. Dit help om die betekenis van die ruiter op die wit perd beter te verstaan.

Die Seun van die Mens verskyn op ‘n wit wolk (14:14); wanneer Hy na hierdie aarde terugkeer sal Hy op ‘n wit perd ry en die leërs van die hemel wat Hom volg, sal ook op wit perde ry. In die finale oordeel sit Jesus op ‘n groot wit troon. (20:11).

Die ruiter op die wit perd stel dus die suiwer waarheid van die evangelie voor. Jesus, die Lam van God, maak die eerste seël oop en die pragtige boodskap van verlossing begin te galop.

Dis ‘n besieling om die resultate van die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2 te lees. Die dissipels het nie al die tale van die wêreld geken nie, maar op ‘n bonatuurlike wyse het die Heilige Gees hulle met ‘n kennis van verskillende verstaanbare tale toegerus om die wêreld te evangeliseer.

Die wit perd van Openbaring verlaat die stadspoorte van Jerusalem en begin met die mooiste boodskap ooit, na die uithoeke van die wêreld te galop.

Op ‘n keer het ek my kind gaan wys waar hierdie witperd in Griekeland gallop het. Paulus redeneer met die Grieke by die antieke markplein, die Agora.

Daarna neem hulle hom na die Areopagus, ‘n koppie naby die Partenon in Atene. Hier verkondig Paulus die boodskap van die ruiter op die wit perd aan die geleerdes van Griekeland.

Waar mense die boodskap van die evangelie aangeneem het, het hulle geestelike voorspoed geniet. Maar waar hierdie boodskap verwerp is, was daar groot probleme.

Die boog en die kroon stel verowering en oorwinning voor. En dis presies wat die evangelie doen. Dit wil my sondige hart verower en vir my oorwinning oor my sondige neigings gee.

Terwyl ek antieke Joppe besoek het, vanwaar sendelinge met bootjies vertrek het, dink ek aan Kolossense 1:23 wat die sukses van die verkondiging van die evangelie aan die wêreld vermeld.

“As julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel, waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het.

Kom saam met my na die antieke stad van Korinte. Dis hier waar die voetstappe van die vroeë dissipels gestap het. Die Bema is die plek waar Paulus voor die regterstoel van Gallio die goewerneur verskyn het. Hierdie man het die geleentheid gehad om die waarheid aan te neem of te verwerp.

Terwyl ek na die ruïnes van antieke Korinte gekyk het, het ek aan die boodskap van 1 Korinte 13 gedink wat sê: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik;…is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie,…Dit bedek alles, glo alles hoop alles, verdra alles.” 4 7. Die slegste kerk het die mooiste boodskap van die ruiter op die wit perd ontvang.

Die witperd en sy ruiter het met hulle pragtige boodskap op die Apianweg tot in Rome gallop. Die boek Handelinge vertel ons dat selfs baie van die keiserlike lyfwag die evangelie aangeneem het.

Terwyl ek in die Forum na die trap kyk waar Julius Ceasar vermoor is, het ek aan die geskiedenis van die Romeinse ryk gedink. Wat sou gebeur het as Nero die evangelieboodskap van die ruiter op die wit perd aangeneem het?

Soos wat die antieke Apianweg hier by die Titusboog ten einde loop, so het die ruiter op die wit perd tot aan die einde van die eerste eeu galop. Wat was die gevolge van die verwerping van hierdie boodskap?

DIE ROOI PERD 100 313

‘n Ruiter op ‘n rooi perd het sy verskyning gemaak. Wanneer ‘n mens Levitikus 26 lees, sien jy hoe die gevolge van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid lyk. In die verskyning van die rooi perd kyk ons na die gevolge van die verwerping van die evangelie.

Openbaring 6:3,4 “En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! En ‘n ander perd, ‘n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ‘n groot swaard is aan hom gegee.”

As die Joodse nasie die boodskap van vrede en versoening van die ruiter op die wit perd aangeneem het, sou hulle nooit die swaard teen Rome opgeneem het nie. Hulle sou die tweede myl gestap het soos Jesus geleer het en ‘n bloedbad verhoed het.

Die rooi perd wil vir jou en my ‘n les leer. As ons die evangelie verwerp, die boodskap van versoening en vrede, sal ons deur die swaard van ons eie bitterheid vernietig word.

Maar die tydperk van die rooi perd was nie net ‘n oorlog teen die Joodse nasie nie. Dit was ook die tydperk toe die rooi swaard van vervolging baie mense om die lewe gebring het. Die geskiedenis van die Koliseum in Rome getuig daarvan.

Terloops. Die witperd met sy ruiter eintlik nog nie ophou galop nie. Die goeie nuus moet steeds aan elke sondaar gebring word. Aanvaarding daarvan bring lewe, verwerping bring dood.

Verwerping van die boodskap van die witperd, bring nie net die rooi van oorlog nie, maar uiteindelik ook die swart van hongersnood en skaarsheid.

DIE SWART PERD 313 538 n.C.

Openbaring 6:5,6 “En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n swart perd; en hy wat daarop sit, het ‘n skaal in sy hand. En ek het ‘n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ‘n Rantsoen koring vir ‘n penning en drie rantsoene gars vir ‘n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.”

Die ruiter op die swart perd het ‘n skaal in sy hand. Dis ‘n voorstelling van kosskaarste. Wanneer die boodskap van die ruiter op die wit perd verwerp word, volg geestelike hongersnood.

Dit was in hierdie tyd dat relikwieë bemark is. Daar was so ‘n geestelike hongersnood dat mense hierdie sg. heilige items gekoop het in die hoop om hulle geestelike honger te stil. En wanneer mense so iets besit het, het hulle geglo dat hulle verdienste by God gekry het.

Tomas se vinger word ook uitgestal. Die teks sê dat ‘n rantsoen koring vir ‘n penning verkoop is. Volgens Cicero se graanpryse van daardie tyd, was die prys wat die stem tussen die vier lewende wesens kwoteer het, sestien keer duurder as die gewone prys vir graan. Die valse evangelie is peperduur verkoop.

Kom ons neem afskeid van die swart perd en sy ruiter. Dit was ‘n tydperk van geestelike hongersnood. Ons wil weet watter verdere gevolge daar kan wees wanneer mense aanhou weier om die boodskap van die ruiter op die wit perd aan te neem.

DIE VAAL PERD 538 1563

Openbaring 6:7,8 “En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”

Wanneer mens na die tydperk van die vierde seël kyk, (538-1563 nC) besef jy dat dit ‘n tydperk van beide geestelike en fisies dood was, soos wat daar nog nooit voorheen was nie.

Miljoene mense soos Hus wat met die Middeleeuse Kerk verskil het, is verbrand. Maar dit was nie die enigste ongevalle nie.

Johannes sien hoe die vaal perd van die dood oor Europa galop. Hy sien die 100 jarige oorlog tussen Engeland en Frankryk. (1337 1453). Hy sien hoe die builepes, die Swart Dood in 1340 n.C. toeslaan en miljoene mense afmaai wat nie deur oorloë of vervolging om die lewe gebring is nie.

Kom ons luister na die inhoud van die vyfde seël.

VYFDE SEEL 1563 1755

Openbaring 6:9 “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is terwille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het.”

Vers 10 “En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?”

Vers 11 “En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.”
Die tydperk van hierdie allegoriese uitroep, stem ooreen met die vervolging van die tydperk van die gemeente van Thiatire en Matteus 24.

Dit verwys ook na dieselfde tydperk van vervolging van die klein horinkie. In Daniël 7:25 het ons gelees hoe hy die heiliges van die Allerhoogste vir ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd, 1260 letterlike jare sou mishandel.

Die geroep van die martelare se bloed vind voor die oordeel van 1844 plaas. Luister na hulle geroep:

“Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?” Openbaring 6:10.

En dis ook wat Daniël 8:13 saam met die sesde seël vra. Hoe lank sal die vervolging deur die Antichris, asook die vertrapping van die waarheid duur?

En dis miskien ‘n vraag wat u ook vra. Hoe lank moet ek onregverdig behandel word? Kom ons luister na die antwoord op hierdie spesifieke vraag oor vervolging?

Openbaring 7:13 “Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom?

Verse 14-17 En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.”

Dit maak nie saak hoe moeilik dit nou met die kind van die Here gaan nie, wat saak maak, is dit wat hierna sal gebeur. Mag die Here ons krag gee om onregverdige behandeling met waardigheid te verduur. Daar wag ‘n heerlike toekoms.

SESDE SEEL

Kom ons luister hoe Openbaring 6:12,13 die dramatiese gebeurtenisse van die oopmaak van die sesde seël verduidelik.
“En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval.”

Toe die groot profetiese horlosie van die sesde seël slaan, begin die aarde te ruk onder die kragtigste aardbewing ooit. Seismograwe sê vir ons dat die helfte van die planeet die skudding van die 1755 Lisabon aardbewing gevoel het. Die episentrum van hierdie aardbewing was Lisabon. Wou die Here miskien iets vir die organiseerders van die inkwisisie gesê het? Wat wil Hy vir jou en my deur middel van hierdie aardbewing sê?

Vers 12 sê: “Die son het swart geword soos ‘n harige sak…”

25 jaar later, op 19 Mei 1780 tree die volgende profesie in vervulling. ‘n Onverklaarbare sonsverduistering. Wat volg hierop?

Vers 12 “…En die maan het geword soos bloed.” Die geskiedenisboeke sê vir ons dat op die nag van die 19de Mei 1780 die maan soos ‘n rooi stuk bloed teen die pik swart nag verskyn het. Wat gaan volgende gebeur?

Vers 13 “En die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval.”
Was daar regtig ‘n sterre reent soos die profesie voorspel het? Ja. Dit het op 13 November 1833 plaasgevind. Ons leef in dramatiese tye. Kom ons hoor wat volgende gaan gebeur.

Vers 14 “En die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word…” Wat beteken hierdie woorde? Dit kondig die einde van hierdie planeet se genadetyd aan.

Ek en jy leef op hierdie oomblik tussen vers 13 wat van die 1833 sterre reent praat, en vers 14 wat van die einde van tyd praat. Die uur is baie laat. Kom ons luister na die res van die beskrywing van die gebeurtenisse tydens die sesde seël.

Verse 14,15 “En die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge,

Verse 16,17 “En vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan.”

Johannes wei ‘n hele hoofstuk om te verduidelik wie die mense gaan wees wat tydens die wederkoms van Jesus gered sal word. Hulle gaan die verseëlde wees. Kom ons lees dit.

Openbaring 7:1-4. “En na hierdie dinge het ek vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat geen wind sou waai op die aarde of op die see of teen enige boom nie. En ek het ‘n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ‘n groot stem geroep na die vier engele aan wie die gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie. En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd-vier-en-veertig duisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel.”

Wie is die engele, die wind, die 144,000, en wat is die seël van God? Net mense wat verseël is sal gereed wees om saam met Jesus hemel toe te gaan by Sy wederkoms. En dan moet ons ook vasstel wie die stamme van die kinders van Israel is. Jy moenie nie die volgende lesing misloop nie.

DIE SEWENDE SEEL

Die gebeure wat met die oopmaak van die seëls gepaard gaan, raak al hoe opwindender. Kom ons hoor wat tydens die oopmaak van die sewende seël gebeur.

Openbaring 8:1 “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ‘n halfuur lank.”

Waarom dink u gaan dit vir ‘n halfuur lank in die hemel stil wees? Waar gaan al die engele tydens Jesus se wederkoms wees? Waar gaan die wesens van ongevalle planete wees? In die hemel of saam met Hom op pad na ons aarde toe? Kom ons lees die antwoord in Matteus 24:31

“En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”

Dis die klimaks, die hoogtepunt van die boodskap van die sewe seëls. Die God van die sterre gaan binnekort Sy kinders kom haal. Dis so ‘n groot gebeurtenis, dat daar stilte in die hemel gaan wees omdat elke engel Jesus op hierdie sending gaan vergesel. Kom ons maak baie vinnig gereed vir Sy wederkoms.

Hoe lank is ‘n profetiese halfuur uur? Sewe dae. Daar wag ‘n heerlike ruimte reis vir die kinders van die Here.

PARALLELLE TUSSEN JESUS SE OLYFBERGPREEK EN DIE SEWE SEELS

Laat ons net gou seker maak of ons begrip van die gebeurtenisse van die sewe seëls ooreenstem met dit wat Jesus op die Olyfberg vir Sy dissipels voorspel het.

In Matteus 24:14 noem Jesus die feit dat die evangelie van die koninkryk in die hele wêreld verkondig sal word. Wat van die seëls?

In Openbaring 6:1,2 neem die ruiter op die wit perd ook die boodskap na die hele wêreld neem. Matteus 24:6 8 het Jesus oorloë, gerugte van oorloë, hongersnood en aardbewings voorspel. Maar Hy het gewaarsku dat dit nog nie die einde is nie.

Die ruiters van die rooi, swart en vaal perde het oorlog, hongersnood en epidemies op hulle spoor agterlaat. (Openbaring 6:3 8). Dis presies wat Jesus in Matteus 24 voorspel het.

In Matteus 24:21 voorspel Jesus die groot verdrukking. Toe die vyfde seël oopgemaak word het Johannes die allegoriese roepstem van die gestorwe martelare onder die altaar gehoor.(Openbaring 6:9 11). Wat ‘n merkwaardige ooreenkoms!

In Matteus 24:29 voorspel Jesus dat onmiddellik na die groot verdrukking daar tekens in die son, maan en sterre sal wees. Kan u nog die datum van die laaste Waldensiese vervolging onthou. Dit was in 1776.

Na die vyfde seël wat van die groot vervolging praat, word die sesde seël oopgemaak. En wat gebeur? Presies wat Jesus vroeër voorspel het. ‘n Aardbewing (1755), sonsverduistering (1780), die maan lyk soos bloed en die sterre val. (1833)

In Matteus 24:30 voorspel Jesus Sy koms na hierdie aarde. Hy sê dat al die verlore stamme op daardie dag rou sal bedryf.

Openbaring 6:14 17 vertel vir ons dat wanneer Jesus kom die hemele sal wegwyk soos ‘n boek wat toegerol word.
Verse 16,17 skets die noodkreet van die verlorenes.

Matteus 24:31 sê vir ons dat al die engele die uitverkorenes gaan versamel. En as dit gebeur sal die hemel uit die aard van die saak leeg wees. En dit impliseer stilte in die hemel.

En dis die presiese boodskap van die sewende seël. ‘n Halfuur stilte in die hemel tydens die wederkoms van Jesus wanneer al die engele Hom gaan vergesel. Waarom word alles wat Jesus in Matteus 24 voorspel het, weer in Openbaring herhaal? Weet u hoekom? Jesus wil nie hê ek en jy eendag verlore moet gaan nie. Hy waarsku ons oor en oor en oor om gereed te maak vir Sy wederkoms.

Dit sal die grootste ramp wees as ek en jy daardie dag vir ewig verlore moet gaan. Kan ons dit bekostig? Nee. Kan ons dit bekostig om “Nee” vir die waarheid van die Bybel te sê? Nee.

Dis nie nodig om verlore te gaan nie. As ons ons hartsdeur vir die kloppende Jesus oopmaak, sal Hy inkom en saam met ons maaltyd hou. Dit beteken ‘n lewenslange vriendskap. As u nog nie die deur van u hart oopgemaak het nie, vra ek u in Jesus se Naam, om dit te doen en dit gereeld elke dag van u lewe te doen.

Was this article helpful?

Related Articles