1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Paulus En Sy Verydelde Drome

Paulus En Sy Verydelde Drome

Het jy sekere lewensideale gehad wat nooit verwesenlik is nie.
Deur die jare het ek mense ontmoet wat my van hulle verydelde lewensdrome vertel het.

Sommige wou vir dokters gaan leer het, maar daar het iets gebeur
en hulle ideale is nooi verwesenlik nie.

En dan het ek ook ‘n paar interessante broers ontmoet wat vir my van hulle verydelde teologiese drome vertel het. Hulle wou baie graag predikante word, maar daar het iets voorgeval en hulle het nooit daar uitgekom nie.

Miskien sit jy op hierdie oomblik met verydelde lewensideale. Jy het jou hart en siel op iets gesit en toe loop alles verkeerd. Miskien het jy gehoop om met ‘n sekere iemand te trou. En toe gebeur daar iets en julle is toe nooit getroud nie.

Of jy is ‘n jongmens wat verlief geraak het op iemand. In die begin het dit gelyk of ginge gaan uitwerk, maar nou besef jy dat die verhouding gaan doodloop.

BAPSIE

Kom ek vertel julle van Bapsie en Badplaas. Ek was so sestien jaar oud. My baard het so ‘n ruk gelede uigekom en my seunjie stem moes plek maak vir ‘n diep mansstem.

Behalwe vir my behoefte aan ‘n Gillette skeermes het ek ook ‘n behoefte aan ‘n nooi begin kry. En dis toe dat ek vir Bapsie ontmoet het.

Die verhouding het begin groei en my hart het begin klop soos hy nog nooit begin klop het nie. Eers het naaldjie van my hart in die groen gelê, maar nou was hy in die rooi.

Saam met ander jongmense is ons almal met ‘n groot vragmotor na Bapsfontein. Dit was ‘n baie kort romanse. Bapsie het ‘n ander ou met harder baard en ‘n dieper stem in die warmwater swembad ontmoet en toe ek weer sien was sy op hierdie ou se skouers.

Ek voel nou nog sleg as ek aan Bapsie, Bapsfontein en die ou in die swembad dink. Ek sien haar nog steeds in my geestesoog op die ander ou se skouers in die swembad.

Het so iets met jou gebeur? ‘n Bapsie wat jou gedrop het?  Jou Bapsie mag miskien ‘n loopbaan wees wat jou teleurgestel het.  Jou Bapsie mag miskien ‘n ekonomiese droom wees wat teleurgestel het.
Hoe pas die Here tussen my teleurstellings in?  Ek het destyds so gebid dat ek en Bapsie se verhouding moes uitwerk.  Maar my gebed is nie verhoor nie.

Miskien het jy baie gebid dat dinge tussen jou en jou Bapsie moes uitwerk. Maar pleks dat dinge uitgewerk het, het Bapsie op ‘n ander ou se nek beland. Pleks dat jy jou graad behaal het, het dit nooit gebeur nie al het jy so baie gebid.

Waar pas die Here tussen my verydelde drome in?

PAULUS EN BAPSIE

Kom ons kyk na die lewe van Paulus. Hy het ook ‘n Bapsie in sy lewe gehad.  Hy het ook gehoop dit sou uitwerk. Maar toe, op ‘n dag het sy Bapsie op ‘n ander ou se nek beland. Watter lesse kan ons uit Paulus se teleurstelling leer?

DIE GESIG IN TROAS

Handelinge 16:6  Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig.

WAAROM

Waarom dink u is Paulus se sendingideaal verydel? Dit was mos iets moois waarna hy gestrewe het.

Kom ons kyk vlugtig na die onmiddellike agtergrond. In Antiogië het Paulus en Barnanabas ‘n vreeslike uitval gehad. Dit was so vreeslik dat die twee op mekaar verbitterd geraak het, en hulle paaie toe geskei het.

Kan dit wees dat Paulus nog nie geestelike gereed was om nuwe sendingwerk te gaan doen het nie?

Nadat Paulus en sy nuwe reisgenoot Silas uit Antiochië vertrek het, het hulle uiteindelik by Listra aangekom. Hier het Paulus iets interessants gedoen.

TIMOTHEUS

So ‘n paar weke van te vore het Paulus vir die jong Markus as betroubare werker afgeskryf. Maar daar het weer ‘n gemis vir die hulp van ‘n jong man by Paulus ontstaan.

Daardie een vrou het haar man geskei. Sy sê vir my dat sy nooit weer ‘n man in haar lewe wil hê nie. ‘n Jaar of wat later sien ek haar met iemand uitgaan. Sy sê vir my die eensaamheid is baie moeiliker om te hanteer as die grille van ‘n man.

En Paulus besef dat hy ‘n jong hulp baie nodig het, want dit is beter om met die probleme van ‘n jong man te sukkel as om sonder hulle hulp klaar te kom. Ons jongmense mag ons miskien ‘n bietjie probleme gee, maar dis baie beter met hulle en hulle probleme as sonder hulle.

Handelinge 16:1-3 Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra.  Daar was ‘n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook ‘n gelowige, was ‘n Joodse vrou en sy pa n Griek. Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat. Omdat Ppaulus  vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is ‘n Griek.”

OORWINNING

Ek is so bly dat Paulus besig was om die oorwinning oor sy probleem te begin kry het. Hier is nou weer ‘n jongman saam met hom.

Die Here lei ons oor dieselfde terrein waar ons vroeër gefaal het, totdat ons die oorwinning behaal. En Paulus moes leer om verdraagsaam teenoor jong werkers te wees.

Timoteus was skaars uit die Juilius Ceasar staatshospitaal ontslaan, toe sê Paulus vir hom: “Ou Timmie, ons moet wikkel.  Daar’s groot werk wat wag.” Arme Timoteus.

Die besorgde ma het vir haar kind ‘n blikkie Zambuksalf en ‘n pakkie Disprins ingepak en hulle is daar weg.

Paulus was ‘n haastige man en het baie van sy medewerkers verwag. Hy het net een groot las, een groot passie gehad en dit was om die evangelie aan soveel mense as moontlik te verkondig. Hierdie siele ywer het hom byna verteer.

PAULUS SE PASSIE VIR SIELE

Luister op watter dramatiese wyse stel Paulus sy groot passie vir die redding van siele in Romeine 9:1-3:

“In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volksgenote.  Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.”

Wat ‘n sielelas. Hy sou liewer verlore gaan as dit daarop sou aankom, as hy net mense na die Here toe kon lei.

‘n Mens waardeer en verstaan Paulus beter wanneer mens sy groot sielelas bestudeer.

DRIE MANNE OP REIS

En hier stap die drie manne. Paulus; Hy loop so ‘n endjie vooruit want hy is baie haastig. En dan kom Silas. Hy was nuut in hierdie tweede sendingreis van Paulus. En Paulus moes hierdie nuwe reisgenoot van hom nog ‘n bietjie beter leer ken. Dis nie altyd so maklik nie.

En agter hierdie twee ervare manne het die jong onervare Timoteus met sy Disprins en Zambucksalf aangekom. Onthou, het het sopas  uit die hospitaal gekom? Kan jy nog die hospitaal se naam onthou waar hy opgeneem is? Kan jy nog die aard van die operasie onthou?

Die mannetjie sukkel om by te bly. “Kom, kom, ou Timmie. Daar wag vir ons groot werk vorentoe. Ons is op pad na Asië toe. Jy en oom Silas gaan saam met my werk en ons gaan sommer baie nuwe siele vir die Here wen.”

Timoteus sluk ‘n Disprin en stap so vinnig as wat sy fisiese toestand hom toelaat.

Ek wonder wat alles in die jong Timoteus se gedagtes aangegaan het.  Paulus moes hom van Markus vertel het, en hoe hy by Pamfilië uitgesak het. En Paulus moes vir Timoteus vertel het dat ‘n mens wat iets vir die Here aangepak het, nie moet uitsak nie, maar ten bloede weerstand moet bied.

Die volgende oggend vra Paulus vir Timoteus. “Ou Timmie, hoe gaan dit vanoggend? Dis nog net twee dae se stap dan is ons by Asië. Die groot opwinding is voor die deur. Julle gaan sien hoe die Heilige Gees harte gaan aanraak en hoe lewens gaan verander. Hoe lyk dit Timmie, is jy opgewonde?”

“Nee oom Paulus, ek is baie opgewonde. Maar ek dink tog my ma moes ‘n ander dokter gekry het om die operasie te gedoen het. Het oom Paulus miskien vir my ‘n Disprin?  Ek het my laaste twee gisteraand gedrink.”

SPANNING

Ek glo daar was ‘n tikkie spanning tussen hierdie drie mans. Ons moet onthou hulle loop honderde kilometers en Paulus mors nie tyd nie.

Uiteindelik nader hulle die eerste stad in Asië waar die Grieksprekende Jode gewoon het. Paulus sien al hoe doop hy kosbare siele en hoe hy ‘n nuwe gemeente stig. Hy het sy planne baie deeglik beraam.

En toe vind ‘n vreeslike teleurstelling plaas.  Ons weet nie presies hoe dit gebeur het, maar dit was baie erg. Kom ons lees daarvan:

Handelinge 16:6  Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig.

Wat ‘n teleurstelling.  Al Paulus se planne het platgeval.

VERPLETTERDE DROOM

Hy was ‘n predikant in een van ons baie groot gemeentes. Hy het sekere ideale vir sy gemeente gehad maar dit het nie gematerialiseer nie.  Ons het sy bedankingsbrief op die Uitvoerende komitee gelees en ons was stukkend. ‘n Ruk daarna het ek hom besoek. Dit was traumaties.

Verpletterde drome kan mense verpletter. My kolega was verpletterd.

Toe ek in die Paarl gewerk het, het ek op ‘n oujongnooi afgekom. Sy het ‘n teleurstelling gehad en besluit sy sal haarself nooitweer in ‘n verhouding begeef nie. Haar teleurstelling het haar verpletter.

Daar is baie mense wat ophou droom wanneer hulle drome nie uitkom nie. Hulle sê hulle wil nie weer seerkry nie, hulle wil nie weer teleurgesteld raak nie.

PROBEER WEER

Drie teleurgestelde, verslae mense hou vergadering. Ek wonder waaroor hulle gesels het. Ek glo nie Silas en Timoteus het veel gepraat nie. Hulle was net baie teleurgesteld. Hulle wou so graag sien hoe Paulus evangeliseer en nou het alles platgeval.

Paulus moes uiteindelik met sy metgeselle gepraat het.  “Manne, dinge het nie uitgewerk soos ek gehoop het dit sou uitwerk nie.
Maar dis nie die einde van die wêreld nie.  Daar is ‘n ander baie interessante plek waar ek graag sal wil besoek, en dis Bitinië.
Hoe lyk dit?  Sal ons weer probeer?”

Ek is so bly die drie het uit hulle teleurstelling opgestaan en weer gaan probeer.

DROOM WEER

My kinders het onlangs ‘n taamlike groot teleurstelling gehad.  Ek moes iets uitdink om hulle te troos en te bemoedig. Toe ek hulle lui, was die antwoord masjien aan. En dis die boodskap wat ek vir hulle gelaat het.

“Dis beter om ‘n duisend keer te droom en elke keer teleurgestel te raak, as om nooit te droom, en die heerlike ervaring van ‘n droom mis te loop. Kinders, droom maar weer ‘n keer.”

As jou drome deur teleurstelling verpletterd is, droom asb. weer. Moenie in jou teleurstellings gaan stilstaan nie. Loop weg van hulle. Loop na nuwe drome toe, loop na ‘n nuwe begin toe.

BITINIë

Paulus loop heel voor. Hy fluit ‘n vrolike liedjie “Werk want die nag kom nader.” Silas is kort op sy hakke. En dan volg Timoteus. Sy Zambuksqalf is klaar maar dit gaan gelukkig beter met hom.

Hy wou by Asië omdraai toe hulle hulle eerste teleurstelling opgedoen het, maar Paulus en Silas het baie vir hom gebid en hy het besluit om aan te hou.

Kom ons verneem wat van hulle nuwe drome geword het. Sou dit uitkom?  Of sou hulle weer teleurgesteld raak? Hulle is besig om die grenspos tussen Misië en Bitinië te nader. Die drie manne se harte klop al vinniger. Dis goed dat hulle nie moed opgegee het nie. Hierdie keer gaan groot dinge gebeur. Hulle het baie oor die saak gebid en hulle harte baie ernstig ondersoek.

Kom ons hoor wat sê Handelinge 16:7 vir ons: Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie.

DIE HEILIGE GEES HET DIT NIE TOEGELAAT NIE

Ek is so dankbaar vir hierdie teks. Paulus en Silas en Timoteus mag dit nie op daardie stadium besef het nie, maar dit was die Heilige Gees wat verhoed het dat hulle edel planne uitgevoer word. Die Heilige Gees was vir hierdie teleurstelling verantwoordelik.

Mag ek jou vra om weer ‘n keer na jou verydelde drome te kyk. Is dit moontlik dat die Heilige Gees, die Gees van Jesus verhoed het dat ons nie sekere doelstellings in die lewe bereik het nie?

As ons elkeen van ons teleurstellings in hierdie lig kan sien, kan die teleurstellings van die lewe vir ons nuwe betekenis aanneem.  Die Here weet wat vir ons die beste gaan wees en daarom verhoed hy dat sekere ideale nooit verwesenlik word.

Kom ons vertrou Hom ook met ons teleurstellings.

OP PAD NA TROAS

Ons drie vriende is weer op pad. Hulle het nou al om en by 700 kilometers afgelê. Van die groot evangelistiese drome het daar niks gekom nie.

Paulus loop voor. Net agter hom stap Silas en dan kom Timoteus. Hy is nou fisies honderd persent. Maar dit waarvoor Paulus hom geroep het om saam te kom, nl. om te gaan evangiliseer, het daar niks gekom nie.

“Ou Timmie, sê my, hoe gaan dit?”

“Oom Paulus, ek kan nie verstaan nie. Oom het gesê ons gaan ‘n baie suksesvolle evangeliereeks in Bitinië hou en daar het ook niks van daardie mooi planne gekom nie. Ek verstaan nou nie meer so mooi nie.”

Silas begin praat. “Paulus, dis my derde paar sandale wat ek op hierdie sendingreis deurgeloop het. Jy het my saamgenooi om jou met evangelisasie te help maar tot dusver het daar nog niks gebeur nie.”

STAP WEG

Die beste iets wat hierdie drie manne kon doen, was om ook van hierdie teleurstelling weg te stap en maar weer te droom. Ons moet nooit ophou droom om vir die Here iets te doen nie.

Ons moet nooit ophou droom om vir ons medemens iets goeds te doen nie. Ons gaan baie teleurgestel raak in ons liefdesdiens aan andere, maar ons moet aanhou probeer.

Drie manne stap en stap. Uiteindelik na meer as 300 kilometers loop hulle hulleself teen die see dood.

Baie gedagtes het deur my gemaal toe ek ‘n paar jaar gelede by Troas besoek het. Ek het aan ons drie vriende gedink wat 2000 jaar gelede daar aangekom het.

Paulus wou so baie regkry, maar elke keer het hy ‘n bloutjie geloop.

Baie keer werk ek van die more tot die aand toe sonder om iets noemenswaardig uit te rig. Het dit al met jou gebeur?

Dan was daar die kere dat ek baie ure se werk op die rekenaar gesit het net om alles te verloor. Jy spandeer ure om iemand te help en dan loop alles op ‘n mislukking uit.

Terwyl ek daar tussen die ruïnes van Troas rondgeloop het, het ek gewonder waar die teleurgestelde Paulus daardie nag geslaap het.

Ek dink dit was ‘n dubbelle nag vir hom. Letterlike en geestelik. Miskien het Paulus na die sonsondergang oor die Egeïese see gekyk en vir die Here gesê dat hy nou aan die einde van al sy menslike pogings gekom het. Hy kon nie verder nie, die see was voor hom. Hy het dwarsdeur die hele Klein Asië geloop en nie eers een evangeliepoging gehou nie. Elkeen keer het daar iets voorgeval.

“Ag Here, wat het verkeerd geloop? U het my geroep om die evagelie te verkondig, en elke keer het iets skeef geloop. U moet my help, ek kan regtig nie meer aangaan nie.”

In sy donker nag van teleurstelling het Paulus daardie nag aan die slaap geraak. En in die donkerste oomblik van sy lewe ontvang hy ‘n visioen van lig.

Vers 9  Daar het Paulus in die nag in ‘n gesig ‘n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

Wat ‘n visioen! In die nag van sy teleurstellings kom daar ‘n visoen na Paulus waarin iemand sê: “Kom help ons”

Watter effek dink u het hierdie visioen op Paulus gehad? Dit het hom met nuwe moed besiel. As daar iets is wat ‘n mens met moet besiel, is dit die besluit om op die roepstem van mense behoeftes te reageer.

Handelinge 16:10 Nadat Paulus die gesig gesien het, het ONS (dis nou vier van hulle) so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.”

“Timmie”, roep Paulus. “Hoe voel jy ou seun?”

“Oom Paulus, ek is reg. Met dr. Lukas nou saam met ons, met die versekering dat Oom Paulus ‘n visioen gehad dat die Here ons na Europa se kant toe roep, is ek gereed om op die seilskip te klim en oor te vaar.”

EUROPA EN KLEIN ASIë

Wanneer mens Europa en Turkye, voormalige Klein Asië besoek, is daar iets wat jou dadelik opval. Oral in Europa is daar Christelike kerke en miljoene Christene. Maar wanneer jy Turkye besoek, sien jy net moskees.

Die Here in Sy alwatenheid het geweet dat Europa ‘n baie vrugbaarder arbeidsveld as Klein Asië is. En hy verhoed vir Paulus, Silas en Timoteus om daar te evangeliseer.

In Sy groot pragtige liefdesplan het Hy vir Paulus iets beters in gedagte gehad.  Paulus se teleurstellings het op die grootste sendingdeurbraak in die geskiedenis van die vroeë Christelike kerk uitgeloop.

En jou en my teleurstellings kan ook op die grootste geestelike deurbraak in ons hele lewe uitloop.

GETSEMANE  EN TROAS

In elke mens se lewe kom daar ‘n Troas-ondervinding waar jy nie verder kan gaan nie. Agter jou lê ‘n reeks teleurstellings en voor jou ‘n groot stuk onbekende see wat jou verhoed om verder te gaan.

Dit was ook nag, lank gelede dat Jesus by Sy Troas uitgekom het.  Agter Hom het het baie trane van teleurstellings gelê. Hy wou so graag Jerusalem bymekaarmaak soos wat ‘n hen haar kuikens bymekaar maak, maar hulle het geweier.

Hartseer worstel Hy in die donker nag met die sondes van die wêreld wat op hom druk. Maar dis nie net ons sondes wat die lewe uit Hom wil pers nie, dis ook ons hartseer en teleurstellings wat Hom wil vernietig.

Die vreeslike worstelling met ons sonde probleem laat Hom steier en Hy begin om met Sy Vader te praat. Hy wil weet of daar nie miskien ‘n manier is hoe om uit hierdie vreeslike nag te ontsnap nie.

En net daar en dan ontvang Jesus ook ‘n visioen in sy Troas nag. Weet jy wat daardie visioen was wat Hom die moed gegee het om op staan en aan die kruis te gaan sterf? Hy het ‘n visioen van jou en my gehad.  Ons het Hom gewink om ons te kom help. Toe ons beeld voor Hom opdoem, het Hy geweet dat as Hy nie vir ons gaan sterf nie, ek en jy vir ewig verlore sal wees.

Hebreërs 12:2 Terwille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins”

As jy op hierdie oomblik ‘n Troasnag-ondervinding van teleurstellings deurmaak, wil ek dieselfde visioen aan jou voorhou as die een wat vir Jesus en vir Paulus besiel het.

Daar is iemand wat jou nodig het, net vir jou. En om hierdie visioen te hê van mense wat jou nodig het, gee jou weer nuwe moed om voort te gaan.

Mag die Here die visioen van mense wat ons nodig het, gedurigdeur in die donker nagte van ons teleurstellings stuur, sodat ons met nuwe moed en ywer vir Hom kan gaan werk.

ONS TELEURSTELLINGS

Dit maak nie saak watter teleurstellings ek en jy gehad het nie. Ons dien ‘n God wat klein teleurstellinkies toelaat sodat ‘n groter en heerliker plan in ons lewens kan ontvou.

As dit op die oomblik nag in jou lewe is, onthou:  Hy stuur visioene in ons donkier nagte – visioene van groter en heerliker ondervindings.

En onthou, dit mag wees dat die Heilige Gees jou en my verhoed het om sekere doelstellings te bereik. Die rede is baie duidelik. Hy het iets groters en mooiers vir ons in gedagte.

Op Golgotha het Jesus ook by ‘n doodloop pad gekom. Sy teleurstellings was baie groot. Hy verdwyn in die nag van die dood.

Maar daardie Sondagoggend het Hy uit Sy teleurstelling wakker geword en ‘n visioen gekry van hoe ek en jy eendag saam met Hom in sy koninkryk sal wees.

Mag die Here met ons wees op ons weg deur die teleurstellings van hierdie lewe. Kom ons dank Hom daarvoor en kom ons wag vir die visioene van die nag.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles