1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Petrus Se Val En Herstel

Petrus Se Val En Herstel

Skriftuur: 1 Petrus 4:12,13

Verlede keer het ons begin kennis maak met Petrus se swakhede en Jesus se genade. Wanneer mens die evangelies lees, merk jy dat Petrus se swakhede hulle self net meer en meer gemanifesteer het. Maar ‘n mens sien ook hoe Jesus se hantering van Petrus se swakhede net meer en meer intens en liefdevoller geraak het.

Nou kyk ons na die grootste sonde wat Petrus een aand gepleeg het.  En in hierdie preek gaan ons opnuut na die verstommende genade van Jesus kyk.

Matteus 26:31 Toe sê Jesus vir hulle: ”Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe: ‘Ek sal die herder doodmaak, en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’

Verse 32,33 Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.” Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ek sal U nooit in die steek laat nie.”

Verse 34.35 Toe sê Jesus vir hom:“Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die ander dissipels het ook so gesê.

Wat ‘n verwaandheid. “Kyk, almal in hierdie wêreld mag so ver gaan om Jesus te verloën, maar nie hierdie fantastiese Petrus nie. Nee. Hy sterf eerder voordat hy so ‘n lae daad pleeg.

Luister na hierdie verskriklike voorspelling van Jesus:

Lukas 22:34 “…Petrus, ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”

Die Bybel sê nie vir ons hoe Petrus op Jesus se voorspelling gereageer het nie. Maar volgens Petrus se geaardheid het hy hom nie veel aan Jesus se waarskuwing gesteur nie.

Petrus se fokus was op sy eie edele voornemens van lojaliteit. Petrus het meer op sy eie drogbeeld van integriteit gekonsentreer as op Jesus se woorde van waarskuwing.

As daar een iets is waaraan ons ‘n leeftyd lank sal moet leer is dit die volgende: Om onsself meer en meer te wantrou en vir Jesus meer en meer te vertrou.
Ons moet gedurigdeur besef hoe swak en gevalle ons is, en hoe groot die Here se instaatstellende krag is.

CHRISTUS SE OPLEIDINGSMETODE

Ek het die volgende pragtige gedagte in die boek, Opvoeding bl. 88 ontdek.

“Die geskiedenis van geeneen van die dissipels illustreer Christus se opleidingsmetode beter as die geskiedenis van Petrus nie. Dapper, aggressief en vol selfvertroue, skerpsinnig en voortvarend, gou om te vergeld…, het Petrus dikwels gefouteer en dikwels teregwysings ontvang… Met groot geduld en oordeelkundige liefde, het die Heiland getrag om Sy voortvarende oor-selfvertrouende dissipel in toom te hou. Jesus wou vir Petrus die lesse van nederigheid, gehoorsaamheid en vertroue leer.”

HOE VERANDER ‘N MENS

Is dit moontlik dat lelike mense, mooi mense kan word?  Ja. ‘n Mens kan begin mooi word wanneer jy besef hoe lelik jy regtig is, en hoe mooi Jesus werklik is.

‘n Mens kan begin mooi word wanneer jy alle selfvertroue met ‘n Jesus-vertroue begin vervang. Wanneer jy jou swakheid en Sy krag ontdek.

ST. PETER IN CALIGANTU

Een van die historiese plekke wat ek gereeld in Israel besoek, is die Kerk van die Hoenderhaan. St. Peter in Galigantu. Dis op die plek gebou waar Kajafas se paleis destyds gestaan het.

Nadat Jesus in Getsemane gearresteer is, is Hy deur die Kidronspruit hierheen gelei. Die evangelies vertel ons van die onmenslike behandeling wat Jesus die Donderdagnag hier ontvang het. Maar behalwe vir die fisiese pyn wat Jesus moes verduur het, het Hy ook nog ontsettende psigiese pyn verduur.

Lukas 22:54,55 Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op ‘n afstand agterna gekom. In die middel van die binneplaas was daar ‘n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit.
Verse 56-58 ‘n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê:“Die een was ook saam met daardie man.” Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!” ‘n Rukkie later sien iemand anders hom en sê:“Jy is mos ook een van hulle.” Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”
Verse 59,60 Na verloop van sowat ‘n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, die een was ook saam met daardie man.  Hy is mos ook ‘n Galileër!” Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!” En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar ‘n haan gekraai.

Verse 61,62 Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.” En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.”

Terwyl ek in die binnehof gestaan het waar Jesus geslaan, bespoeg en bespot is, kon ek in my geestesoog vir Petrus sien. ‘n Mooierige meisie kom staan styf langs Petrus. Sy gee hom so ‘n drukkie met haar skouer. “Ken jy hom?”

En Petrus vou. Hy vou drie keer agtermekaar. En elke keer protesteer hy harder en harder dat hy Jesus beslis nie ken.

En elke keer is daar meer onwelvoeglike byvoeglike naamwoorde by sy ontkenning en verloëning van Jesus by.

Terwyl Petrus vir Jesus die derde keer verloën, word daar skielik ‘n duet gehoor. Petrus se vloeke van verloëning verenig met die skril gekraai van ‘n hoenderhaan.

Jesus draai Sy stukkendgeslaande gesig na Petrus. Petrus kyk op daardie selfde oomblik in Jesus se oë.

“Terwyl die onwaardige vloeke nog vars op Petrus se lippe lê en die skrille gekraai van die haan nog in sy ore weerklink, het die Heiland Sy blik van die onvriendelike regters afgewend en na Sy arme dissipel gekyk. Terselfdertyd is Petrus se oë na sy Meester gedraai. In daardie sagmoedige gelaat het hy innige deernis en droefheid gelees, maar daar was geen verwyt nie.”
Die Koning van die Eeue, bld. 640.

Kan jy Petrus se reaksie sien? Hy kyk in daardie twee oë van Jesus en wat sien hy? As hy tog maar net ‘n blik van straf en verwerping sien, sou dit vir hom baie makliker gewees het.

Maar terwyl hy in Jesus se oë kyk, ontdek hy ‘n liefdevolle vergifnis en begrip wat hy nog nooit voorheen raakgesien het nie.

Die toneel van daardie bleek, gefolterde gelaat, die bewende lippe, die deernis en vergifnis in Sy oë, het Petrus se hart soos ‘n swaard deurboor.Sy gewete het wakker geword; sy geheue het begin werk. Petrus het die belofte wat hy nog maar ‘n paar uur tevore gemaak het dat hy sy Here tot in die tronk en die dood sou volg, onthou.
“Hy het onthou hoe gekrenk hy gevoel het toe die Heiland hom in die bovertrek vertel het dat hy sy Here drie maal in hierdie selfde nag sou verloën. Petrus het pas verklaar dat hy Jesus nie ken nie, maar nou het hy met bittere smart besef hoe goed sy Here hom geken het en hoe presies Hy sy hart gelees het    die valsheid waarvan hy self nie eens bewus was nie.

“’n Vloed van herinneringe het by hom opgekom. Die Heiland se tere genade, Sy vriendelikheid en geduld, Sy sagmoedigheid teenoor Sy wederstrewige dissipels   alles het hy onthou. Hy het die vermaning onthou: “Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie.” (Lukas 22:31,32).

“Hy het met afgryse aan sy eie ondankbaarheid gedink, aan sy valsheid, sy meineed. Nog een maal het hy sy Meester aangekyk en gesien hoe ‘n onheilige hand opgelig word om Hom in die gesig te slaan. Langer kon hy die toneel nie verduur nie, en hy het gebroke uit die hofsaal gestorm.

“In die eensame nag het hy voortgestrompel, hy het nie geweet waarheen nie en het ook nie omgegee nie. Eindelik bevind hy hom in Getsemane. Die toneel van ‘n paar uur tevore het helder voor sy gees gekom. Die gefolterde gelaat van Sy Here, bevlek met bloedsweet terwyl Hy ruk van die smart, het voor hom opgedoem. Met bittere selfverwyt het hy onthou dat Jesus alleen in gebed geween en geworstel het, terwyl hulle wat in daardie uur by Hom moes gestaan het, geslaap het.

“Hy het Sy ernstige opdrag onthou: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie” (Matt 26:41). Weer het hy die toneel in die hofsaal voor hom gesien. Dit was ‘n marteling vir sy gebroke hart om te weet dat hy die swaarste hou tot die Heiland se vernedering en leed bygedra het. Op die einste plek waar Jesus Sy siel in angs voor Sy Vader uitgestort  het, het Petrus op sy aangesig geval en gewens hy kon sterf.” – Koning  bld. 640.

WENS JY KON STERF

Was jy al ooit so verskriklik deur skuldgevoelens oorweldig dat jy gewens het jy kon sterf? Baie mense het in tye soos hierdie hulle eie lewens geneem. Hy was een van die toegewydste predikante wat ek nog ooit geken het. En toe val hy. Sy skuldgevoelens was vir hom so onhanteerbaar groot dat hy selfmoord gepleeg het.

Daardie nag in Getsemane het Petrus al sy selfvertroue verloor. Petrus het op Petrus opgegee. Hy het van ‘n iemand na ‘n niemand verander. Sy val het tot sy redding gelei.

JESUS GEE NIE MENSE OP NIE

Die verhaal van die val van Petrus gee vir my die blye versekering dat Jesus nooit ‘n sondaar sal opgee nie. Terwyl Jesus later daardie nag die wreedste mishandeling ondergaan het, het Hy vir sy moedelose vriend Petrus gebid.

Miskien het die Heilige Gees die volgende woorde van Jesus in sy donker brein ingeflits:

Lukas 22:31,32 “Simon, Simon!” het Jesus gesê.“Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

Soos wat Jesus met die sondeskuld van ‘n mensdom in Getsemane geworstel het, so het Petrus met sy eie donker skuldgevoelens tussen die olyfbome geworstel. Die enigste iets wat Petrus deur daardie donker nag gedra het, was die woorde van Jesus:

Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie.

As jy miskien op hierdie oomblik onder ‘n swaar las van skuldgevoelens wil ingee, onthou. Jesus bid vir jou.

OPSTANDINGSBOODSKAP

Vroeg die Sondagoggend toe Jesus opgestaan het, het hy vir die engel wat Hom uit die graf kom roep het, ‘n boodskap gegee om aan Petrus te gee.

Kom ons luister na hierdie goeie nuus wat die engel aan Maria Magdalena oorgedra het:

Markus 16:6,7 “Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle.“Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels EN IN DIE BESONDER VIR PETRUS: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

Maria het vir Petrus gaan opsoek en hom uiteindelik iewers in Jerusalem in die hande gekry. Ek wonder in watter toestand die arme Petrus gekry het. Ek wens ek kon hierdie ontmoeting gesien het.

“Petrus!  Ek is so bly ek het jou in die hande gekry. Ek het baie goeie nuus vir jou. Jesus het gevra dat ek ‘n baie spesiale boodskap vir jou moet bring.”

‘n Moedelose, verslae Petrus lig sy kop stadig op en kyk skepties na Maria. Opgewonde vertel sy vir hom dat Jesus laat weet het dat Petrus Hom in Galilea moet ontmoet soos Hy vroeër met die dissipels gereël het.

“Maria, het Jesus regtig MY naam genoem? Het jy mooi geluister?
Ek kan dit nie glo nie want ek het Hom voor Sy vyande met vloeke verloën. Toe almal teen Hom gedraai het en Hy my ondersteuning so bitter nodig gehad het, het ek Hom in die rug gesteek.

“Maria, ek dink ek het te ver gegaan. Sê asseblief vir Jesus en die ander dissipels dat hulle my maar moet verskoon. Ek is regtig nie meer werd om ‘n dissipel van Jesus te wees nie.”

Kan jy hoor hoe hierdie grootmond Petrus soos ‘n klein kindjie begin huil. Al wat Maria kon doen was om vir Petrus ‘n drukkie te gee en toe maar weer geloop het.

JESUS GEE NIE MET MENSE OP NIE

Maar as Petrus gedink het dat sy val groter as Jesus se reddende, vergewende genade was, het hy ‘n baie groot fout gemaak. En as jy miskien dink dat jy te ver gegaan het vir Jesus om jou te vergewe, maak jy ook ‘n baie groot fout.

Het jy geweet dat Jesus daardie einste Sondag nog vir Petrus persoonlik gaan opsoek het en met hom gepraat het. Jesus se liefde gee nie ‘n moedverlore, sondebelaaide mens ooit op nie.

1 Korintiërs 15:3-6 Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte: Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf…”

Voordat Jesus daardie aand aan die ander dissipels verskyn het, het Hy eers aan Petrus verskyn.

Voordat Hy die lof van biljoene engele gaan ontvang, het Hy eers vir Petrus gaan opsoek.

Voordat Hy voor die Vader verskyn het, het Hy eers vir Petrus gaan moed inpraat.

Ek wens ek kon by hierdie ontmoeting wees. Iewers in Jerusalem het Petrus op ‘n bondel gesit. Hy het te sleg gevoel om selfs asem te haal.

Toe hy weer sien, staan Jesus hier voor hom. Twee pare oë ontmoet weer mekaar.

Die boodskap in Jesus se oë sê: “Petrus kom terug!”

Die boodskap in Petrus se oë sê: ”Jesus, ek is te sleg. Ek is nie werd om u dissipel te wees nie. Ek het te ver gegaan.”

Die Bybel beskryf nie hierdie emosioneelbelaaide ontmoeting tussen Jesus en Petrus nie.

Miskien het Jesus net weer die boodskap herhaal wat hy deur die engel aan Maria vir Petrus gestuur het. Hy wil vir Petrus en die ander dissipels na Sy opstanding by Galilea ontmoet.

“Petrus. Voor my dood het ek ‘n afspraak met julle gemaak dat ek julle na my opstanding in Galilea wil ontmoet. Petrus. Ek wil hê jy moet teenwoordig wees.”

Petrus begin te huil. “Nee. Nee. Ek het U te diep teleurgestel. Ek is nie meer werd om U dissipel te wees nie. Vergeet van my. Ek gaan maar weer visvang.”

Dit mag wees dat Jesus hierdie gevalle Petrus in sy arms geneem en vasgedruk het. “Petrus. Ek sien jou by Galilea.”

EMMAUSGANGERS

Jesus wou hê dat die ander dissipels moes weet dat Hy Petrus vergewe het en weer in Sy diens wou opneem. Dit was die boodskap wat die twee Emmausgangers vir die ander dissipels in die bovertrek gebring het.

“Al het Petrus Hom so skandelik verloën, het Hy vandag aan hom verskyn.”

Lukas 24:34 “…Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn.”

Petrus het nog nie die moed gehad om weer sy gesig by die ander dissipels te wys nie. Iewers op ‘n eensame plek het die verslae dissipel/visterman nog ‘n nag in gebedsworsteling deurgebring. Gelukkig het die boodskap van Markus 16:7 in sy kop bly maal.

Maar gaan sê vir sy dissipels EN IN DIE BESONDER VIR PETRUS: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.

PETRUS BY GALLEA

Na baie ure van worsteling het Petrus besluit dat hy tog maar Jesus se uitnodiging aanvaar om Hom in Galilea te ontmoet.

Johannes 21:15 Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, (agapy=die groot liefde) meer as hulle hier?…”

Wat dink u, sou Petrus voor sy val vir Jesus gesê het? “Natuurlik!  Wat dink U van my?”  Luister hoe hy nou antwoord.

Vers 15 ”…Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” (Filia, die klein liefdetjie)

Jesus vra vir Petrus of hy Hom met die groot liefde liefhet. Petrus sê nee. Hy het Jesus net met die klein liefdetjie lief.

Die klein liefdetjie het ‘n AS in hom. “As dit nie te moeilik sal wees nie. As jy jou deel sal nakom. As dit moontlik is.

Die groot liefde is onvoorwaardelik. ‘n Liefde wat sonder terugvoering kan bestaan. Dink u Jesus gaan vir Petrus op grond van hierdie swak teenprestasie weer as predikant aanstel?

Vers 15 Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”

Petrus word as die herder van die jeug van die kerk aangestel. Hy kan die tieners se sabbatskoolles neem.

Vers 16 Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?” (Agapy, die groot liefde).“Ja, Here,” antwoord hy Hom , “U weet dat ek U liefhet.” (Fila, die klein liefdetjie.)

Wat dink jy? Hoe gaan Jesus hierop reageer? Sy aanstelling terugtrek? Nee. Luister net hier:

Vers 16 Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.”

Tenspyte van sy swak teenprestasie word Petrus as die herder, nie net van die lammers nie, maar ook van die skape aangestel.

Vers 17 Jesus vra hom die derde keer: Simon seun van Johannes, het jy My lief?” (Filia, die klein liefdetjie) Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy my lief?”, (filia, die klein liefdetjie) en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” (Filia, die klein liefdetjie) Hy sê toe vir hom:“Laat my skape wei.”

Tenspyte van die bietjie liefde wat Petrus vir Jesus kon gee, word hy met groot deernis opnuut as dissipel en herder aangestel.
Petrus het geleer om homself heeltemal te wantrou. Dis die soort volgeling waarna Jesus soek.

DRIE MAAL

Drie maal het Petrus vir Jesus in die openbaar verloën en  homself as dissipel van Jesus gediskwalifiseer. Hy het homself as te onwaardig gevoel om langer deel van die pastorale span te wees.

Maar drie maal agtermekaar stel Jesus vir Petrus in die openbaar aan as die herder van Sy kudde.

Hy jy geval en die Here en iemand anders se hart gebreek?  Het jy moed opgegee vir jouself. Voel jy te onwaardig en skaam om weer op te staan? Voel jy te sondig om ooit weer iets vir die Here te doen?

Die manier waarop Jesus vir Petrus vergewe en herstel het, gee vir elke gevalle sondaar die versekering dat Jesus ons nooit aan ons wrede skuldgevoelens sal uitlewer nie.

Die val en herstel van Petrus leer ons dat ons ewige redding  nie deur ons sonde gekanselleer word nie, maar deur Jesus se genade bevestig word.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles