1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Saggéüs Deel 2

Saggéüs Deel 2

Skriftuur: Lukas 19:1-10

Verlede keerk het ons na ‘n paar interessante aspekte van die geskiedenis van Jerigo gekyk.

Ons het kennis gemaak met Akan die skelm, die dief. Asgevolg van sy sonde van hebsug het hy homself, sy gesin en sommige van die soldate van Josua vernietig.

Akan het kans gehad om hom van sy sonde te bekeer en te bely en te laat staan, maar helaas, hy het nie.

SAGGEUS

Net soos Josua Jerigo eeue van te vore besoek het, so het Jesus ook die stad besoek.

Jesus was op pad om ‘n Akan te gaan red. Hy was op pad na iemand wat verlore was. Hy was op pad om ‘n hebsugtige mens te red wat van Hom en van ander mense gesteel het.

Lukas 19:1,2 Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. Daar was ’n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ’n ryk man.
As Saggeus eerlik gewees het, sou hy nie ‘n ryk man gewees het nie. Dit beteken nie dat alle ryk mense oneerlik is nie.
TOLLENAAR
Kom ons kyk vlugtig na die werk wat die tollenaars destyd gedoen het.
Die Griekse woord “telonys” is ‘n saamgestelde woord: “telos” beteken “belasting” en “oneomai” om “te koop.” Met ander woorde: “Koper van belasting.”
Die Romeine het nie self belasting by die Jode ingesamel nie. Hulle het die “franchise”, die agentskap van belastinginsameling op tender uitgesit.
Toe die advertensie van die tender in die “Jericho Post“ verskyn, het Sageus sy tender ingesit en die agentskap gekry.
Omdat Saggeus se besigheid so vinnig gegroei het, het hy subkontrakteurs aangestel om hom met die invordering van die belasting te help.
Vandaar die titel: “Hooftollenaar.”
Die belasting wat Saggeus en sy personeel ingesamel het, het uit die volgende kategorië bestaan:
1. Kopbelasting. Flavius Josefus, die geskiedskrywer sê dit was vir die Jode ‘n bitter pil om te sluk omdat dit hulle knegskap aan Rome gesimboliseer het.
2. Grondbelasing. Dit was vir die Jode net so ‘n gruwel omdat hulle vir God en nie vir Rome as die regmagtige eienaar van hulle grond beskou het nie.
UITGEWORPENE
Die samelewing het die tollenaars as Romeinse slawe beskou. Hulle is ook as Joodse verraaiers gestigmatiseer.
By die skool het die juffrou vir die kinders gesê om nie met oom slegte Saggeus se kinders te speel nie want hy is ‘n volksverraaier,‘n skelm en ‘n Romeinse slaaf.
PROFYT
Soos wat Saggeus se lewenskostes gestyg het, so het sy verhoogde belastings aan die Jode gestyg.
Sy kinders het van die mooiste en vinnigste donkies in Jerigo gery. Saggeus self het elke ses maande vir hom ‘n nuwe jongerige spogkameel “gelease.”
Die sekuriteitstelsel by sy villa langs Elisa se fontein was van die beste in Palestina. Indien jy wou inkom moes jy eers op ‘n ramshoring blaas voor die hek oopgegaan het.
VERLORE
Sabbatdae het die priesters teen die vreeslike sondes van Saggeus en sy tollenaars gepreek. Hulle het vir die kerksmense gesê dat as hulle tollenaars sou word, hulle nooit in die hemel sou kom nie.
Toe een van die onskuldige graad 1 kindertjies vir klein Saggeus junior sinagoge toe bring, het die hoofdiakones hom huis toe gejaag.
SOEKEND
Alhoewel Saggeus alles gehad het wat geld kon koop, was hy nie gelukkig nie. Hy het na menslike aanvaarding gesoek, maar dit nie gekry nie.
JOHANNES DIE DOPER
Op ‘n dag nadat Saggeus vir die duisendste keer ‘n man onnodig swaar belas het, het die volgende gesprek plaasgevind:
“Meneer Saggeus ek wil mooi met jou praat. Ek kom sopas van ‘n diens af wat deur Johannes die Doper gehou is. Hy het so mooi gepraat en ons gevra om met ons sondes te breek.
“Ek het gevoel hoe die Heilige Gees met my praat en ek het my hart aan die Here gegee en my laat doop.
“Saggeus. Daar was ook tollenaars soos jy wat na Jesus gaan luister het. Na die diens vra hulle toe vir die woestynprofeet wat hulle moet doen voordat hulle gedoop kan word. “Hier volg sy presiese woorde:
Lukas 3:13 “Moenie meer invorder as wat vir hulle vasgestel is nie.”
Saggeus het lank oor die man se woorde gedink en op ‘n dag ook na Johannes gaan luister. Die Heilige Gees het met sy hart gepraat.
‘n Ruk later het daardie selfde man weer by Saggeus se tolhuis aangekom. Die volgende gesprek het plaasgevind:
“Simon. Baie dankie dat jy my van Johannes die Doper vertel het. Ek het gaan luister en besluit om my lewe te verander. Die vorige keer het ek jou te veel belasting gevra. Neem asb. hierdie sjekkels. Dit sluit die bedrag in wat ek te veel gevra het, en so ‘n bietjie rente daarby.”
MATTEUS
“Saggeus! Baie dankie man. Ek is so bly vir die verandering wat daar in jou lewe gekom het. Maar kom ek vertel jou van nog ‘n wonderlike ding wat gebeur het.
“Bo in Galilea is daar ‘n jong rabbi wat preek en mense by die honderde gesond maak. Hulle noem hom Jesus. Hy het 12 mans wat saam met Hom werk en een van hulle is ‘n voormalige tollenaar. Ek het nou die ou se naam vergeet.”
“Simon. Wat sê jy vir my. Is die voormalige tollenaar se naam nie Matteus nie? Ek ken hom. Daai ou het mense links en regs bedrieg.”
“Saggeus. Nou dat jy sy naam noem, onthou ek dis Matteus.”
In die boek die “Koning van die Eeue” kry ons hierdie  interessante inligting oor Saggeus:
“Reeds het hy ‘n nuwe blaadjie omgeslaan, toe die tyding deur Jerigo trek dat Jesus die stad binnekom. Saggeus was vasberade om Hom te sien.” Bl. 495.
Dit was natuurlik nie vir Saggeus so maklik om reg te maak wat hy verbrou het nie.
Toe hy vir ‘n ander kliënt vertel dat hy hom te veel belasting in die verlede gevra het, en dat hy wou regmaak, was daar ‘n vreeslike ontploffing.
Die man het so tekere gegaan dat al die meisies in die kantoor gehoor het hoe hy op Saggeus vloek.
“Hy het reeds gesien hoe bitter die vrugte van die sonde is en hoe moeilik dit is vir iemand wat op ‘n verkeerde pad probeer omdraai. Om misverstaan en gewantrou te word as jy jou foute probeer regmaak, was swaar om te verduur.” Ibid. 495.
“My Skat, sê hy vir sy vrou toe hy die middag by die huis kom, “Ek het vandag ‘n baie nare ondervinding gehad. Ek wou vir ‘n man die geld teruggee wat ek oneerlik by hom geneem het. Weet jy wat doen hy? Hy vat daardie 20 sjekels en gooi dit op die kantoorvloer neer. Ek wil liewer nie die man se vloekwoorde herhaal nie.”
“Saggeus,” sê Salome, sy vrou. “Jy moet vasbyt. Die pad van restitusie, van regmaak, wat ons nou loop, gee my groot gemoedsrus. En wie weet. Miskien kom daardie Jesus wat vir tollenaars omgee, nog eendag na Jerigo.”
“Die tollenaarshoof het verlang om die aangesig te aanskou van Hom wie se woorde vir hom hoop gebring het.” Ibid 495.
JESUS SE BESOEK AAN JERIGO
Dit was ‘n paar dae voor die paasfees in Jerusalem. Die volume besigheid by Saggeus se tolhuis het geweldig toegeneem. Hy moes ekstra personeel aanstel.
Hy het hulle mooi gevra om nie ‘n sjekel meer vir kop- of grondbelasting te vra as wat hulle moes nie.
“Ek wonder wat oor Saggeus se lewer geloop het,” vra ‘n handelaar in Gileadbalsem nadat hy minder tolgeld betaal het as voorheen.
Lukas 19:1-3 Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. Daar was ’n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ’n ryk man.  Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was.
Iemand het uitasem by die tolhuis aangekom en vir Saggeus gesê dat Jesus sopas die dorp binnegekom het.
Die kort vet Joodjie gee ‘n paar vinnige opdragte vir sy personeel, en trek met ‘n spoed daar weg. “Kyk mooi na die kantoor. Ek is nou nou terug.”
By die skare aangekom, staan op sy tone, maar dit help niks. Hy kan net nie vir Jesus sien nie.
Lukas 19:4 Hy hardloop toe vooruit en klim in ’n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan.
Saggeus vra vir iemand wat soos ‘n volgeling van Jesus kan lyk, en wat maklik praat, met watter pad Jesus deur Jerigo gaan stap. Petrus antwoord hom:
“Ons neem die Herodus boulevard. Daarna draai ons regs met die NI na Jerusalem toe.”
DIE WILDE VYEBOOM
Wanneer ek Jerigo besoek, maak ek ‘n draai by die wildevyeboom. Dis in so ‘n boom wat hierdie vet Joodjie opgeklim het om Jesus mooi te kon sien.
Verse 5,6 Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.
Dit het seker snaaks gelyk om te sien hoe hierdie kort, vet, ryk Joodjie met sy mooi klere teen die boomstamme uitklouter.
En hy moes goumaak want hy hoor hoe die skare mense al hoe nader kom. Met hygende asem sit hy en wag.
En toe sien hy die rabbi wat selfs vir tollenaars omgee. Reinheid en liefde en omgee het uit Jesus gestraal.
Reg onder die boom gaan staan Jesus doodstil. En toe kyk  Hy op. Die mense naby hom kyk ook op en sien Saggeus.
Goddelike rein oë vol vergifnis kyk in die skuldige oë van ‘n verlore tollenaar. Saggeus laat toe dat Jesus sy sondaarshart verower. Na Jesus se blik, volg Sy woorde:
“Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Vers 5.
Sit jy op hierdie oomblik in die boom van skuldgevoelens? Sou jy graag vergifnis wil ontvang? Kyk dan met jou geloofsoog in Jesus se liefdevolle vergewende oë.
As jy baie mooi luister sal jy Sy stem hoor wat sê: “Klim vinnig af. Ek wil intiem met jou kom verkeer.”
Vers 7 Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ’n sondige man tuis!”
Terwyl hulle na Saggeus se spog huis stap, begin die Fariseërs praat. Maar hulle praat so hard dat Jesus en Saggeus alles hoor wat hulle sê.
Kom ons lees wat die hooftollenaar vir hulle gesê het:
Vers 8 Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”
So ‘n rukkie vantevore het ‘n ryk jongman Jesus kom besoek. Hy het dieselfde model kameel as Saggeus gery. Hy wou weet wat hy moes doen om die ewige lewe te beërf.
Toe Jesus vir hom vra of hy die gebooie gehoorsaam het hy bevestigend geantwoord.
Lukas 18:21-27 Maar hy antwoord: “Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” Toe hy dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk. Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Maar wie kan dan gered word?” Daarop antwoord Hy: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.”
ONMOONTLIK
Miskien het Petrus weer eerste gepraat:
“Ek het sommer geweet hierdie ou gaan nie by ons aansluit nie. Dis net die arm mense wat niks het om te verloor wat graag na Jesus luister.”
DIE MOONTLIKHEID
Maar hier sien die dissipels hoe die onmoontlike plaasvind.
Wanneer ‘n sondaar op die liefde van die Here reageer, kan hy die oorwinning oor enige soort sonde behaal.
DIE DUURSTE GESKENK
Saggeus het net nodig gehad om die mense wat hy finansieël benadeel het, tweevoudig te vergoed. Maar hierdie keer het hy nie ‘n afslag gesoek nie. Hy het meer as vergoed.
Lukas 19:9,10 Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ’n kind van Abraham. 10 Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

SAGGEUS SE VROU

Ek wonder hoe mev. Saggeus gereageer het toe haar man met Jesus en Sy 12 dissipels by hulle groot huis aankom? Ek dink sy was verskriklik opgewonde.

Alhoewel die samelewing hulle uitgeskop het, het die Prins van die hemel hulle aangeneem en hulle aan huis kom besoek.

Tydens hierdie besoek het Jesus met hulle oor verlossing gesels. Hy het hulle raad gegee hoe om voortaan oorwinnende lewens te lei.

JERICHO COIN SUCURITY SYSTEMS

Kom ek vertel jou net kortliks van die sekuriteits firma in Jerigo. Hulle is geregistrireer as “Jericho Coin Security Systems.”

Nadat Jesus daar weg is, het Saggeus die skakelbeampte van die firma laat roep. Daar was ‘n paar plekke waar hulle vir hom moes gaan geld aflewer.

Van sy eerste aflewerings was by “Meals on Wheels.” en  die “Abraham kinderhuis.” Die belofte wat hy aan Jesus en die skare ten opsigte van ‘n skenking aan die arms gemaak het, het hy nagekom.

“Jericho Coin Security Services” het die sakke geld bo op twee kamele gelaai. Langs die kamele was daar skilde om sekuriteitsmanne teen kapers te beskerm.

Voor die kamele het twee groot sekuriteitsmanne met peil en boog op twee donkies gery. Hulle moes die pad dophou.

En agter die twee kamele het daar nog twee fris  sekuriteitsmanne met peil in boog op hulle donkies gery.

Twee groot sakke sjekels word afgelaai.

“GILEAD-BALSEM VIR BETER GESONDHEID EN ‘N MOOIER VEL.”

En nou beweeg die “Jericho Coin Security”-mense na die hoofkwartiere van die “Gilead-Balsem vir Beter Gesondheid en ‘n Mooier Vel.”

‘n Hele paar sakke sjekels word hier afgelewer. Saggeus verduidelik dat hy die “reps,” die verteenwoordigers van hierdie firme te veel belasting laat betaal het.

En nou gee hy vir die besturende direkteur vier keer meer  geld terug as wat eintlik van hom verwag word.

“Meneer Levin. Ek het Jesus ontmoet. Om eerlik te lewe het nou vir my heerliker en belangriker as al die rykdom  in die wêreld geword.”

Die sakke geld op die twee kamele word minder. Die sekuriteitsmanne van “Jericho Coin Security Systems” met hulle indrukwekkende uniforms en peil en boog lyk nie meer so gespanne nie.

Die laaste stop is by die sinagoge. Op die sakke staan daar geskrywe: “Agterstallige tiende.” Saggeus stap saam met die sekuriteitsmanne na die priester toe.

“Priester Rabin ek het vir ‘n lang ruk opgehou om die Here se tiende te gee. Vandag bring ek dit terug en jy sal sien ek het 20% bygesit.

“Priester Rabin ek het jare gelede oubaas Issaskar met ‘n duisend sjekels ingedoen. Intussen is hy dood. Ek kan nie sy kinders opspoor om vir hulle die geld te gee nie. Nou bring ek geld na die skatkis van die Here toe.”

TOEPASSING

Soos Saggeus is ons ook in ‘n vyeboom van verlange want ons wil Jesus graag sien. Hy wil by ons kom stilstaan en in ons oë kyk. Hy wil vir ons dankie sê vir die geestelike vordering wat ons gemaak het. Maar Hy wil ons ook bemoedig om aan te groei.

Skuld ek iemand miskien geld? Het ek iewers ‘n oneerlike transaksie beklink? Kry die Here Sy regmatige deel? Ek sluit met hierdie gedagte:

“Die Here het nie ons offergawe nodig nie. Ons kan Hom nie met ons geskenke verryk nie. Die psalmis sê: “Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het.” Tog laat die Here ons toe om ons waardering vir Sy goedheid deur self-opofferende dade aan ander te bewys. Dis die enigste manier om ons dankbaarheid en liefde teenoor God te openbaar. Hy het nie ‘n ander metode nie.” Raad oor Rentmeesterskap, bld. 19.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles