1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Sonder ‘n Bruilofskleed Deel 2 – Gelykenis 28

Sonder ‘n Bruilofskleed Deel 2 – Gelykenis 28

Die onmisbaarheid van Jesus se geregtigheid.

Die koning het inspeksie van die gaste by die bruilofsfees gedoen. Net hulle wat die voorwaardes nagekom en die bruilofskleed aangetrek het, is aanvaar. So is dit ook met die gaste by die evangeliefees. Net hulle wat die kleed van Jesus se geregtigheid aangetrek het, kan deelneem. Geregtigheid is om reg te doen en ons sal volgens ons optrede geoordeel word.

Ons kan Jesus se Naam bely waardeur ons gered word, maar ons kom nie so ver om Hom deur geloof ons persoonlike Saligmaker te maak nie.  Dit is nie goed genoeg om in die teorie van die waarheid te glo nie. Teologie red nie. Dit is nie goed genoeg om Jesus te bely en ons name op die kerkregister te hê nie.

1 Johannes 3:24   En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly aan die Gees wat Hy ons gegee het. 1 Johannes 2:3  En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Dis die bewys van ware bekering. Wat ons belydenis ookal mag wees, as Jesus nie in dade van geregtigheid geopenbaar word nie, beteken dit niks nie.

Die waarheid moet in ons harte geplant word. Dit moet ons gedagtes en emosies beheer. Ons taal moet meer en meer met die Woord van God gevul wees. Hy wat ‘n deelgenoot van die goddelike natuur word, sal in harmonie met God se groot standaard van geregtigheid, Sy heilige wet, wees. Dit is die reël waardeur God die gedrag van mense meet.

Daar is baie beweer dat die sterwe van Jesus die wet afgeskaf het. Maar dit weerspreek Jesus se eie woorde: Mat 5:17  Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Mat 5:18  Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. 

Dit was om versoening vir ons oortreding van die wet te doen dat Jesus gesterf het. As die wet afgeskaf kon word, sou Jesus nie hoef te sterf nie. Hy het die wet van God geëer en dit deur Sy dood bevestig. Hy het Sy lewe as ‘n offer gegee, nie om die wet af te skaf nie, of die standaard te verlaag nie, maar dat geregtigheid gehandhaaf kon word, sodat die wet onveranderlik en ewig sal wees.

Satan het beweer dat dit vir die mens onmoontlik was om God se gebooie te gehoorsaam. In ons eie krag is dit waar dat ons dit nie kan doen nie. Maar Jesus het in menslike gedaante en deur Sy volmaakte gehoorsaamheid, bewys dat mensheid en godheid gekombineerd, aan elke voorskrif van God gehoorsaam kan wees.

Johannes 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo. Ons besit nie hierdie krag nie, dit is God se krag. Wanneer ons Jesus aanneem, ontvang ons die krag om die lewe van Jesus te lewe.

God vereis volmaaktheid van sy kinders. Sy wet is ‘n afskrif van Sy karakter, en dit is die maastaf van alle karakters. Hierdie standaard word aan almal voorgehou, sodat daar geen misverstand met betrekking tot die soort mens wat sal wees wat God sy koninkryk sal uitmaak nie.

Die lewe van Christus op aarde was ‘n volmaakte uitdrukking van God se wet, en wanneer mense wat beweer dat hulle kinders van God is, sal hulle aan God se gebooie gehoorsaam wees. Dan kan die Here hulle vertrou om deel van die familie van die hemel te wees.

Geklee in die glorieryke klere van Jesus se geregtigheid, kry hulle ‘n plek by die Koning se fees. Hulle het die reg om by die bloedgewaste skare aan te sluit.

Die man wat na die fees sonder ‘n bruilofs- kleed toe gekom het, verteenwoordig die toestand van baie in ons wêreld vandag. Hulle bely dat hulle Christene is, en maak aanspraak op die seëninge en voorregte van die Evangelie. Tog voel hulle geen behoefte aan hartsverandering nie.

Hulle het nie hulle oorerflike of aangeleerde neigings tot hulle verkeerde optrede oorkom nie. Tog dink hulle dat hulle goed genoeg is, en berus op hulle eie verdienstes in plaas daarvan om op Christus te vertrou. Hoorders van die woord kom by die feesmaal aan, maar hulle het nie die kleed van Christus se geregtigheid aangetrek nie.

Baie wat hulleself Christene noem, is moraliste. Hulle het die gawe geweier wat hulle alleen in staat kon stel om Christus te eer deur Hom aan die wêreld te verteenwoordig. Die werk van die Heilige Gees is vir hulle ‘n vreemde werk. Hulle is nie daders van die Woord nie.

Hemelse beginsels wat diegene onderskei wat een met Christus is van diegene wat een met die wêreld is, het byna ononderskeibaar geword. Die belydende volgelinge van Christus is nie meer ‘n afgesondere besondere volk nie.

Die mense het deel van die wêreld se gebruike en sy selfsug word. Die kerk het ‘n kompromie met die wêreld aangegaan, pleks dat die wêreld saam met die kerk tot gehoorsaamheid bekeer moes word. Die kerk het saam met die wêreld die wet begin oortree, pleks dat die wêreld saam met die kerk tot die gehoorsaamheid aan die wet van God oorgegaan het. Ongelukkig word die kerk daagliks tot die wêreld bekeer.

Mense verwag dat hulle deur Jesus se dood gered moet word, terwyl hulle weier om ‘n lewe van selfopoffering te aanvaar.

Hulle besing die rykdom van vrye genade en beklee hulle met ‘n skyn van geregtigheid en dink hulle kan hulle skande verberg. Hierdie optrede gaan nie die toets van die wederkoms slaag nie. Die geregtigheid van Jesus sal nie ‘n enkele gekoesterde sonde bedek nie. Iemand kan ‘n oortreder is sy hart wees en miskien nie openlik sonde pleeg nie, kan deur die wêreld as regverdig beskou word. Maar die wet van God ondersoek die geheime van die hart. Elke optrede word volgens die motiewe daarvan getoets.

Alleen dit wat in harmonie met die beginsels van God se wet is, sal die toets van die oordeel kan slaag. Maar die wet van God ondersoek die geheime van die hart. Elke optrede word volgens die motiewe daarvan getoets. Alleen dit wat in harmonie met die beginsels van God se wet is, sal die toets van die oordeel kan slaag.

 Ons kan al die krag van die hemel tap om die versoekings van die Satan te weerstaan. Maar die liefde van die Here sal nie moedswillige sonde in ons lewe verskoon nie. Hy het nie die sonde van Satan verskoon nie en Hy sal ook nie ons moedswillige sondes verskoon nie. Hy verwag dat ons sonde deur Sy krag sal oorwin.

As ons die gawe van Jesus se geregtigheid verwerp, verwerp ons die karaktereienskappe wat ons kinders van God maak. Ons verwerp dan juis dit wat ons uitsluitlik vir ‘n plek by die feesmaal van die koning kwalifiseer.  In die gelykenis het die koning vir die man ‘n vraag gevra:

Matteus 22:12  En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. So gaan dit ook in die dag van die groot oordeal wees. Ek kan vandag verskonings vir my swakhede maak, maar in daardie dag sal ek dit nie kan doen nie. Ek sal stom wees.

Hedendaagse mense wat Jesus bely, word hoog aangeslaan. Die Here laat Sy toenemende lig op ons skyn. Ons geniet baie meer geestelike voorregte as die van Gods volk van ouds. Ons het nie net die groot lig wat aan Israel toevertrou is nie, maar ons het toenemende bewyse van die groot verlossing wat deur Christus aan ons gebring is. Dit wat tipe en simbool vir die Jode was, is vir ons werklikheid.

Hulle het die Ou Testamentiese geskiedenis gehad; ons het dit in die Nuwe Testament. Ons het die versekering van ‘n Verlosser wat  gekom en gekruisig is, opgestaan ​​het, en wat by die graf van Josef uitgeroep het:

“Ek is die opstanding en die lewe.” In ons kennis van Christus en Sy liefde word die koninkryk van God in ons midde geplaas. Christus word in preke aan ons geopenbaar en in liedere aan ons gesing. Die geestelike feesmaal word in al sy ryke oorvloed vir ons aangebied.

Die bruilofskleed, wat teen oneindige koste bekom is, word vrylik in God se groot liefde en genade aan ons voorsien. En dan is daar ook nog die vrye toegang van  die beloftes van God se Woord. Ons het toegang tot die Vader deur Jesus. Ook nog die vertroosting van die Heilige Gees. En dan is daar ook nog versekering van die ewige lewe in die koninkryk van God. Wat is daar wat God nog nie vir ons gedoen het as wat Hy nie reeds vir ons in die groot maaltyd, die hemelse maaltyd gedoen het nie?

In die hemel praat die dienende engel. Hulle sê: “Die bediening wat aan ons opgedra is om te verrig, het ons getrou gedoen. Ons het die leër van bose engele in toom gehou. Ons het helderheid en lig na kosbare siele gestuur. Ons het hulle geheue met die groot liefde van God verfris wat in Jesus geopenbaar is.”

Hulle het die krag van die evangelie ervaar. Hulle harte het sag en teer geraak toe hulle die soetheid van die liefde van God gesien en beleef het. Hulle het die skoonheid van die karakter van Jesus aanskou.

Maar vir baie van hulle was die prys om Jesus te volg te duur. Hulle was nie bereid om hulle sondige gewoontes en leefstyl prys te gee nie. Hulle wou nie hulle aardse klere uittrek om met die kleed van die hemel aangetrek te word nie.

Hulle harte was aan sondige begeerlikhede gekoppel. Hulle het hulle aardse vriende liewer gehad was wat hulle God liefgehad het. Die dag van hulle finale afrekening sou plegtig en baie onaangenaam wees. Johannes beskryf hierdie dag as volg:

En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.  En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. Openbaring 20:11,12

Hartverskeurend sal die terugblik daardie dag wees wanneer ons van aangesig tot aangesig met die ewigheid gekonfronteer gaan word. Die wêreld se plesier, rykdom en eer sal in die niet verdwyn. Ons sal dan sien dat net die waarheid wat ons verag het, van ewige waarde was. Ons sal dan besef watter ontsettende prys ’n mens betaal as jy die wet van God verwerp.

Daar gaan nie weer ‘n geleentheid wees om vir die ewigheid voor te berei nie. Dit is net nou in hierdie lewe dat ons die kleed van Jesus se geregtigheid moet aantrek. Dit is nou op hierdie oomblik dat ons karakters moet vorm om die te wonings gaan woon wat die Here vir Sy gebooie- bewarende kinders gaan voorberei het. Die sandjies van die tydglas is besig om vinnig uit te loop. Die einde is op ons. Aan ons word die volgende waarskuwing gegee:

Lukas 21:34  Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Moenie onverwags by die bruilofsfees van  die koning betrap word nie. Maak seker dat jy die koning se kleed nou reeds aantrek.

Matteus 24:44  Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                           

Openbaring 16:15 Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie. 

VOLGENDE KEER

Die vriend wat middernag kom besoek het.

Was this article helpful?

Related Articles