1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Uria Die Hettiet – Dapper Held – Deel 2

Uria Die Hettiet – Dapper Held – Deel 2

Skriftuur: 2 Timoteus 2:11-13

In die vorige aflewering het ons na die twee opsies t.o.v. teleurstellings gekyk. Ek kan of besluit dat die teleurstellings
my beter gaan maak, of ek kan besluit dat teleurstellings my bitter gaan maak.

Elkeen van ons moet hierdie baie belangrike besluit maak. Die soort besluit wat ons gaan maak, gaan ons geluk op aarde tot ‘n groot mate bepaal.

URIJA BY RABBA

Urija die Hettiet, die dapper held bevind hom op die slagveld in Jordanië. Hulle is besig om die laaste vesting, Ammon Rabba te beleër. Na afloop van hierdie oorwinning gaan hy en Batseba met ‘n gesin begin.

Hy is so dankbaar vir die vrou wat die Here hom gegee het.  Elkeen keer wanneer hy by die huis kom, was sy daar om hom met oop arms te ontvang. En alhoewel sy een van die mooiste vrouens in Jerusalem is, (as mej. Jerusalem in 1004 vC gekroon) het hy nog geen rede gehad om haar te wantrou nie.

VERTROUE

Het jy dieselfde vertroue in jou lewensmaat as wat Urija in sy vrou Batseba, dogter van die Sabbat gehad het?

Terwyl Urija aan die integriteit van sy vrou en van sy koning gedink het, het die volgende bitter teleurstellende drama homself in Jerusalem tussen Dawid en Batseba afgespeel.

2 Samuel 11:2 Eendag het hy na sy middagslapie opgstaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy ‘n vrou sien bad.  Sy was ‘n baie mooi vrou.

Mans. Ons kan nie verhoed dat ons ‘n mooi vrou raaksien nie.  Maar daar is iets anders wat ons kan verhoed.

Wat moes Dawid gedoen het toe hy hierdie mooi vrou raakgesien het, en wat moet ons doen wanneer ons ‘n mooi vrou raaksien?

Dawid moes dadelik na die “Simson Gimnasium” op die hoek van Abraham- en Isakstrate toe gegaan het. Hy moes so geoefen het dat hy homself papnat gesweet het. Of hy moes dadelik na die front toe vertrek het en gaan veg het.

Hy kon ook natuurlik sy eie vrou Abigail vir ‘n slaatjie en ‘n druiwesappie by die Jerigo Spur geneem het.
Pleks van die boetedoening psalm 51 kon hy een met die opskrif
“Here verlos my van mooi vrouens wat op dakke bad” geskryf het.

Spreuke 5:15 Jy het tog self ‘n vrou, jy het tog self ‘n put met water: drink die strome uit jou eie fontein.

Of jy water uit ‘n goue kraan of yster kraan drink, die water smaak maar dieselfde. En of jy water uit ‘n dun kristalglas of ‘n groot blikbeker drink, dit smaak maar dieselfde.

Spreuke 6:30-33 ‘n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te stil, en as hy uitgevind word, moet hy sewvoudig teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit. Maar ‘n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe. Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie.

Arme Dawid. As hy maar besef het dat die sonde van die oomblik op ‘n leeftyd van skande en selfverwyt sou uitloop. Vyf minute se hel van selfverloëning is beter as ‘n leeftyd in die vlamme van selfverwyt.

Dawid moes sy gedagtes van die mooi vrou afgekry het, en iets anders gaan doen het.

En as hierdie vrou nie uit sy kop wou wyk nie, moes hy baie ernstig met die Here oor die saak gepraat het, totdat hierdie prikkel verflou het.

Hoe langer ons sondige prikkels en neigings ignoreer, hoe flouer word hulle.

Jakobus 4:7 sê dat ons die duiwel weerstaan, hy sal wegvlug.
As Dawid maar net gedoen het wat Job jare van te vore gedoen het, sou ons nie van sy tragiese val gelees het nie.

Job 31:1 Ek het my plegtig verbind om nie na ‘n meisie te kyk en haar te begeer nie.

Die ou vertaling stel dit baie mooi. “Ek het ‘n verbond met my oë gesluit.” As Job dit destyds moes doen toe die vrouens nog van kop tot tone bedek was, wat van die mans wat in hierdie tyd leef waar die vrouens meer lyf en minder klere wys?

Nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het die duiwel soveel versoekings op ‘n man se pad geplaas soos in ons dag nie.

Net voordat Israel die beloofde land binne gegaan het, het duisende van hulle by Baal-Peor in die sonde van onsedelikheid verval. Ons staan ook op die punt om die beloofde land binne te gaan. Die dieselfde versoeking gaan hom herhaal. Kom ons waak.
As mans nie ‘n verbond met hulle oë gaan sluit t.o.v. dit wat die dames wetend of onwetend vertoon nie, gaan hulle in ‘n ewig-brandende hel van selfverwyt en vernedering beland.

Mans. Ons sal ook ‘n verbond met ons oë moet sluit sover dit sekere tydskrifte aangaan.

Ons sal ‘n verbond met ons oë moet maak sover dit die kyk na sommige televisie programme aangaan.

Mans. Ons sal ook versigtig moet wees t.o.v. dit wat ons met ons geestesoog sien. Met ander woorde ons verbeelding. 2 Korintiërs 10:5.

As die vyand sekere beelde in ons gedagtes flits, sal ons ons geestelike oë daarvoor moet toemaak.

‘n Sieklike sentimentele verbeelding verwoes die karakter en integriteit van mans en vrouens. Vermy liefdesverhale.

Spreuke 4:23 Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe…Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.

As Dawid maar net op hierdie tydstip van sy lewe aan een van die psalms gedink het wat hy geskryf het, sou hy nie geval het nie.

Psalm 16:7,8 Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.  Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.

Wanneer ‘n mens die besef van die Here se teenwoordigheid in jou lewe beoefen, vernietig jy die krag van die versoeking.

Dawid sê “Omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.”

Daar was sekere stoutighede wat ons as kinders gedoen het. Dit het gewoonlik in die nag plaasgevind as my ma of pa nie naby was nie.

Solank as wat ek my pa of ma gesien het, was ek soet. Sodra hulle uit my oog verdwyn het, was ek stout.

Dawid het geleer dat as hy die Here in oog het, hy nie struikel nie.

En toe op ‘n dag kry hy ‘n mooi vrou in die oog en die Here verdwyn uit sy gesigsveld.
En pleks dat Dawid doen wat rede en sy gewete vir hom sê, doen hy wat sy gevalle natuur vir hom sê. Kom ons lees presies wat gebeur het.

2 Samuel 11:1 In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op ‘n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.

Wat ‘n fout. Die oomblik toe Dawid opgehou het om die oorloë van die Here te veg, het hy in versoeking beland en geval.

Ek en jy is ook in ‘n oorlog teen die vyand betrokke. Die oomblik as ons ophou waak en bid en stry, sal die vyand op ons toesak en ons verslaan.

Vers 2 Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy ‘n vrou sien bad. Sy was ‘n baie mooi vrou.

En pleks dat Dawid bid: “Ag Here, lei my nie in die versoeking nie, maar verlos my van die bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag die heerlikheid tot in ewigheid,” doen hy die volgende:

Vers 3-5 Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.” Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal…Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.”

Wie se skuld was dit? Ons weet dat Dawid en Migal huweliksprobleme gehad het. Miskien het Dawid en Abigail die vorige dag ‘n hewige rusie gehad.

Dit mag wees dat sy vir hom gesê het “Ek weet nie of ek jou meer lief nie.” Dit kan ook wees dat hulle groot aanpassingsprobleme gehad het. Dit kon ook PMS gewees het.

Wie se skuld was dit dat Dawid in sonde geval het? Freud en Fletcher kon omstandighede of die Here daarvoor blameer het.

Jakobus 1:13-15 Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.

Ons moet een ding baie goed verstaan. Die Bybel aanvaar geen verskonings vir sonde nie. Dis net ek wat daarvoor te blameer is.

URIJA WORD GEROEP

Terwyl Urija aan die fantastiese vrou dink wat die Here hom gegee het, kom ‘n boodskapper daaraan. Nadat hy die groot generaal beleefd gesalueer het, sê hy die volgende:

“Generaal Urija. Joab het laat weet dat u tydelik van u pligte onthef word en na Jerusalem toe moet gaan.”

Urija stap na Joab toe en luister weer ‘n keer versigtig na hierdie fantastiese boodskap.

“Urija. Jy is ‘n gelukkig man. Jou buurman die koning het laat weet dat jy hom in Jerusalem moet kom spreek. Gaan so gou as moontlik en maak sommer ‘n draaitjie by Batseba. Sy sal in haar element wees om jou so onverwags weer te sien.”

DIE STAP NA JERUSALEM

In my verbeelding sien ek hoe Urija by Nebo, Gilgal en Jerigo verbystap. Terwyl hy die steiltes na Jerusalem uitstap, dink hy aan sy spogwoning langs die koning se paleis. Hy dink aan sy beeldskone Batseba wat binne oomblikke in sy arms in gaan hardloop. Sy hart begin vinnig klop.

Wat dink jy het gebeur toe Batseba die deur oopmaak en hier staan haar man Urija, die Hettiet, die dapper held?

My telefoon het gelui. Dit was ‘n baie goeie vriend van my. Ek het hom en sy vrou in die huwelik bevestig.

Hy sê vir my dat hy net so ‘n snaakse gevoel het dat sy vrou ‘n buite-egtelike verhouding het. Dis baie moeilik vir ‘n egpaar om vir mekaar diep dinge weg te steek.

DIE ONTVANGS

Urija klop aan die voordeur van sy spog woning. Die beeldskone Batseba maak oop. Haar mooi glimlag is weg. Haar omhelsende arms is weg. Haar eerlike oogkontak is weg. ‘n Pragtige huwelik is weg.

“Batseba, dogter van die Sabbat. Is alles verby?”

Skaam, verleë kyk sy weg. Skud haar kop bevestigend terwyl sy begin huil. Sy maak die deur toe en Urija die Hettiet staan buite. Hy bibber buite in die koue yswind van verwerping.

KEUSE

Terwyl Urija met ‘n verskriklike pyn, eensaamheid, vernedering  en verwerping worstel, praat twee stemme met hom.
“Urija. Breek met hierdie waarheid. Gaan terug na die Kubaba- kerk. Gaan terug na die land van die Hettiete. Haat hierdie spul skeinheilige Israeliete. Raak verbitterd.”

En dan hoor hy ‘n ander stem. “Urija die offerlam wat jy onlangs geslag het, vertel van ‘n komende Verlosser wat ook deur Sy bruid verwerp gaan word. Urija. Moenie hierdie waarheid los omdat jou vrou jou gelos het nie. Urija. Bly getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee. Moenie bitter word nie, word beter.”

SLAAG DIE EERSTE TOETS

In die Bybel staan daar net ‘n paar woordjie: Urija, die Hettiet, die dapper held. Maar dit sê so baie.

Hy het ‘n held geword toe sy vrou teenoor hom ontrou geraak het. Pleks dat hy bitter geword en die kerk gelos het, het hy beter geword en die komende Messias voorgestel.

Moenie die waarheid los en bitter word as jou dierbares jou teleurstel nie. Laat toe dat die teleurstellings jou beter maak.

VERSKYNING VOOR DAWID

‘n Stukkende Urija stap na sy geliefde koning Dawid. In sy binneste is daar nie net pyn nie, daar is ook onsekerheid.  “Wie kan die man wees wat sy huwelik verwoes het? Sal die Here hom help om hierdie skurk te vergewe?”

Wat sal hy maak as hy uitvind wie hierdie verwoester van ‘n mooi verhouding was?

En die versoeking van weerwraak wat tot elke slagoffer van ontrouheid kom, pak vir Urija beet.

En terwyl Urija aan die onbekende derde party dink, praat daar twee stemme met hom.

“Urija. Vind uit wie die skurk is en verwoes hom. Jy is die top militaris en dit sal jou nie baie lank neem om hierdie skurmunkel met een spieshou dood te steek nie. Sy tipe moet van die aardbol af weggevee word.”

Hoe meer Urija na hierdie stem luister, hoe meer verbitterd raak hy.

Maar dan praat daar ‘n ander stem met hom. Die stem sê vir hom om nie bitter te word nie, maar beter. Hy dink aan die teks wat die priester voor sy doop met hom bespreek het. Die teks wat sê dat ons nie mag vergeld nie.

Deuteronomium 32:35 Ek straf en Ek vergeld op die dag as hulle voete gly. Die dag van hulle ondergang is naby; wat oor hulle besluit is, kom gou.

Urija onthou hoe mooi die priester nog met hom gepraat het. “My liewe broer Urija. Jy moet onthou dat die kerkmense jou vorentoe mag teleurstel. Selfs ek as die priester wat aan jou hierdie mooi waarheid gebring het, mag val.

“Urija. Ek verstaan jy en Batseba het trou planne. Sy is ‘n baie mooi vrou. En mooi vrouens het meer versoekings as vrouens wat nie so mooi is nie. En as dit eendag sou gebeur dat sy jou mag teleurstel, moenie bitter word nie. Moenie die Here blameer vir dinge wat kerksmense aan jou mag doen nie. Vra Hom om jou liewer beter te maak.

“Moenie jou oë op mense hou nie. ‘n Mens is feilbaar. ‘n Mens is geestelike net so sterk as wat sy verhouding met die Here is. Hou jou oë net op die God van Israel. Dis net Hy wat jou nooit sal teleurstel nie.

”Urija. Jy moet onthou dat teleurstellings jou of bitter of beter maak. Ek wil hê dat jy deur die genade van die Here sal besluit om altyd liewer beter as bitter te raak.”

Terwyl Urija aan die woorde van die priester dink, versag sy hart teenoor die onbekende man wat sy huwelik opgebreek het.

Hy dink weer ‘n keer aan die mooi teks in Deuteronomium 32:35

Ek straf en Ek vergeld

Terwyl Urija na Dawid se paleis stap, bid hy.

“Ag Here. Dis baie swaar om hierdie onbekende owerspeler te vergewe. Help my asseblief om nie bitter te raak en hom dood te
maak nie. Help my asseblief om hom te vergewe soos wat U ook my
sondes vergewe het. Ek vra dit in die Naam van die Komende Messias.  Amen.”

En dan dink Urija aan ‘n ander pragtige teks wat priester Simon hom geleer het.

Deuteronomium 32:36 Die Here behartig die saak van sy volk, die Here ontferm Hom oor sy dienaars, want Hy sien hulle krag het ingegee, dit is klaar met hulle almal.

Deur die jare het ek met die slagoffers van ontrouheid berading gedoen. As daar iets is wat jou psigiese energie uitput, dan is dit juis hierdie spesifieke trouma.

Mense wil nie verwerp word nie, hulle wil aanvaar word. Mense wil nie verag word nie, hulle wil bemin word.

STUKKEND

‘n Stukkende man stap vanaf sy gewese vrou na die paleis van koning Dawid. Hy moet die gedagtes en gevoelens van bitterheid gedurig beveg want hulle kom aanhoudend terug soos die golwe van die see tydens hooggety.

“Dank die Here,” sê hy vir homself. “Nie almal is ontrou soos Batseba nie. Ek kan nog opkyk na my Godvresende koning.”

Kom ons luister na die gesprek wat tussen die koning en Urija plaasgevind het.

2 Samuel 11:7 Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog. Hierna het Dawid vir Urija gesê: Gaan nou maar huis toe en rus ‘n bietjie.” Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog ‘n geskenk agter hom aangestuur.

Volgende keer gaan ons na die tweede en derde groot teleurstellings in die lewe van Urija die Hettiet kyk.

Kan jy raai wie hom nog teleurgestel het?

Ons gaan ontdek hoe hierdie man die drie grootste teleurstellings van die lewe trotseer het. Ons gaan kyk hoedat hy pleks van bitter net beter geword het.

Ons gaan hoor hoe hy tot sy dood aan die Here getrou gebly het.

Watter uitwerking het teleurstellings op jou gehad?

Spreuke 14:10 Net >n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed…

Watter raad het die Woord vir die mens wat toegelaat het dat teleurstellings hom bitter gemaak het?

Efesiërs 4:31,32 Moet nooit verbitterd…word nie…Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

Dis net langs die kruis van Golgotha waar teleurstellings ons beter pleks van bitter maak.  Kom ons bly permanent by die kruis.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles